Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Fleck verdien respek ... en ’n wen

Afrigters en spelers word dikwels nie na waarde geskat nie deur afleidings op grond van statistieke of algemene wyshede.

Dit bly ’n ope vraag of die aanstelling van Robbie Fleck as die Stormers se afrigter in 2016 die regte skuif was. Foto: Gallo Images

Goeie voorbeelde hiervan is vergelykings van Springbok-afrigters op grond van hul wenpersentasie (al het hulle nie teen dieselfde teenstander op dieselfde tyd gespeel nie), dat ’n oopkantflank gemeet moet word aan hoeveel keer hy omkeerbesit by die afbreekpunte wen, en dat ’n span se probleme op die aanval die agterlynafrigter se skuld is.

’n Man wat veral op grond van laasgenoemde deurgeloop het was Robbie Fleck, wat van 2010-’15 daardie taak vir die Stormers in die Superreeks vervul het.

Van 2010-’12 – ironies die Stormers se mees suksesvolle jare – was die span dikwels in die spreekwoordelike dwangbuis en het spelers se kreatiwiteit en individualisme onder die filosofie van verdediging über alles gesneuwel.

Fleck se eerste aanstelling as ’n hoofafrigter was in 2015 toe hy die Westelike Provinsie se o.21-span afgerig het. Die Streeptruie het hul toernooi daardie jaar gewen.

Hy is in 2016 om ’n draai as afrigter van die Stormers aangestel – aanvanklik net waarnemend omdat die WP se rugbybase nie die aanbeveling van die voormalige All Black-afrigter John Mitchell wou aanvaar nie.

a
Robbie Fleck is ’n veteraan van die Western Stormers in 1998 – ’n span wat meestal onthou sal word vir sy lelike truie. Foto: Gallo Images

Of dit die regte besluit was al dan nie, kan weerskante toe oor debat gevoer word omdat die Bulle onder Mitchell dadels op die speelveld uitgerig het.

Robbie Fleck was onder die Stormers se uitblinkers in ’n goeie seisoen in 1999. Foto: Gallo Images

Fleck se beste jare as afrigter van die Stormers was sy eerste twee in 2016 en 2017. Verlede seisoen was ’n mislukking en vanjaar sal in die komende weke beoordeel kan word. Die Stormers is ’n wedstryd daarvan af weg vir hul seisoen om as ’n mislukking onthou te word, maar ook twee wedstryde van die halfeindronde.

Op persoonlike vlak hoop ek dit gaan die komende naweek goed met Fleck, veral omdat hy só ’n puik dienaar van die WP was.

As speler het sy senior loopbaan by die WP reeds in 1997 begin en hy het die oorgang na die Stormers beleef. Sy buiging vir die Streeptruie was in 1997, hy het in 1998 vir die Western Stormers gespeel en was in 1999 ’n uitblinker vir die Stormers waar hulle met tyd sjampanjerugby gespeel het.

Hy het diep spore in die WP getrap en as Springbok sal ek hom altyd onthou vir daardie puik toets teen die All Blacks op Ellispark in 2000.

Fleck is vandag ’n jintelman vir wie ek altyd tyd sal hê.

Indien vanjaar se veldtog Saterdag sneuwel sal Fleck natuurlik van die skuld moet dra. Die Stormers het die seisoen met ’n uitsonderlike pak voorspelers afgeskop en ons kon met goeie rede meer verwag het. Met sy wedstrydplan het ek dikwels nie akkoord gegaan nie, want die span het by tye weg van sy sterkpunte gespeel..

Percy Montgomery en Robbie Fleck met die Curriebeker ná 2000 se eindstryd in Durban. Foto: Gallo Images

Daar is egter versagtende omstandighede – van die bakleiery agter die skerms in die WP tot die gelapte span wat tans in die veld gestoot word.

Ongeag die skuld wat hy moet dra, verdien Fleck egter respek vir die manier waarop hy die WP en Stormers gedien het.

Hierdie sal vir hom ’n emosionele week wees – of die doodskoot, of ’n vegter se kans op glorie. Sport bied jou ’n kans op ’n sprokie, maar is ongelukkig ook ’n wrede dierasie.

Robbie Fleck se beste wedstryd as speler was Suid-Afrika se toets teen Nieu-Seeland op Ellispark in 2000. Die Bokke het met 46-40 gewen. Foto: Gallo Images

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Stephen Nell  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.