Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moenie ons Bokke op geld-altaar offer
Springbokke
Suid-Afrika vier sy titel in die Rugbykampioenskap in 2019. Foto: Getty Images

My hede is die koerant se eergisteraand. Dis vroeg lente, ons het varktjops gebraai en ek het vanmiddag só hard voor die TV sit en tjeer dat die bouers elders op die erf my bo-oor hul elektriese bore en trance-musiek kon hoor.

Die laaste keer dat sport my só laat raas het, was toe die Bokke die Wêreldbeker gewen het, maar nou hou ek maar so half duim vas dat ek dié eers weer in 2021 sal kan sien speel.

Pla my lank, die fisieke inspanning wat ons rugbybase, hul TV-base en, uiteindelik, ons per jaar van jongmense vereis om ons Saterdagmiddae een of ander soort ontwykende betekenis te gee.

Dylan Hartley, die hardekwas gewese Engeland-kaptein, het onlangs gesê sy geslag spelers was “crash test dummies”, terwyl die sport se nuwe, professionele base op die winsgewendste manier probeer uitvind hoeveel stampe en stote die menslike liggaam moontlik in langer as 11 maande kan verduur.

Asseblief tog, SuperSport, daar’s sweerlik genoeg in jul kietie om te keer dat ons Springbokke kanonvoer in ’n onbekookte toernooi moet wees.

Ek staan graag Saterdagoggend vroeg op om ’n begeesterde Bok-span te sien speel, maar nie as ek vooraf weet hulle staan g’n kat se kans nie.

Dis ons kampioene, moet hulle nie aan ’n belaglike oormag blootstel en hulle hul mojo laat verloor om den brode nie. Daar’s g’n manier dat Suid-Afrika vanjaar met Nieu-Seeland sal kan meeding op die rugbyveld nie.


    Vir sowat ’n kwarteeu is die Spaanse Liga Primera my amper private sportplesier – niemand wil daaroor met jou stry nie, hulle is te besig om die Engelse te kyk.

    Vir die grootste gedeelte daarvan was die Spaanse sokker egter beter, soos Europese uitslae indertyd gemaklik bewys.

    Maar waar Engelse sokkerbase die wêreld laat glo het hul produk is die beste, het hul Spaanse eweknieë nog maar selde daarin geslaag om die wêreld se aandag aan te gryp, grotendeels danksy powere bestuur.

    Vrydagaand was niemand nog seker wanneer watter wedstryde van La Liga se openingsnaweek gespeel sou word nie. Die aand dat dit veronderstel was om af te skop.

    Engelse sokkersake is in orde, maar geesdriftige toeskouers is die helfte van die Premierliga se bekoring.

    Een van die naweek se hoogtepunte was die kampioen, Liverpool, se tuiswedstryd gister teen die pas bevorderde Leeds.

    Leeds se gevierde bestuurder, Marcelo Bielsa, het nogal gesê: “Ons gaan op Anfield speel. Maar Anfield is net Anfield as dit vol is.


      Varktjops, ’n mooi sonsondergang en die feit dat La Liga se wanbestuur my geensins persoonlik raak nie, het my gelukkig gehou.

      Maar iewers hierdie naweek gaan ek my waarskynlik in ’n berig vasloop oor die stryd tussen Soska-, askies, Saskok en Krieket Suid-Afrika en hopelik ’n lang oorlye mentor se lewensles onthou dat jy nooit tussen k*k en st**nt moet kies nie.

      Iewers die naweek gaan ek waarskynlik deur nog ’n passief aggressiewe nuusverklaring van die WP se rugbypresident, Zelt Marais, wurg en daarmee probeer vrede begin maak dat ek dalk eers oor ’n dekade weer ’n ordentlike rugbyspan in die Kaap tuiswedstryde sal sien speel.

      So, gelukkig is daar die Tour de France.


        Sedert ek as pikkie Claire Huchet Bishop se Die wye draai by die Bonnievale-dorpsbiblioteek uitgeneem het, fassineer dié my soos min ander dinge.

        Die skouspel is nie elke jaar ewe opwindende kykstof nie, maar Vrydag s’n het onderstreep dat vanjaar se Tour die sporthoogtepunt van die jaar met bloedweinig hoogtepunte is.

        Die 13de skof het vir meer as 190 km gestrek van Châtel­Guyon af na Puy Mary met sewe gegradeerde klimme, waarvan die laaste vyf uitmergelende kilometers teen ’n bult met ’n gradiënt van 15% was. Teen dié steilte het die Colombiaan Dani Martinez en die Duitser Lennard Kämna mekaar beurtelings verbygesteek voordat eersgenoemde die skof­louere teen ’n stadige 23 km/h beklink het.

        Agtertoe het Primož Roglic se Jumbo Visma-span die pap in die bondel sodanig dik aangemaak dat die Sloween nie net die geel trui behou het nie, maar heel moontlik ook van al sy vernaamste teenstanders ontslae geraak het.

        Die kampioen, Egon Bernal, het sy moses teen Puy Mary teëgekom, terwyl al Frankryk se oorblywende hoop om ’n eerste Tour-kampioen sedert 1985 te lewer, hulself vroeër poendas merdes geval het en vandeesweek Parys toe sal hinkepink.

        Die grootste vreugde van vanjaar se Tour is egter nie die opwinding nie, maar dat dit soveel soos gewone jare voel.

        Ja, daar’s minder toeskouers, maar hulle is geesdriftig en selfs die jaarlikse verspotte Duitser in die duiwelpak het al sy vurk vir die fietsers langs die pad gewaai.

        Maar ’n erge tweede vlaag koronavirusinfeksies teister Frank­ryk tans en die Tour kan nog gekanselleer word.

        So, terwyl hulle teen die Alpe aftjop, is my grootste versugting vandeesweek dat die blêddie resies net seblief volgende Sondag op die Champs-Élysées klaarmaak.

          Meer oor:  Ksa  |  Tour De France  |  Springbokke  |  Liverpool  |  Saskok  |  La Liga  |  Leeds  |  By Die 19De
          MyStem: Het jy meer op die hart?

          Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

          Ons kommentaarbeleid

          Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

          Stemme

          Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.