Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hond se gedagtes oor assistente

Daar is darem min dinge om ’n man se naweek so te bederf as die Berugte Brisbane-Bottervingers, maar dat oorwinnings in die Queenslandse hoofstad moeilik is vir besoekers, ly min twyfel. Die versoeking is daar om oudergewoonte grappies te maak oor natgeswete balle, maar die uwe het sy arme honde pas weer tuin toe verwilder met ’n paar luidkeelse drieletterwoorde.

Die arme goed raak al by voorbaat senuweeagtig as daar rugby op TV is.

Daai Facebook-herinneringe van ’n paar jaar gelede het my verlede week daaraan herinner dat ek net mooi vyf jaar terug ’n Springbok-toetsoorwinning in Brisbane gesien het ná vyf dragte slae daar vantevore, so verwagtinglose blymoedigheid was uit die staanspoor die regte ingesteldheid om mee in te skakel.

Met ’n skrale jaar oor voor die Wêreldbekertoernooi in Japan, het Rassie Erasmus stellig steeds meer vrae as antwoorde. Om die Springbokke af te rig, is net-net makliker as om Suid-Afrika te regeer. As Erasmus niks met hulle kan uitrig nie, twyfel ek of enig­iemand anders kan.

  • Dan troos ek myself daaraan dat nog ek, nog die meeste ander mense in September 1994 of September 2006 enige hoop gehad het dat Bok se kind die beker kon wen. Helaas, natuurlik ook nie juis in September 1998, September 2002, September 2010 of September 2014 nie . . .

                                                                                      * * * * *

Van die os op die esel, die grootste rugbynuus verlede week was die brokkie dat die Luxemburgse CVC Capital Partners, die grootbase van Formule 1, dalk die Engelse Premierliga gaan oorneem. Dit sal CVC glo ’n stywe R5,4 miljard uit die sak jaag, maar dis vir hulle kleingeld nadat hulle die afgelope dekade reeds meer as R150 miljard uit motorsport gemaak het

Die Engelse klubs is byna almal kniediep in die skuld en sal elkeen R335 miljoen kry uit die transaksie.

Dié bedrae laat ’n mens se oë traan. Insiggewend ook dat jy eersterangse Engelse klubrugby kan koop vir ’n derde van Formule 1 se jaarlikse wins. Dit wys hoe ver rugby nog het om te gaan voordat dit werklik onder die wêreld se groot beroepsporte getel kan word.

  • Dat groothonde soos CVC daarin belang stel om hul kleim in die sport af te steek, getuig natuurlik ook daarvan dat die sport se huidige administrateurs min tot geen benul het van hoe om geld daaruit te maak nie.

                                                                                      * * * * *

Dit sal álles verander. Engelse klubrugby sal mettertyd die status van Engelse klubsokker begin kry en ons weet almal hoe sleg internasionale sokker by dié afsteek.

Die legendariese Bok-kaptein Hennie Muller het sy biografie Tot Siens to Test Rugby genoem en, waar toetsrugby nog ’n hele ruk die standaard in die sport sal stel, sal ’n skat­ryk Engelse Premierliga dié toedrag van sake oor die volgende dekade of twee onherroeplik verander.

Die beste jong Suid-Afrikaners en Nieu-Seelanders sal mettertyd, soos Brasiliese en Argentynse sokkerspelers, selde in hul eie lande te siene wees – nie eens die All Black-trui is bestand teen R5,4 miljard nie.

In sokker het die klubs se meerderwaardigheid verlede week daartoe gelei dat die Deense Sokkerfederasie hittete genoop is om vandag met ’n span amateurs en futsal-spelers teen Wallis te speel ná ’n dispuut oor individuele handelsregte. Dié geskil is intussen bygelê, maar dat dié soort ding meer algemeen gaan raak, ly min twyfel.

  • Nou vra ek met trane in my haselbruin oë: Met die kommersiële Filistyne op ons, is die weleerwaarde klomp omies aan die roer van ons outydse provinsies werklik die beste mense om vorentoe die groot besluite te neem?

                                                                                      * * * * *

Lees verlede week die oulike storie van ’n rondloperhond genaamd Tesapara wat lid geword het van ’n tweedeliga-sokkerklub in Paraguay se afrigtingspan.

Tesapara het lankal by Club Sporting 2 de Mayo in die vullisblikke gesnuffel, maar sedert die nuwe bestuurder, Carlos Sa­guier, haar ’n stukkie empanada gevoer het, is sy pal aan sy sy.

Saguier noem haar sy assistent-bestuurder.

Tydens wedstryde is Tesapara in die bestuurder se tegniese area en sedert sy aan boord is, skop die klub nogal hot en bles gaaie, met ’n plek in die eerste liga aanstaande seisoen skielik glad nie meer so vergesog nie.

Synde self die mens van twee lieflike basterbrakke wat deur ander weggegooi is, is dit effens hartvermurwend, maar g’n so ’n verrassing nie. Kyk, ek het al heelparty assistent-afrigters ontmoet met minder tussen die ore as my Ketter en Lola.

  • Wat my toe laat dink: Ek het ook ’n goue apporteerhond. Hy heet Mike en hy is nou éérs vir jou slim; in sy geval het ek al dommer Superrugby-afrigters ontmoet. Is daar dalk ’n joppie vir hom iewers?
Meer oor:  Rassie Erasmus  |  Bokke  |  Springbokke  |  Formule 1
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.