Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Tromp-op
Hokaai, Jake! Wessels net ’n groentjie-stut

“As hy goed genoeg is, is hy oud genoeg.”

Dié onsinnige uitspraak word dikwels gemaak om die keuse van ’n jong rugbyspeler op hoë vlak te regverdig.

Onsinnig? Ja, want dié stelling tref geen onderskeid nie tussen die onderskeie posisies in ’n rugbyspan, wat aansienlik verskillende fisieke vereistes aan spelers stel.

Voorbeelde van jong spelers wat in senior spanne gespeel het, is daar wel.

’n Jong losskakel kan byvoorbeeld suksesvol saam met ’n ervare skrumskakel agter ’n sterk pak voorspelers speel, soos Naas Botha in die 1970’s by Noord-Transvaal. Net so kon ’n jeugdige Mannetjies Roux met sukses vir die Springbokke vleuel speel. Of ’n jong Jan Ellis vir Suidwes-Afrika op flank uitdraf.

Dok Pool
Dok Pool

Die gemeenskaplike faktor tussen dié drie voorbeelde is dat die spelers in posisies gespeel het waar hulle nie regstreeks in fisieke kontak met die teenstanders was nie.

Die een posisie waar fisieke kontak en krag egter onvermydelik noodsaaklik is, is in die voorry. Wat die publiek – en ambisieuse afrigters – dikwels miskyk, is dat krag alleen nie hier genoeg is nie.

’n Voorry moet gehard wees en gehardheid kom met tyd. Iemand wat my sterk hieraan herinner het, is wyle Ockie Oosthuizen. Toe ek hom enkele maande voor sy dood gegroet het, het dit my opgeval hoe hard sy arms en skouers steeds was. ’n Tipiese voorry uit die dae van amateurrugby.

Maar wat dan van jong voorrye soos Piet du Toit wat in 1955, nog voor sy 20ste verjaardag, vir Maties gespeel het en reeds die volgende jaar gekies is vir die 1956-Springbok-toer Nieu-Seeland toe?

Du Toit was ongetwyfeld buitengewoon sterk, maar ’n reeks nuwe reëls het voorry-spel intussen heeltemal verander.

Destyds het ’n jong voorry geleentheid gehad om geleidelik hard te word, want voorrye kon sak wanneer hulle gereed was en, anders as vandag, was dit gewoonlik man teen man.

Die reeks reëlveranderinge wat die skrum betref, het dié situasie drasties verander. Deesdae sak die voorry laaste en is op die voorpunt van die enorme druk van die agtman-skrum.

Dis net hier waar jong voorrye teenspoed kry.

Met ’n werwelkolom wat nie geleidelik aan harde kontak blootgestel is nie, is nek- en rugbeserings feitlik ’n gegewe. Kyk maar rond en jy sal die slagoffers sien.

Terug by gehardheid.

Indrukwekkend ontwikkelde spiere (danksy gimnasiumwerk) wat ons so dikwels by jong spelers sien, is nie ’n plaasvervanger vir gehardheid nie.

Dit het ek self ervaar toe ek as ’n 19-jarige in ’n klubwedstryd tydens die universiteitsvakansie vir Sias Swart, die Springbokvleuel van 1955, moes keer.

Om Sias te duik, was soos om in ’n kameeldoringboomstam vas te hardloop. As daar in die kontak iets sou meegee, dan was dit aan jou kant, nie by Sias nie.

Die aand ná die wedstryd kon ek nie slaap nie so seer was my lyf.

Toe het ek verstaan waarom die gevreesde speler die een met die geharde lyf is, eerder as die een met die indrukwekkende, gespierde voorkoms.

Om bogenoemde redes is ek bekommerd oor die koerantberigte dat die 19-jarige Vrystaatse stut Jan-Hendrik Wessels deel is van die Bulle se skrumplanne vir Superrugby.

Wessels se statistieke van 120 kg en 1,9 m lank is indrukwekkend. Maar dit maak hom nog nie gehard nie.

’n Ervare afrigter wat sy spelers se belange voorop stel en nie sy eie ambisie nie, sal ’n talentvolle voorry soos Wessels oordeelkundig geleidelik inlei in die vereistes van ’n posisie waar daar geen genade of wegkruipkans is nie.

Die fisieke vereistes wat moderne rugby aan voorspelers stel, het aansienlik verander, en nie altyd tot voordeel van die spel nie.

Kontak – herhaaldelik en intens – is deesdae ’n inherente deel van voorspelerspel. Ian Kirkpatrick, die legendariese All Black-losvoorspeler wat bekend was om sy krag en die spoed waarteen hy ’n bal gedra het, het juis sy kommer uitgespreek oor die uitwerking wat dié fisieke benadering op spelers se latere gesondheid kan hê.

Net so ’n groot probleem is dat spelers in hierdie kontak-gedrewe benadering tot die spel een van die belangrikste bates van ’n goeie rugbyspeler, naamlik visie, verwaarloos.

Spelers word gekondisioneer om kontak te maak, eerder as om vóór hulle te kyk en ruimte aan te val.

In Brisbane by Queensland se ou hoofkwartier, Ballymore Park, is die volgende slagspreuk teen die hoofpaviljoen geskryf: “The art of rugby is reading the play.” Hoe kan die speler dit vermag as hy nie sien wat voor hom gebeur nie?

Lesers kan gerus kennis neem van twee uitsprake hier en in Australië vir die beswil en oorlewing van rugby én krieket. Dit is dat die owerhede die beste spelers in plaaslike kompetisies moet laat speel.

Wat rugby betref, is dit egter slegs ’n deel van die oplossing om weer skares terug stadions toe te lok.

Meer oor:  Jake White  |  Bulle  |  Dok Pool
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.