Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Cacofonix se wysheid geld vir Baai se orkes

Ek dag Schadenfreude is ’n dorp in Neder-Sakse, maar toe verloor Engeland twee rugbytoetse in ’n ry. Om die grynslag so nou en dan van Eddie Jones se bakkies te sien verdwyn, sal darem menige hart kan vermurwe. En in Parys was daai grynslag nêrens te sien nie.

Sowel die nederlaag teen die Hane as dié teen Skotland twee weke tevore kan gewyt word aan Engeland se onvermoë by die afbreekpunt. Nes sy vriend en kollega Jake White glo

Jones ’n “fetcher” is veronderstel om sy bier aan te dra op ’n Sondagmiddag, maar dis nou twee Saterdagmiddae dat Skotse en Franse “fetchers” Eddie se Wêreldbekerbeplanning aan puin gelê het met vaart en vuur.

Eddie het glo sy oog op ’n pos met die Britse en Ierse Leeus gehad, maar nadat hy vandeesweek soos gerapporteer na die Iere verwys het as “skuim” en Wallis as ’n “k*k ou plekkie”, is die toer na Suid-Afrika in 2021 hom sweerlik nie beskore nie.

  • Synde ’n Aussie, is dit nogal dik vir ’n daalder vir Jones om die Iere “skuim” te noem. Die meeste vroeë Australiese setlaars was immers aanvanklik Iere wat met die gereg gebots het; dis hul voorbeeldiger familielede wat in Ierland agtergebly het . . .

*****

Dit alles in ag genome, rek my oë as ek lees watter goeie nuus die Engelse gesukkel dalk vir die Springbokke is. Toegegee, spelers soos Maro Itoje-hulle se tonge hang duidelik ná verlede jaar se Leeus-toer, waarna daar min herstelkans was.

En die wenmomentum wat hulle met Jones gebou het, is behoorlik daarmee heen. Jones het sommer verlede week te kenne gegee hy twyfel of hy hul losskrumprobleme voor die Wêreldbekertoernooi sal kan uitsorteer. Dis darem omtrent ’n groot gemors as jy dit nie binne 17 maande kan regruk nie!

Daar word nog altyd geskinder dat Jones se doepa twee seisoene lank werk voordat die spelers daarvan keelvol raak en nie meer daarop reageer nie. Nou ja, dis nou sy derde seisoen by Twickenham en dinge lyk g’n meer so blink nie.

  • Maar vir enigiemand wat reken die Bokke is skielik gunstelinge as die Poms in Junie kom toer, net dit: Al enige Superrugby gekyk? So gedag, ja.

*****

Met alles wat in die wêreld skeefloop, was ek nogals verbaas oor hoe briesend dit my gemaak het dat die skeidsregters in die tweede kriekettoets in PE verlede naweek die orkes stilgemaak het.

Nou ja, ná al die jare voel ek self die manne kon darem sweerlik teen dié tyd hul repertoire aansienlik uitgebrei het, maar ’n leeftyd langs Suid-Afrikaanse sportvelde het my darem ook geleer dat ’n yslike gedeelte van my landgenote eintlik net dieselfde wysies oor en oor wil hoor.

As ek ’n rand gehad het vir elke keer dat ek “Nkalakatha” by die rugby moes hoor, het ek vandag langs die strand gelê en nie aan hierdie rubriek sit en werk nie.

Ewenwel, die drie deuntjies wat die PE-orkes met onblusbare geesdrif blaas, is iets unieks aan krieket in die Baai. En met toetskrieket reeds in allerhande soorte verknorsings in hierdie era van kitsbevrediging, is suurgat toffieneus-skeidsregters die allerlaaste ding wat die sport kan bekostig.

  • En oor die orkes voel ek min of meer seker soos Asterix en Obelix in die strokies oor die vals sanger Cacofonix gevoel het – dis ’n onheilige, eentonige lawaai, maar dis óns eentonige lawaai. Waar kom die skeidsregters aan dié aanmatiging?

*****

As jare lange ondersteuner van die Barcelona-klub beklee Pep Guardiola ’n besondere plek in die uwe se panteon van helde. Hy was naamlik ’n vooraanstaande speler in dié klub se eerste ware topspan in der jare en daarna boonop die suksesvolste bestuurder in Barcelona-geskiedenis.

Dat hy ’n vreemde karakter is, ly min twyfel.

Toe die verdediger Gerard Piqué destyds met die sangeres Shakira begin uitgaan, het Guardiola glo sommer ’n privaat speurder op hul spoor gesit om te kyk of Piqué nie ’n onrehabiliteerbare pierewaaier word nie.

Piqué en Shakira is deesdae getroud met twee kinders – om die waarheid te sê, lyk Piqué na ’n toekomstige klubpresident. Sy uitgesproke ondersteuning vir Katalaanse onafhanklikheid maak dit selfs meer waarskynlik.

Dis nou einste oor Katalaanse onafhanklikheid dat Guardiola in die sop was by die Engelse FA. Hy het naamlik ’n geel lintjie gedra ter ondersteuning van Katalaanse vryheidstryders wat sonder verhoor in Spaanse tronke gesmyt is. Die FA sê aikôna vir enige sodanige politieke gebaar.

  • ’n Man wil-wil hom wip vir die FA se stiksienigheid, maar dan vra die vraag homself: As Guardiola so beginselvas is, hoe op aarde trek hy elke maand met ’n ompad ’n salaris by die Verenigde Arabiese Emirate? Aanhouding sonder verhoor is ’n vulletjie teenoor wat Guardiola se werkgewers alles aanvang met andersdenkendes. Waar’s hul geel lintjie dan?
Meer oor:  Louis De Villiers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.