Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
By die 19de: ‘Volgende naweek’ nou Barca-mantra

’n Jaar of 20 gelede was Barcelona nie ’n watwafferse sokkerspan nie. As ek ’n ou iewers sien stap het in hul trui, het ek gaan kennis maak. Dit het amper nooit gebeur nie; die Spaanse sokkertoneel is destyds deur Real Madrid en Valencia oorheers.

Lionel Messi

Die verrotting het voortgegaan totdat Joan Laporta in 2003 tot klubpresident verkies is. Hy’t ’n paar groothonde na die klub gelok, manne soos Ronaldinho, Deco en Samuel Eto’o, maar die eintlike geheim van hul yslike sukses vir ’n raps meer as die volgende dekade was die pikkies uit hul befaamde sokkerakademie, La Masia.

Dit was ’n geslag sterre soos g’n ander klub voorheen op een slag gelewer het nie – Xavi, Puyol, Valdes, don Andrés Iniesta, Pique en uiteraard Lionel Messi , moontlik die beste sokkerspeler tot nog toe.

Selfs die gelukkigste ondersteuner het besef dinge kon nie so voortduur nie, maar die klub se agteruitgang sedert Pep Guardiola in 2012 daar vort is, was styl. Hy was La Masia se heel eerste jeugproduk en het die klub se siel begryp soos geen ander nie.

Sukses kweek gereeld selfvoldaanheid en Barcelona was nie hierteen te vrywaar nie.

Aanvanklik het die beplanning goed gelyk – Guardiola se tweede-in-bevel en self sokkerbrein duisend, Tito Vilanova, sou die projek verder bestuur. Maar toe hy aan kanker sterf, was daar chaos – die klub het sedertdien reeds ’n halfdosyn bestuurders aangestel en twee derdes van hulle afgedank.

Vanjaar gaan die klub, soos verlede seisoen, waarskynlik g’n beker buit nie. Vir ’n span wat waarskynlik dié grootste kanonne in klubsokker was, is dit amper ongehoord. En pynlik eenders as 20 jaar gelede.

Die finansiële sy van sake is net so ’n gemors as destyds.

Barcelona het verlede jaar groot gebrêg met sy bruto inkomste van $1 miljard, die eerste sokkerklub tot dusver om dié kerf te haal. Oeps – nou die dag moes die owerstes met die hele sak patats vorendag kom: die klub skuld meer as $1,2 miljard en daarvan moet $720 miljoen binnekort betaal word.

Watwou ryk – die klub wankel op die rand van bankrotskap.

Ewe skielik word Messi se salaris toe ook uitgeblaker: hy verdien meer as $36 miljoen per jaar. En amper die helfte soveel aan bonusbetalings. Eensklaps was die wêreld die wetter in vir Messi. Die Argentyn, nie geseën met ’n sprankelpersoonlikheid nie, is wyd en syd vir sy gierigheid gekritiseer.

Maar hokaai, stop die bus.

Enigiets wat Messi aan die klub verskuldig was vir sy opvoeding en grootwordjare het hy meer as ’n dekade gelede terugbetaal. Die klub het in sy 121 jaar altesame 93 bekers gewen, maar hiervan was ’n yslike 33 oor die afgelope anderhalwe dekade, met die klein Argentyn in die tuig.

Sonder hom was FC Barcelona steeds ’n onderpresterende, effens tweederangse entiteit met lang stories oor die verlede. Dis danksy Messi dat jy deesdae Barcelona-truie op amper enige straat in die wêreld sal aantref.

As die klub nie destyds so na aan bankrotskap was nie, is hy waarskynlik jonk elders gesmous. Nou hou ons culés styf duim vas dat die huidige versukkeldheid dalk die voorspel tot ’n nuwe goue era is – daar is só min geld in die beursie dat daar g’n ander opsie is as om La Masia se jongelinge kans te gee nie.

  • Dalk kry Messi vir oulaas kans om die legende te laat groei deur ’n klomp laaities na wasdom te lei. Waarskynlik nie. Maar die vreugde van sport is dat ’n man darem altyd oor volgende naweek moet kan droom.

Ploerte

Dis so half die geneuk met ons krieket – die vermoede dat dinge volgende naweek nóg vrotter kan gaan.

Die onverkwiklike waarheid was seker lankal vir die meeste van ons duidelik – die sogenaamde Drie Grotes gaan maak net wat hulle wil en die res biedêm. Is dit eens die Drie Grotes? Wêreldkrieket begin my te lyk na Een Moerse Reus, Twee Grotes en die Res.

Die Reus maak en breek letterlik nes hy lus is. Die skokkende kolfblad wat vir die derde toets teen Engeland in Ahmedabad voorberei is, het gemaak dat die toets binne twee dae finish en klaar was. Nie eens twee van die sterkste kolflyste op aarde kon enige hond haaraf maak daarop nie.

Die gevolge vir Engeland is dat hy nie in die Internasionale Krieketraad se toets-eindstryd sal kan speel nie.

Die gevolge vir Indië? Niks nie. Indië maak wat hy lus is, Australië en Engeland weet maar alte goed watter kant hul brood gebotter is en die res staan met bedelbakkies en dankie sê vir die geringste ou toegiffie.

Die onlangse kansellasie van die Aussie-toer hierheen is, helaas, hoe dit al meer voortaan gaan wees.

Watter jammerte dat ons in hierdie dae sulke ploerte as krieketadministrateurs het.

  • Baie toetse teen Bangladesj en Ierland is ons voorland. O wel, dit beteken darem beter Protea- kolfgemiddeldes . . .
Meer oor:  Krieket  |  Lionel Messi  |  Sokker  |  By Die 19De
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.