Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Sakemanne’ voel vere vir balspeletjies

Sit ek gister so die Bledisloe-optog in Auckland en kyk en wens Beauden Barrett was Suid-Afrikaans toe my gedagtes begin dwaal.

As Barrett natuurlik by een van ons groter skole was waar die wen-druk vir ewig hemelhoog is, was die kans natuurlik amper nul dat hy sy verbeelding en spontaneïteit natuurlik sou kon ontwikkel. Hy sou volgens instruksies leer speel het of B-span gespeel het.

Was hy nie op ’n sogenaamde rugbyskool nie, was sy kans om op die jeugweke te speel natuurlik des te skrapser. Dis hoe baie van ons talent verdwyn. Het hy daarna nietemin die lang pad boontoe gevat via Varsityrugby, Curriebekerrugby en Superrugby en ook al die slaggate daar gesystap, was hy een van die gelukkiges; via klubrugby sou die pad jare langer neem.

Die sprong in gehalte van ’n Nieu-Seelandse Superrugbyspan na die All Blacks is nie so groot as in Suid-Afrika se geval nie. Waar drie of vier van hul Super-spanne amperse toetsgehalte is, is drie van ons s’n meestal treurig.

In Nieu-Seeland is Barrett sedert 2012 op heelagter en reserwe-losskakel ná die groot Dan Carter op toetsvlak touwys gemaak. In Suid-Afrika was daar nog maar selde sulke vooruitbeplanning of die kans daarop.

So kom ek toe tot die gevolgtrekking dat daar feitlik g’n kat se kans was dat Barrett ewe veel hond haaraf sou gemaak het as hy uit Mosselbaai gekom het eerder as New Plymouth nie. Dis nogal ’n neerdrukkende affêre.

  • As jy nóg dieper wil sug oor dié toedrag van sake, kan jy boonop daaroor tob dat daar in Nieu-Seeland tot voor gister hard gestry is oor of Barrett nog altyd beter is as Richie Mo’unga. En Damian McKenzie wag ook daar iewers. En Lima Sopoaga en Aaron Cruden is boonop oorsee . . .

*****

Dit gaan maar swaar op Old Trafford. Manchester United, die wêreld se gewildste en rykste sokkerklub, het verlede Sondag sy watsenaam gesien teen die onbesonge Brighton Hove & Albion in die Premierliga en, as die Rooi Duiwels môreaand teen Spurs vasval, beloof hul seisoen om nog morsiger te raak.

Ed Woodward, die uitvoerende ondervoorsitter, en José Mourinho, die bestuurder, is in mekaar se hare oor die min inkopies wat Mourinho in die afseisoen toegelaat is. Woodward sê, nie sonder rede nie, dat Mourinho al genoeg deur sy alie getrek het die afgelope twee jaar.

Mourinho sê, nie sonder rede nie, dat Woodward nie kan verwag United moet sy “noisy neighbour”, Man City, inhaal sónder om geld uit te gee nie.

Die sokker wat hulle opdis, laat ’n man se melk merendeels rens word; die Mourinho-styl is allermins dié wat ondersteuners lok en United se tradisie vereis ’n minimum mate van aanskoulikheid.

Ondersteuners raak bekommerd.

Dit gaan vrot op die veld, in die kleedkamer, in die raadsaal, maar raai – dit gaan uitstekend op die aandelebeurs. United-aandele het Dinsdag tot £18,50 geklim – die hoogste nog – wat jou oë sal laat traan met die klub se waarde nou op ’n allamagtige £3,1 miljard.

Die Amerikaanse Glazer-familie, wat United besit, is nie sokkermense nie, maar dié klub laat hulle en hul aandeelhouers heelpad bank toe skaterlag. Solank United in die boonste vier plekke van die Premierliga klaarmaak, gee die Glazers vir niks anders as die aandeelprys om nie.

  • Dié dat ek altyd my kop moet skud as ek knaend die gepraat hoor oor hoe die leisels van sport oorhandig moet word aan “die sakemanne”. “Die sakemanne” voel eintlik vere vir jou balspeletjies, Boet; hulle stel net in een grafiek belang en daai ene gaan by United net reguit boontoe.

*****

Bygesê, “die sakemanne” sou op groot skaal moes aanjaag om rugby in ’n groter verknorsing te plaas as wat dit is.

Met verlede week se toets in Durban was die stadion só leeg dit het ’n man nostalgies gemaak vir die dae toe groot rugby in dié hawestad amperse bysaak was vir Saterdag se yslike makietie op die velde buite om Kingspark.

Daardie dae is duidelik vir goed verby. Paviljoene raak wêreldwyd leeg en in feitlik alle beroepsporte is TV nou koning. Meer as die helfte van Engeland se Premierliga-klubs sou glo wins maak al het g’n enkele toeskouer by hul tuiswedstryde opgedaag nie!

Dis natuurlik ’n dramaties ander toedrag van sake hier by ons rugby – leë paviljoene maak leë beursies en ons rugbyunies trap hom diep in die rooi.

As jy Manchester United of Real Madrid is, kan jy daarmee wegkom, maar die Curriebeker se Eerste Liga het nie kykers in Asië om die gate toe te stop nie.

  • Hopelik is vanjaar die allerlaaste keer dat ons grootste rugbyprys só ’n afgewaterde nagedagtetjie is.
Meer oor:  Auckland  |  Beauden Barrett
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.