Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gratis bier vervang g’n rugby-plesier

’n Kuierarea met gratis bier vir die toeskouers! En dit in Australië!

Nee, dis nie ’n Aprilgrap nie, maar die Brumbies se poging om toeskouers na hul Super-wedstryde te lok. Dit kom van ’n span wat tot verlede naweek tien wedstryde agtereenvolgens in Canberra gewen het, maar steeds daag die toeskouers nie op nie.

dok pool
Dok Pool.

Waarom bly die Brumbies se voormalige ondersteuners weg?

Indien wen die bepalende faktor was om toeskouers te lok, moes die paviljoene immers vol gewees het. Of gaan dit oor die manier waarop wedstryde gewen word?

Toe Australië drie spanne – die Waratahs, Queensland en die Brumbies – in die Superrugbyreeks gehad het, was die Brum­bies met hul skeppende en verbeeldingryke spel ’n lus om te aanskou. Agterspelers soos George Gregan, Stephan Larkham, Stirling Mortlock en Andrew Walker, om enkeles te noem, het saam met voorspelers soos Owen Finegan met hul opwindende spel toeskouers regop in hul sitplekke gehad.

Deesdae se Brumbies is ongelukkig maar net een van baie spanne wat basies dieselfde vervelige koppestamp-rugby speel waar die voorheen briljante indiwidu se rol oorgeneem is deur die patroon-speler. Die toeskouers, of moet ek liewer sê afwesige toeskouers, het kennelik genoeg gehad van die vervelige rugby wat hulle week ná week moes aanskou.

Die Brumbies se probleem steek, op enkele uitsonderinge na, oral in Superrugby kop uit. Wanneer wedstryde soos die Crusaders teen die Blues byvoorbeeld nie groot getalle toeskouers kan trek nie, is dit laat in die dag.

Die Bulle is self te blameer vir hul onvermoë om in hul eerste twee wedstryde in Superrugby drieë te druk.

In Suid-Afrika sien ons dieselfde tendens. Verlede jaar het die Bulle by geleentheid kaartjies teen R20 stuk verkoop om dit vir gesinne finansieel moontlik te maak om Loftus toe te kom. Ook dit het nie veel gehelp om toeskouers te trek nie. Foefies soos superhelde se embleme op truie, meer spanne ingedeel in sogenaamde “konferensies”, is alles pleisters op die kernprobleme. Dit bly foefies. Terloops, van wanneer af is konferensie ’n ander naam vir groep?

Nou sal die leser tereg kan vra: Maar wat van die Stormers se wedstryd vanjaar teen die Bulle? Nuweland was dan byna volgepak.

Eerstens, vergeet die feit dat dit die laaste jaar van die tradisieryke Nuweland as ’n rugbystadion is. Die toeskouers het nie Nuweland toe gestroom omdat dit die laaste wedstryd tussen WP en die Bulle op Nuweland was nie. Nee, hulle het gekom om hul helde in lewende lywe te sien. Dit was hulle mense wat daar gespeel het; hul helde, hul Springbokke, almal opwindende spelers van gehalte. Tuisbly was buite die kwessie. Daardie Nuweland-atmosfeer kan nie deur sitkamer-televisie vervang word nie.

Toeskouers wil die beste spelers teen mekaar sien speel eerder as om voortdurend te moet hoor dat die beste spelers “bestuur” moet word en daarom tyd moet kry om uit te rus. As die huidige bedeling sodanig is dat spelers wel ooreis kan word, moet die wedstryde verminder word. Toeskouers en borge wil die beste spelers in volgepakte stadions sien. Nie leë stadions waar “spelers die geleentheid kry om te ontwikkel” nie.

Enkele opmerkings oor die Super- en Sesnasies-wedstryde van voorverlede naweek.

Sowel Wallis as die Chiefs het skitterende drieë gedruk deur die bal op hul voete lewendig te hou. Die besef dat die bal die verdedigingslyn moet breek eerder as die speler, het duidelik begin posvat. Hopelik is die kentering wat ons so lankal propageer om ons spel te red, aan die posvat!

Die Bulle is self te blameer vir hul onvermoë om in hul eerste twee wedstryde in Superrugby drieë te druk. Hul benadering om die teenstanders fisiek aan te vat en daarna grond toe te gaan om besit te behou, lei gewoonlik tot die een losskrum ná die ander; die maklikste faset van waar jy kan verdedig.

Ten slotte, wat bepaal die rugby-owerhede in die verskillende lande se optrede? Die spel se belange of hul eie? Die eertydse Britse premier Benjamin Disraeli het oor een van sy teenstanders gesê: “He is a self-made man and he adores his maker.” Rugby-administrateurs, neem kennis.

Meer oor:  Dok Pool  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.