Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rassie kan homself nie afdank

Die een groot positiewe aspek omtrent die klippe wat die Springbokke tans kou, is dat ons nou almal kan sien dat ’n Bok-afrigter op sy eie nie meer die verskil tussen wen en verloor kan maak nie.

Rassie Erasmus / Foto: Gallo Images

Ons het aanbeweeg van ’n era waar Nick Mallett in 1997, en Jake White in 2004, die span sommer dadelik uit ’n moeras kon red.

Rassie Erasmus is soos Mallett en White ook ’n baie skerp afrigter. As hy in die komende seisoene nie ’n daadwerklike verskil kan maak nie, is daar waarskynlik nie 'n ander persoon wat dit eiehandig sal kan vermag nie.

Terwyl die langtermynoplossing by hom lê, is Erasmus tot ’n mate ook ’n simptoom van die probleem. Ek sê so omdat een van Suid-Afrikaanse rugby se probleme by swak korporatiewe bestuur lê. Erasmus is die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby én die Bok-afrigter. Anders gestel: Sy eie baas.

Gaan hy homself afdank indien die Bokke aanhou met sukkel? Dis onwaarskynlik dat die uitvoerende raad van Saru dit gaan doen, want dis immers daar waar die besluit gemaak is om vir Erasmus ’n kontrak van ses jaar te gee. As hulle vir Erasmus pos op grond van prestasie, moet ’n mens verwag dat die rugbybase self die eerbare ding sal doen en op hul swaarde val.

Indien Erasmus self loop, is die volgende vraag waar sy opvolger vandaan gaan kom. Anders as by die All Blacks, is daar nie ’n opvolgplan by die Bokke nie. Nie een van Erasmus se assistente – Matt Proudfoot, Mzwandile Stick of Jacques Nienaber – kan geloofwaardig as die volgende Bok-afrigter voorgehou word nie.

Dis juis waar ons ’n direkteur van rugby benodig – om die strukture vir blywende welslae te vestig. Die beste voorbeeld waarvan ek praat, is tans by die Goue Leeus Rugbyunie. Ondanks die feit dat dié unie talle spelers aan oorsese klubs afgestaan het, twyfel ek of daar slapelose nagte by Ellispark is. Die plek funksioneer soos ’n geoliede masjien.

Erasmus het met sy aanstelling by die Westelike Provinsie destyds self sulke strukture gevestig en Heyneke Meyer het dit by die Blou Bulle gedoen.

Wat die hier en nou betref, was die Bokke Saterdag baie gelukkig dat die Wallabies nie senior spelers soos Israel Folau, David Pocock en Adam Coleman beskikbaar gehad het nie. Met hulle daar, kon dinge lelik geraak het.

Erasmus het ook ’n flater begaan deur die haker Bongi Mbonambi vyf minute voor rustyd te vervang. Dit was baie sleg vir Mbonambi se selfvertroue en ek het nie een van die swak ingooie gesien waarvan daar gepraat word nie.

’n Lynstaanbal is vroeg in die wedstryd afgestaan weens goeie mededinging op die Bokke se ingooi, nie op grond van ’n gebrek aan akkuraatheid deur Mbonambi nie.

Dan was daar die lang ingooi wat tot ’n drie vir die Wallabies aanleiding gegee het. Die Bokke was staties en een van hulle – waarskynlik Siya Kolisi – moes daar gewees het om die bal te vang.

Terwyl dit natuurlik nie so bedoel was nie, is Mbonambi verneder deurdat hy nog voor hy sy rustydlemoen kon eet, reeds vervang is.

Wat sy spankeuses betref het Erasmus hom nou in ’n hoek geverf. In sy skoene sal ek nie ’n klein buiteagterspeler soos Cheslin Kolbe oorweeg om in Makazole Mapimpi se plek teen die All Blacks te begin nie. Maar hy moet seker omdat Kolbe Saterdag op die plaasvervangersbank was.

Rassie Erasmus is soos Mallett en White ook ’n baie skerp afrigter. As hy in die komende seisoene nie ’n daadwerklike verskil kan maak nie, is Bok-rugby straks in sy peetjie

Die Bokke moet ook ’n samehorigheid vind wat jy ondanks die publiek en media se bloeddorstigheid nie deur talle veranderings kan kry nie.

Vir my is een van die interessantste aspekte rakende Erasmus as Bok-afrigter dat hy nie die konserwatiewe rugby speel waarvoor hy deur die jare heen as afrigter bekendheid verwerf het nie.

Nienaber, as verdedigingsafrigter, was in die verlede een van die belangrikste pyle in Erasmus se afrigtingskoker, maar die Bokke is geweldig kwesbaar op die verdediging.

Dus is die vraag ook of Erasmus besig is om werklik homself te wees wat die rugby betref wat hy tans afrig. Of dalk is daar ook maar die besef dat omstandighede – soos spelers tot sy beskikking en die dwangbuis van Saru se strategiese transformasieplan – hom in ’n posisie laat waar hy nie anders kan nie.

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.