Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Bok-wen min om lyf, maar musiek bekoor!

’n Wen is ’n wen, ou pel, het ’n Springbok my jare gelede toegesnou ná ’n bra beteuterde oorwinning. Jip, natuurlik, was my antwoord, en ’n k** wen is ’n k** wen. Daarop had hy nie regtig ’n antwoord nie.

Hoe relatief dinge op die toetsrugbytoneel kan word, is gister mooi geïllustreer toe al die pelle om my vleisbraaivuur so effentjies suurder was oor ’n 50-punt-oorwinning oor Namibië as oor ’n tienpunt-nederlaag teen die All Blacks ’n week tevore.

In dié stadium van ’n Wêreldbekertoernooi is daar egter selde rede tot kommer.

Vier jaar gelede was daar omtrent ’n geween en ’n gekners van tande nadat Japan die Bokke geklop het, maar dit word selde onthou dat dié einste Bok-span met twee skrale punte deur Nieu-Seeland uitgeknikker is in die halfeindronde.

Wel, gelukkig is dit vandeesweek Dublin se beurt om só geskok te wees. Erger nog – die Bokke het Japan destyds nie ernstig genoeg opgeneem nie, terwyl Ierland dit sekerlik dié keer gedoen het.

Daarmee is al die bogpraatjies oor sogenaamd makliker en moeiliker paaie eindstryd toe hopelik stilgemaak. Nadat Ierland gister ge-Brighton is, is daar skielik ’n goeie kans dat hulle tóg in die kwarteindronde teen Nieu-Seeland te staan sal kom en die Bokke derhalwe ’n sogenaamd makliker kwarteindstryd sal kry as beloning vir hul nederlaag teen die All Blacks.

  • Dat Japan ná ’n vroeë bloedneus daarin kon slaag om Ierland oortuigend onder te sit, vertel jou egter dat daar nie sommer goed soos maklike kwarteindstryde is in ’n kompetisie met meer as agt mededingende spanne nie.

*****

In 2011 was daar omstredenheid oor die Bokke se oorwinning oor Wallis in die groepfase. ’n Hemelhoë Walliese skepdoel is so hoog oor die pale verby dat dit nie toegeken is nie, tot die verstaanbare ontsteltenis van die verloorspan.

Maar ás daardie skepdoel toegeken is en Wallis die groep gewen het, sou die Bokke ’n veel makliker paadjie eindstryd toe gehad het as wat toe wel die geval was.

Kitch Christie was in 1995 reg met sy “high road”- of “low road”-vooruitsigte vir die toernooi, maar dit geld gewis nie elke loting nie.

Vanjaar se WB-toernooi is maar die sesde sedert rugby ’n beroepsport geword het. Dit beteken alle praatjies oor dinge wat kwansuis nog nooit in ’n Wêreldbekertoernooi gebeur het nie, is heeltemal irrelevant.

Ja, niemand het nog ’n Wêreldbeker gewen nadat hulle ’n wedstryd verloor het nie, maar die toernooi is deesdae aansienlik meer mededingend as in die vroeër jare.

En Engeland (in 1991 en 2007) en Frankryk (in 2011) het in elk geval reeds bitter naby daaraan gekom om dit te doen. Daar is ’n eerste maal vir alles, veral oor drie dekades in ’n vierjaarlikse toernooi in ’n dinamiese sport. Bêre liefs die kristalbal nog ’n week of twee.

  • Laat ’n man egter nie doekies omdraai nie – daai kristalbal sê in dié stadium die All Blacks. Maar jy het darem nie die gawe van profesie nodig gehad om hulle tot gunstelinge te verklaar nie. Dit beteken natuurlik nog lank nie dat hulle wéér die dêm ding gaan wen nie.

*****

Gister se Bok-toets het nou nie juis veel stof tot nadenke gebied nie, maar ek was darem verlig toe ek hoor die Japanners speel Black Sabbath en Faithless as die horlosie stilstaan tydens ’n spelonderbreking.

  • Kan ons nie groot asseblief ’n paar Japanners kry om vir die musiek te sorg by Suid-Afrikaanse rugbystadions ook nie?

“Finished with my woman ’cause she couldn’t help me with my mind” gaan nou maar eenmaal beter af as “Oe-oe-oe my bokkie; vir jou gaan ek lekker sokkie” vir dié van ons wat nie blikke vir ore het nie.

*****

Toe Suid-Afrikaanse rugby vroeër hierdie eeu klippe kou, het my lank versukkelde geliefde Barcelona skielik in sokkertowenaars verander.

Dit het darem daarvoor gesorg dat ek die meeste Saterdae vrolik afgesluit het.

Gister lig Facebook my in dat ek 12 jaar gelede gereken het dis lekker om te sien hoe klein Lionel Messi die beste speler ter wêreld word.

Deesdae kyk ek die Springbokke om van Barça te vergeet.

Messi is stellig steeds die beste speler ter wêreld, maar dis afdraand hiervandaan en die klub se indoenas het g’n ander plan nie.

Hulle praat van Messidepedencia, want sonder hom is Barcelona min of meer die helfte swakker. Maar nou kom die geneuk dat hy glo op voorkeurbehandeling vir sy tjommies aandring en niemand meer vir hom durf nee sê nie.

Die gevolg is ’n onsamehangende groep spelers, wat deesdae klippe kou in feitlik elke wegwedstryd en net op Camp Nou veel hond haaraf maak.

  • En nou moet ek die gespot sluk van almal met wie ek genadeloos was tydens Barça se goue jare.

Jip, dis die lewe van ’n ondersteuner.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.