Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'Adv. Erasmus veg vir Bokke én rugby'

As Rassie Erasmus se bedoeling met sy video oor die blaser Nic Berry was om voor gister se toets met beamptes se kop te smokkel, het hy die kopspeletjies van ’n afrigter astronomiese nuwe proporsies gegee.

As dit uit hulpelose frustrasie was, moet rugby ’n slag sy mond hou en luister en kyk na Erasmus se “voorlegging”.

Bokkie Gerber

Erasmus speel nie vir die paviljoen met sy video nie. Dit was ook nie op die ingewing van die oomblik om ’n steelhoutjie na Berry in te kry en die Bokke se nederlaag so aan die groot klok te hang nie.

Erasmus is in die video in die rol van advokaat. Sy kliënt is rugby en die Springbokke.

Sy getuienis het hy in die video vervat en aan die jurie gewys.

Die getuienis en argumente wat hy vir sy saak aanbied, is gestaaf in beeld – greep vir greep.

Teen die einde van sy argumentering stel hy ’n kardinale punt: Sou iemand ’n soortgelyke tweede video maak wat sou uitwys hoe Berry die Bokke se oortredings tot nadeel van die toerspan oorgesien het, is rugby kniediep in die moeilikheid, want dan is rugby sy geloofwaardigheid kwyt.

Daar sal seer sekerlik diegene wees wat die video as banale sensasie afmaak. Diesulkes laat my dink aan die voormalige Engelse kaptein Will Carling se uitlating op ’n TV-program toe hy na die rugbybase in Brittanje as die 57 old farts verwys het.

Daar sal ook diegene wees wat Erasmus se video oor dieselfde kam sal skeer as sy speletjies met disko-ligte op die dak van die paviljoen in die Vrystaat-stadion toe hy nog daar afgerig het.

Dit is nie. Allesbehalwe.

Waarvoor Erasmus met sy video argumenteer, is die behoud van rugby se siel – of moontlik selfs ’n laaste reddingspoging om te keer dat dit vernietig word.

Daarvoor plaas hy sy “rugbylewe” op die altaar deur reguit en sonder vrees te sê “ek sal loop as dit is wat van my vereis word”.

Die spel is klaar kompleks. Die magte in die spel is selfdienend, wat die struktuur van die spel selfs nog meer kompleks maak.

Albei het ’n besliste invloed op hoe die spel geblaas word.

Uit die persbank het ek as skrywer al vele gruwelikhede deur blasers aanskou. Meer as een keer het ek dan gewonder wat op daardie oomblik in die kop aangaan van die kaptein aan die ontvangkant. Magteloos uitgelewer aan ’n fluitjie.

Sal hy sy span aansê om van die veld te stap?

Dit het nooit gebeur nie.

Maar in die nuwe era, met ’n skeidsregter wat in radiokontak met ander beamptes is – as’t ware sy ander oë en ore om dit vir hom nog meer moontlik te maak om die reëls (reg) toe te pas (en nie die spelers of span nie) – is dit bloot die professionalisme van die spelers en ander betrokkenes wat dit voorkom.

Dalk moes dit destyds in die Wêreldbeker van 2011 se kwarteindstryd gebeur het toe Bryce Lawrence die Bokke se beker-kers uitgeblaas het.

Magteloosheid in rugby het tóé ’n nuwe betekenis gekry.

Erasmus se ervaring was moontlik soortgelyk. Hande morsaf gekap.

Maar Erasmus is van karakter nie een wat hom as gyselaar laat hou nie.

Hy is as afrigter ook al ’n hele paar keer om die blok – meer as die meeste ander breiers op topvlak in wêreldrugby.

Maar daar is ’n tweede kardinale punte in die video-aanbieding waarop ’n mens ag móét slaan.

Sy klem op die woord respek.

“Betoon teenoor ons respek,” is sy vermaning én pleidooi aan die wedstrydbeamptes.

Praat met ons. Luister ook na ons.

Blasers is g’n heilige koeie nie.

Erasmus se video-getuienis wys die beamptes se onwilligheid klinklaar uit. Ook hul lomp kommunikasie om beslissings te regverdig.

Anders as om ná ’n seer verloor bloot net moer te trek oor die blaser se flaters en dan mond uit te spoel oor hy suur is oor die verloor, het Erasmus in sy rol as advokaat ’n briljante en aangrypende saak uitgemaak dat die Bokke dieselfde respek verdien en eis as wat hul teenstanders kry.

Daar is die ou spreekwoord wat lui dat kinders gesien, maar nie gehoor moet word nie.

Rugby volg al vir jare ’n soortgelyke siening dat breiers en kapteins nie oor blasers gehoor moet word nie. Die opdrag is: Shut up!

Vir ’n slag het Erasmus besluit genoeg is genoeg. Rugby se integriteit is ter sprake.

Blasers is g’n heilige koeie nie.

Jy kan Erasmus se video prettig en snaaks vind. Of jy kan dit ervaar en afmaak as blote suurgatgeit. Of die video sal die sintuie stimuleer wat jou laat aanvoel dat rugby as ’n sport – waarin twee spanne regverdig en op gelyke voet meeding – besig is om sy geloofwaardigheid te verloor, of dalk klaar kwyt is oor blasers en lyn- en TV-beamptes wat “op gevoel” blaas en ’n oordeel fel.

Rugby verdien die respek van die spelers én die blasers. Op toetsvlak nog soveel te meer. En reëls is reëls, soos ’n boorvat ’n boorvat is. Jy interpreteer dit nie.

In die plek van Erasmus sê ek dan: I rest my case, your honor.

Meer oor:  Nic Berry  |  Rassie Erasmus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.