Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis tyd om ‘lui’ uit SA sokkerlui te haal

Kyk, die lewe van ’n beroepsport­afrigter is een van voortdurende druk. Party mense moes liewer nooit daarvan gedroom het nie; ander floreer, maar feit bly dat daar meer as 10 bedankings vir elke afdanking is.

Hopelik besiel die voormalige Sundowns-afrigter Pitso Mosimane spelers om weer op internasionale vlak uit te blink. Foto: Gallo Images

Sommige ondersteuners ruk natuurlik die agterent uit die hoender by die geringste teken van teëspoed. Verlede week kom ek toevallig op ’n Egiptiese sokkerwebwerf af waar Mido, eens van Tottenham, Roma en Al Ahly, vol lof is vir Pitso Mosimane se werk by laasgenoemde.

Hy verduidelik dat Mosimane die Egiptiese kampioen die Duitse kuns van Gegenpressing geleer het – dis dieselfde verdedigingstyl waarmee Jürgen Klopp vir Liverpool min of meer uit die dode laat herrys het.

Seg dieselfde berig Mido het ’n paar van sy oudkollegas hierin teëgegaan. Ander oudspelers van Al Ahly, soos Ahmed Belal, Mohamed Shawky en Ibrahim Hassan, wil niks van die Suid-Afrikaner weet nie. Hassan reken nog­als enige span sou hom ná twee wedstryde afgedank het.

Lees ek verder: In die 18 wedstryde sedert Mosimane hulle afrig, het Al Ahly 16 gewen en twee maal gelykop gespeel. In dié tyd het hulle die Egiptiese Premierliga, die Egiptiese Beker en die Afrika-Nasiebeker gewen. Tans is hulle boaan die Egiptiese puntelys.

Praat van met min tevrede!

Dis deesdae redelik raar dat Suid-Afrikaanse sokkerlui elders veel uitrig, maar Percy Tau, wat self van sy beste sokker onder Mosimane by Sundowns gespeel het, het verlede week ’n puik debuut vir Brighton gemaak. Hy is die eerste Suid-Afrikaner sedert Steven Pienaar in 2016 wat in die Engelse Premierliga speel.

Van Bafana Bafana se Afrika-kampioenspan het Lucas Radebe, Chippa Masinga, Eric Tinkler en Mark Fish destyds ’n draai in die Engelse Premierliga gaan gooi, met Quinton Fortune, Benni McCarthy en Pienaar wat later op dié verhoog uitgeblink het.

  • Kinders glo ’n mens nie meer as jy sê Bafana was eens op ’n tyd goed nie. Hopelik besiel Mosimane en Tau ’n nuwe geslag breiers en spelers om ook hoër te mik en hul talent op ’n groter verhoog uit te stal. Wie weet, dalk haal hulle die “lui” uit Suid-Afrikaanse sokkerlui.

Breinloos

So van sokkerspelers gepraat – die Britse LP Julian Knight het Engelse sokkerspelers verlede week gekasty omdat hulle nog doele vier in hierdie tyd van pestilensie. “Breinloos,” het hy hulle genoem.

Knight is ’n Tory. “Breinloos” is ’n goeie opsomming van dié party se reaksie op Covid-19. “Breinloos” blyk ook al te veel in die kol te wees as ’n mens dié party se Brexit-manewales moes gade slaan. Persoonlik dink ek amper elke Boris Johnson-akoliet is waarskynlik minstens halfpad breinloos.

Knight is tien jaar jonger as ek en lyk 15 jaar ouer, so ’n dik padda wat feitlik vir seker nog nooit ’n doel in sy lewe geskiet het nie en nie die vreugde daarvan ken nie. Anders as, sê, Marcus Rashford, wat die einste Tory-regering op 23-jarige leeftyd so te sê gedwing het om honger skoolkinders tydens die pandemie kos te gee.

Ja, sportmense word belaglike bedrae betaal, maar om hulle klokslag uit te sonder vir goedkoop politieke punte, is belaglik.

Natuurlik is die gemiddelde verpleegster ’n groter bate vir die samelewing as die gemiddelde sokkerspeler. En is die gemiddelde verpleegster se salaris ’n yslike skande.)

  • Maar ek sou my verstout om te sê mediamagnate of bestuurskonsultante is byvoorbeeld veel minder werd vir die samelewing as sokkerspelers, maar hulle maak veel meer geld.

Stop die gesanik

Het self verlede jaar eers begin MotoGP kyk in die tyd van Brad Binder en die grendelstaat, maar ek weet darem nog altyd van Valentino Rossi. Was effens verbaas dat hy op 41-jarige leeftyd heel gelate 15de op die wêreldranglys pryk, maar as hy dit geniet, hoekom nie?

Wens dus die alewige gesanik oor Serena Williams wat moet uittree, wil end kry. As groot ondersteuner twyfel ek sterk of sy ooit weer ’n Grand Slam-toernooi gaan wen, maar as jy nié van haar hou nie, om welke rede ook al, kan jy jou immers dáárin verlekker terwyl ons ondersteuners duim vashou.

Jy hoef nie te kan sing om ’n ander se vals note te hoor nie, maar Williams se knaende kritici het nooit naastenby haar hoogtes bereik nie.

Ion Tiriac, ’n outydse Roemeense seksis, het anderdag gal gebraak oor haar gewig, asof sy tennis speel om mooi te lyk.

  • Tiriac spog self met ’n Grand Slam-titel. In die Franse Ope van 1970. In dubbels. Ek twyfel of veel ondersteuners destyds omgegee het oor sy uittrede, al dan nie. Maar ek wens Serena vanjaar met ’n seer hart ’n Slam toe, deels omdat ek wil hê die ou vent moet in sy snor stik.
Meer oor:  Serena Williams  |  Pitso Mosimane  |  Sokker  |  By Die 19De
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.