Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gaan SA dié keer die kans aangryp?
Francois Pienaar, kaptein van die 1995 Wêreldbeker-span, omhels Sondag Siya Kolisi, die Bok-kaptein, op Wêreldrugby se prysuitdeling in Tokio. Foto: Getty Images

Terwyl ons Suid-Afrikaanse rugby se grootste prestasie vier, is dit dalk ’n goeie tyd om oor een van ons grootste mislukkings te gaan nadink: Die onvermoë om voort te bou op wat in 1995 met die oorwinning in die Wêreldbekertoernooi bereik is.

Suid-Afrikaners, van alle agtergronde en kleurskakerings, het in die vreugde gedeel van wat Francois Pienaar se Springbok-span bereik het.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het ook ’n geleentheid gehad waarvan enige sportfederasie net van kan droom.

Dit kon die hoeksteen van blywende kommersiële welvaart en welwillendheid van die breër bevolking vir die spel gewees het.

Dit was wonderlik om te sien dat ons almal in die vreugde kon deel en in harmonie kan saamwoon. Dis net jammer dat ons nie daarop voortgebou het nie.
Chester Williams

Wolke van rassisme het egter die volgende jaar reeds oor Suid-Afrikaanse rugby saamgepak en die WB-toernooi was allermins die gom wat die volk saamgebind het.

Chester Williams, sonder wie die “wonderwerk” van 1995 nie moontlik sou gewees het nie, het dit 18 jaar later in ’n onderhoud as volg aan my gestel: “Dit was wonderlik om te sien dat ons almal in die vreugde kon deel en in harmonie kan saamwoon. Dis net jammer dat ons nie daarop voortgebou het nie.

“Ek verwys na ons politiek en die samelewing. Ons het ’n verenigde land nodig.”

Nagenoeg ’n kwarteeu ná 1995 se vreugde kry ons danksy die Bok-span se triomf in Japan ’n selfs gróter geskenk. Dit drup dalk nie van Madiba Magic nie, maar het ’n sterker grondslag.

Dít wat die Bokke in Japan bereik het bied dalk nie ewe goeie materiaal vir ’n rolprent nie, maar die waarde is juis ook dat dit nie tot só ’n mate in mite en ’n perfekte storm van gunstige omstandighede gegrond was nie.

Wat die afgelope sewe weke in Japan gebeur het was danksy ’n duidelike visie en haarfyn beplanning.

Soos in 1995 was daar ’n “swart pêrel” – hierdie keer in die vorm van die kaptein, Siya Kolisi. Dat Kolisi moeilike omstandighede moes trotseer om tot op hierdie punt te vorder, maak dit soveel meer betekenisvol.

Ek is byna stomgeslaan elke keer wanneer ek moet hoor of lees hoe enigiemand sy plek in die Bok-span bevraagteken.

Makazole Mapimpi is nóg ’n held wat ’n grondpad moes stap en Cheslin Kolbe was kwansuis te klein om dit op toetsvlak te maak.

Dis ook goed dat Eben Etzebeth nie op die altaar van politieke korrektheid opgeoffer is nie nadat ongetoetste aantygings van rassisme sy kant toe geslinger is.

Indien die Bokke se ysterslot inderdaad skuldig aan rassisme is, sal dit my nogal verbaas gegewe hoe sterk sy vriendskapsband met Kolisi is.

Sou die saak teen Etzebeth op niks uitloop nie en vir die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie bloot ’n verleentheid wees, sal daar selfs simboliese waarde daarin wees.

Dit kan dalk net ’n paar wolwe in skaapsklere ontmasker in ’n tydstip waar ons almal voor die spieël moet gaan staan en nadink oor hoe ons kan voortbou op die tweede geleentheid wat die Bokke vir ons gebied het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.