Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Verlore stryd teen oorsese rugbyklubs

Die waarde wat Willie le Roux en Faf de Klerk tot die Springbokke toevoeg, is die afgelope naweek opnuut geïllustreer, met die span se ses drieë in ’n sege van 34-21 oor Argentinië wat almal hul stempel gedra het.

Willie le Roux se Engelse klub, Wasps, kan sy deelname aan Springbok-toetse moeiteloos beperk. Foto: Getty Images

Wat ons egter moet bekommer, is dat daar berig is dat albei se deelname aan vanjaar se Rugbykampioenskap deur ooreenkomste met hul Engelse klubs beperk kan word.

Wasps se direkteur van rugby, Dai Young, het selfs aan ’n Britse joernalis bevestig dat daar ooreengekom is Le Roux sal slegs drie uit ses wedstryde in die Rugbykampioenskap en een uit die Bokke se vier op hul jaareindtoer gaan speel.

De Klerk se Engelse klub, Sale, sê daar sal waarskynlik “kompromieë” deur al die partye aangegaan moet word om te besluit hoeveel wedstryde hy vir die Bokke gaan speel.

Ondanks Wêreldrugby se regulasies ten opsigte van die beskikbaarheid van spelers, het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) in praktyk nie oppergesag oor dié spelers nie.

Spelers wat oorsee gaan speel – veral in Frankryk en Japan, en tot ’n minder mate in Engeland – is huursoldate.

In ruil vir spelers se yslike kontrakte word hulle as’t ware die klubeienaars se “eiendom”.

Saru het hoë hekkies om oor te spring voordat spelers hoegenaamd beskikbaar gestel word.

Een van die groot probleme is dat die spelers verseker moet word teen beserings, wat natuurlik duur is.

Spelers kan met die sluit van kontrakte ook informele ooreenkomste met klubeienaars aangaan, wat hul deelname aan toetse sal beperk – ’n verbreking van Wêreldrugby se regulasies, maar moeilik om te bewys.

Dit is ook maklik vir spelers en hul klubs om stories oor beserings te bekook. Wêreldrugby het regulasies daaroor, maar dit sal verg dat Saru se aangewese dokter die klub s’n konsulteer.

Dis onwaarskynlik dat Sale sal toelaat dat Faf de Klerk vanjaar in al die Bokke se toetse gaan speel. Foto: Getty Images

’n Grys gebied ontstaan dan wanneer die dokters nie saamstem nie, wat die klub bemagtig om sy bate te beskerm.

Sekere spelers verkies dit ook so. Almal wil in ’n Wêreldbeker-toernooi speel, maar nie noodwendig die pad saam met die Bokke tot daar stap nie. ’n Bogstorie oor ’n “besering” bied ’n maklike uitkomklousule vir die klub en ’n speler wat sy brood aan albei kante gebotter wil hê.

Daar is ’n paar moontlike oplossings. Wêreldrugby kan sy regulasies verskerp om klubs se invloed in te perk, terwyl spelers ook aan hul agente kan sê om nie kontrakte te beding wat in die pad van hul deelname aan toetsrugby gaan staan nie.

Vir eers is die realiteit dat die Bok-afrigter met ’n groot probleem sit sodra ’n speler ’n kontrak met ’n oorsese klub sluit.

’n Mens sou graag wou sien dat Saru nou sy rug styf maak rakende Le Roux en De Klerk, maar dis weer eens nie so eenvoudig nie omdat dit moontlik hul verhouding met hul werkgewers kan versuur.

Die beroepsera het ons dus nou in ’n situasie gelaat waar die stert die hond na willekeur kan swaai en spelers van wêreldgehalte ook hul wedstryde kan kies.

Daar berus ’n morele plig op Wêreldrugby om klippe uit die pad van die beheerliggame te rol sodat die integriteit van internasionale rugby beskerm word. Tans maak hul regulasies voorsiening vir klubs en nasionale beheerliggame om te onderhandel, maar Wêreldrugby behoort glad nie na klubs se pype te dans nie.

Verwag vir eers maar dat Erasmus tussen nou en die WB-toernooi baie gaan “eksperimenteer”. Nie noodwendig omdat hy wil nie, maar omdat hy dalk geen ander keuse gaan hê nie.

* Lees gerus Wêreldrugby se regulasies oor die kwessie.

Meer oor:  Faf De Klerk  |  Willie Le Roux  |  Saru  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Wêreldrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.