Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hoe stuit jy magshonger Moroe?

As dit by skurke in stories kom, is die belangrike vraag altyd (nadat ons uitgevind het wat hulle gedoen het en hoe hulle dit gedoen het): Hóékom?

Eers die wat: Thabang Moroe, Krieket Suid-Afrika (KSA) se uitvoerende hoof, het vandeesweek drie senior beamptes – Corrie van Zyl, Clive Eksteen en Naasei Appiah – uit hul poste geskors. Dít hangende ’n ondersoek na moontlike pligsversuim rakende die beeldregte-kwessie van verlede jaar se Mzansi-superliga (MSL).

Tinus van Staden

ou vir die hoe: Moroe het volgens bronne Dinsdag rondom 13:00 ’n groot vergadering by KSA se hoofkantoor in Johannesburg belê. Almal wat daar was, is byeengeroep.

Hier het hy na bewering te velde getrek teen die drie werknemers en hulle behoorlik uitgetrap, voordat hulle die gebou moes verlaat – ’n gebaar van totale magsvertoon.

Nou is die vraag: Hoekom sou Moroe dit doen?

Uit nuusverklarings van KSA kan ’n mens aflei Moroe voer aan dié trio was daarvoor verantwoordelik dat KSA gesloer het om R2,5 miljoen aan die spelersvereniging, Saca, uit te betaal vir die gebruik van spelers se beeldregte in die MSL van 2018.

Saca self het intussen gesê dis bog – Moroe het die ooreenkoms reeds in November verlede jaar onderteken en hy het dus geweet die geld was veronderstel om in Desember 2018 uitbetaal te word.

Dit was dus bloot ’n rookskerm, ’n kans vir Moroe om sy gewillige slagtande te wys vir enigeen in die organisasie wat durf om hom te na te kom. Mag blyk ’n groot dryfveer vir Moroe te wees.

Dit is duidelik wie die skurk in hierdie verhaal is. Op die oomblik is dit net minder duidelik of daar ’n held iewers skuil wat hom kan stuit.

Hy het KSA se ruggraatlose raad vroeër vanjaar oorreed om vir hom bykans alleenreg te gee oor besluite wat die Proteas raak. Hy het dit reggekry om die bestuurstruktuur só te manipuleer dat hy die finale sê het oor wat by die Proteas aangaan. Hy wil selfs ’n invloed op die speelstyl van die span hê . . .

Saca, wat die land se beroepspelers verteenwoordig, kla ook dat KSA hom nie meer by sub­komiteevergaderings toelaat nie. Ook dit dui daarop dat Moroe nie wil toelaat dat enigiemand van buite af ’n invloed op sy organisasie het nie.

Moroe het boonop KSA se eie grondwet aangepas sodat Chris Nenzani nog ’n termyn as president kan dien – glo om vir Jack Madiseng, nog ’n Moroe-bondgenoot en Gauteng se president, groot te maak om by hom oor te neem.

Moroe wil die skaakstukke só rangskik dat hy as die koning onaantasbaar is. Alles dui daarop. Maar hoekom?

Uiteraard sal geld ’n rol speel, want die uitvoerende hoof van die nasionale krieketbeheerliggaam lewe beswaarlik op die broodlyn. Maar dit lyk of Moroe ’n magvraat is. Hy wil dikteer wat gebeur hoe en wanneer.

Die feit is egter dat KSA hom in ’n benarde posisie bevind. Die finansies lyk beroerd, daar is geen sekerheid oor wie die Proteas vorentoe onder hande gaan neem nie, daar is twee hofsake teen KSA. . .

En nou kan minstens een van die drie geskorste amptenare boonop regshulp inkry. Dít alles terwyl die MSL volgende Vrydag afskop – ’n MSL wat, terloops, nog nie ’n borg het nie, iets waarvoor Eksteen verantwoordelik was.

Dit is duidelik wie die skurk in hierdie verhaal is. Op die oomblik is dit net minder duidelik of daar ’n held iewers skuil wat hom kan stuit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.