Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Faffie moet dalk minder op veld wees

Skuimkop is bly hy is nie een van die topskrumskakels in die land nie, want dit lyk vir hom so al of Rassie Erasmus ’n groot toegeneentheid met Faf de Klerk ontwikkel het.

Hou, hartjie, hou, Faf gaan die bal skop! Foto: Gallo Images

Kyk, Faf is ’n pragtige seun wat elke moeder se hart roer. Met sy pragtige blonde haartjies en fris lyfie hoor ek mammas wil hom graag koester.

Die meeste ander rugby-ondersteuners hou sommer ook baie van Faf. Of dan Faffie, Fafster of Faflief soos hy ook bekend staan.

Is dit dan nie Faf wat met sy witkoppie onverwags opduik en ’n bal onderskep wanneer die teenstanders op pad doellyn toe is nie?

En het julle dan nie gesien hoe duik Faf (vat hom, Flaffie!) vreesloos die grootste aanstormende voorspeler dat hy hik nie?

Dis Faf daardie wat ’n wedstryd so swaai met ’n briljante breekslag. Dis hy wat die ouens om hom hoendervleis gee en aanmoedig om net beter en beter te speel.

Dit lyk asof Rassie Faf as so ’n belangrike kernspeler in die Springbokspan beskou dat hy hom nie eens meer wil roteer nie. As jy die plaasvervanger-skrumskakel is, sal jy gelukkig wees om vyf minute speeltyd te kry.

’n Mens sou sweer Faf is die nuwe Fourie du Preez. Nes Du Preez probeer Faf ook gereeld daardie hangskoppe waarvoor onse Bokke so lief is.

Ongelukkig is Faffie se taktiese skopwerk nie altyd so uitmuntend soos Du Preez s’n kamma (dis nou weer ’n ander mite) was nie.

Is Skuimkop reg as hy sê onse teenstanders het in die laaste twee toetse elkeen ’n drietjie pasella gekry ná ’n mislukte Faf-skop?

Skuimkop dink wel Faf moet in die beginspan wees, maar Skuimkop herinner lesers net daaraan dat daar redes was waarom Faf laas sy plek in die beginspanne van die Bokke en die Leeus aan Ross Cronje afgestaan het!

***

’n Mens nie anders as om te giggel oor ’n storie wat Greg Louw, wat verlede jaar die K2-afdeling van Visrivier-kanomarathon saam met Andy Birkett gewen het, hierdie week vertel het nie.

Ons is verby die eindpunt met ’n kano wat besig was om soos ’n duikboot te sink.

Louw, wat van Vrydag af in Cradock weer in die “Fish” in aksie sal wees, vertel hy en sy broer Ryan het in 2008 aan die Liffey Descent deelgeneem.

“Ons moes ’n kano leen, want ons s’n het nooit daar opgedaag nie,” het Louw vertel.

Dit het die Louw-broers egter nie gestuit om die byeenkoms te wen nie. Ongelukkig was die kano vol krake en het die water ingestroom.

“Ons is verby die eindpunt met ’n kano wat besig was om soos ’n duikboot te sink,” het Louw vertel.

Louw het maar onlangs van ’n longinfeksie herstel en sal in die Fish saam met sy pa roei. Hopelik sink hul kano nie, anders sit Louw weer met ’n verkoue of iets dergeliks!

***

As Krieket Suid-Afrika van plan was om Saterdag se eendagwedstryd in die Paarl te gebruik om sy besluit om dié Bolandse dorpie een van sy T20-spanne te gee, te regverdig, kon hy nie ’n veel swakker voorbeeld gekies het nie.

Die kolfblad in Bloemfontein is erg gekritiseer. Foto: Gallo Images

Daar is groot ongelukkigheid in Bloemfontein dat die Kaap twee spanne gekry het toe KSA sy spanne bekend gemaak het vir die nuwe fênsie T20-liga.

KSA sou graag ’n groot toeloop van toeskouers na Saterdag se wedstryd tussen Suid-Afrika en Zimbabwe wou gehad het om te wys dat ondersteuners in die Paarl opgewonde is oor krieket.

Ná die vrot vertonings van Zimbabwe se kolwers in die eerste twee wedstryde van die reeks, was daar nie ’n groot buzz rondom die wedstryd nie.

En dan begin die Springbokke se watertandtoets teen die All Blacks reg in die middel van die eendagwedstryd.

Die krieketwedstryd begin om 13:00 met die rugby wat om 17:00 afskop.

Kom ons hoop maar net dat die KSA se beplanning vir die T20-reeks effe beter gaan wees as die komende Saterdag se beplanning.

Meer oor:  Ksa  |  Bokke  |  Springbokke  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Faf De Klerk  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.