Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gun Faf ’n laaste seisoen van Protea-krieket

“Faf, as jy vanaand iets simpel gaan aanvang soos uittree of die tuig as kaptein neerlê, gaan ons tot môre se uitskeityd werk. So, as jy vir ons nou ’n aanduiding kan gee, kan ons solank bier by Mr Delivery bestel,” het ’n joernalis sy vraag oor Faf du Plessis se toekoms Maandag probeer versag.

Die Protea-kaptein het effens glimlag en gesê: “Wel dit voel of julle my die laaste tyd in daardie rigting probeer druk.” Maar hy gaan nie besluite neem terwyl hy emosioneel is nie.

Dankie tog! Die Proteas het Du Plessis nog nodig.

Faf du Plessis en Dean Elgar ná die nederlaag in die vierde toets teen Engeland. Foto: Getty Images

Die druk wat dié 35-jarige kolwer voel om óf uit te tree, óf afstand van die kapteinskap te doen, kom waarskynlik meer vanuit sekere dele van die publiek as vanuit die media.

Veral die eise dat hy sy kolf finaal wegbêre, spruit uit ’n gruwelike wanopvatting oor sy spelpeil. Sy kritici gaan tekere asof hy vir jare al swak kolf, terwyl hy inderwaarheid slegs ’n rapsie meer as drie maande met swak toetskolfpeil sukkel. Drie maande en vyf toetse.

In die tweede toets teen Indië, wat op 10 Oktober begin het, het hy 64 in die eerste beurt geslaan. In uiters moeilike toestande. In die toets voor dit, 55 in die eerste beurt.

In die twee toetse voor dit, teen Sri Lanka, 50* in Port Elizabeth en 90 in Durban. Voor dit? 103 teen Pakistan in Kaapstad.

Tussen 1 Oktober 2018 en 14 Oktober 2019 was sy kolfgemiddeld 44.30.

Nege maande gelede het die media nie vir Du Plessis gevra of hy gaan uittree nie. Daar is vir hom gevra of hy bekommerd is oor sy span so afhanklik van hom en Quinton de Kock is om lopies te slaan.

Sien, toe het die Proteas nog die eendag- en toetsreekse teen Pakistan gewen, en die eendagreeks teen Sri Lanka. Grotendeels te danke aan Du Plessis.

In die Wêreldbeker-toernooi was hy die beste Protea-kolwer. In eendagkrieket is hy die 20ste beste kolwer nóg wat gemiddelde van spelers met meer as 5 000 lopies betref.

Nou wil mense hê hy moet uittree, dit in ’n jaar waarin die T20-Wêreldbeker-toernooi (T20-WB) gespeel word. Toegegee, sy kapteinskap kan bevraagteken word oor van die strategieë wat hy teen Engeland gebruik het, maar hy sê self ’n kaptein lyk sleg as sy boulers nie by ’n plan kan hou nie. Du Plessis word wyd as ’n skitterende taktiese kaptein gereken.

Hy gaan nie weer die Protea-eendagspan lei nie, Quinton de Kock gaan. Eendagkrieket is in elk geval vanjaar onbenullig, want daar is geen groot eendagtoernooie in die nabye toekoms nie.

Daar is boonop slegs twee toetse – in die Karibiese Eilande – voor die T20-WB in Australië in Oktober en November plaasvind. Laat Du Plessis toe om self te besluit of hy in daardie toetse wil gaan speel. Watter kolwer is daar beskikbaar wat beter as hy is?

Du Plessis is gewis die regte man om die span in die T20-skouspel te lei en dít is die formaat waarop hy hom vanjaar moet toespits. AB de Villiers gaan waarskynlik beskikbaar wees en Dale Steyn en Imran Tahir kan Suid-Afrika ook nog in dié formaat verteenwoordig. Hy gaan dus nie, soos in die toetsspan, die grootste verantwoordelikheid as ervare speler hoef te dra nie.

Du Plessis moet toegelaat word om sy laaste seisoen van Protea-krieket te geniet. Hy het reeds aangedui dat hy sy toekoms ná die T20-WB in heroënskou gaan neem. Hy het ook gesê hy gaan beslis nie in 2023 se WB-toernooi speel nie, so die aanduiding is dat hy ná die T20-WB sal uittree.

Sal dit nie beter wees as ondersteuners vir een laaste seisoen hul gewig agter hom gooi, liewer as om sy kop die heeltyd te eis nie?

Meer oor:  Krieket  |  Toetskrieket  |  Proteas  |  Faf Du Plessis  |  T20-Wêreldbeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.