Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In dié borrel sal Skuimkop ook graag bly
Reg, hier gaan ons! Engeland se eendagkaptein, Eoin Morgan, skiet op 20 September die muntstuk op voor die aanvang van die eerste kitswedstryd, met die Australiese kaptein, Aaron Finch (links), en die wedstrydbeampte Chris Broad wat op Old Trafford in Manchester toekyk. Foto: Getty Images

Hoeveel Engelse krieketspelers gaan hulle aan die toerspan onttrek wat aanstaande maand en vroeg in Desember in Suid-Afrika kitsreekse teen die Proteas kom speel?

Dis ’n geldige vraag, gegewe die feit dat dié opsie nou amptelik beskikbaar is vir spelers wat die wêreldkampioen oor 50 boulbeurte in die internasionale arena verteenwoordig.

Eoin Morgan, die Engelse T20- en eendagkaptein, het net vandeesweek gesê spelers kan aan toere onttrek as hulle voel die uitdagings van die Covid-19-pandemie – wat op sportvlak onder meer beteken deelnemers leef in bioborrels – is nie goed vir hul geestesgesondheid nie.

Skuimkop sou ’n raaiskoot waag.

Nie ’n énkele Bleekbeen wat die toergroep haal, gaan vir kaptein Morgs of Chris Silverwood (nasionale breier), laat weet lewe in die borrel iewers aan die suidpunt van Afrika gaan sy kop laat raas nie.

Twee redes.

Eerstens is krieket reeds in Julie in Engeland hervat. Sedertdien het die Wes-Indiese Eilande, Pakistan en Australië daar getoer. Wat witbalkrieket gedurende die Covid-19-inperking betref, het Engeland meer as net ’n handvol internasionale T20- en eendagwedstryde agter die blad.

Benewens dit is die plaaslike meerdag- en T20-kompetisie in die tyd hervat.

Plaaslik begin krieket eers met die meerdagreeks op 2 November, skaars twee weke voordat die Engelse hier aanland.

Die nasionale groep gaan met ’n paar onderlinge oefenwedstryde in die korter formaat probeer om die spelers voor te berei vir die witbalreekse teen Engeland.

Victor Mpitsang, die nuwe hoofkeurder, sal egter grotendeels moet staatmaak op die bydrae van spelers soos Quinton de Kock, Faf du Plessis, Kagiso Rabada en Anrich Nortjé, wat in die Indiese Premierliga darem speelkans kry.

’n Meerdagreeks gaan egter nie die Proteas naastenby dieselfde wedstrydskerpheid as die Engelse gee nie. So as jy ’n Engelsman is wat die opsie het om hier te kom toer, sal jy waarskynlik jou lippe aflek vir die vooruitsig om ’n span te pak wat maande laas saam gespeel het.

Die tweede rede, en waarskynlik ’n sappiger geelwortel, is die veelbesproke bioborrel waar spelers se geestesgesondheid getoets word.

Nou kyk, as Skuimkop moet kies tussen tuisbly te midde van ’n misrabele Engelse winter iewers in Manchester, Derby, Leeds of Leicester en toer in ’n ontluikende Suid-Afrikaanse somer, met verblyf op die spoggerige Pearl Valley-gholflandgoed tussen die Paarl en Franschhoek (waarvan daar vroeër sprake was), is die besluit nie moeilik nie. Hoe laat slaan ons af?

’n Mens kan nie anders as om op te merk watter uiteenlopende rigtings krieket en rugby nou ingeslaan het nie.

Die Springbokke, heersende wêreldkampioen, sê nee vir vanjaar se Rugbykampioenskap om “spelerswelstand te beskerm”. Dis kodespraak vir “ons is ver agter die All Blacks en Wallabies wat wedstrydskerpheid betref en verwag dat ons waarskynlik in elke toets stink op ons whatsisname gaan kry”.

Die Proteas, vyfde op die IKR se eendag- en T20-ranglys, sê ja vir ’n reeks van ses wedstryde teen Engeland (onderskeidelik eerste en tweede op die ranglyste), sonder enige noemenswaardige voorbereiding in dié formate.

Maar nou ja, die reeks kan Krieket Suid-Afrika volgens bronne sowat R70 miljoen in die sak bring. En dis ’n aardige bedraggie.

Skuimkop is egter verheug oor die Engelse se koms. Dis somer en dis tyd vir krieket (so tussen al die uitgestelde rugby).

Dalk is die hongerte om weer te kan speel genoeg motivering vir die Proteas om, ondanks die vooruitsigte van ’n gevaarlike teenstander en die voortslepende raadsaaldramas, te wys hulle kan verras.

• Hopelik het Mark Boucher (Protea-afrigter) Abraham Benjamin de Villiers se selnommer op “speed dial”.

Jis, T-Dawg! Wat doen die Welwitschiashier rondom April, Mei aanstaande jaar? Jurie Roux se waarskynlike gesprek met Theodore Grunewald, waarnemende uitvoerende hoof van die Namibiese Rugbyunie. Foto: Gallo Images

Van bel gepraat

Het Jurie Roux, die SA Rugbyunie se uitvoerende hoof, al die iPhone12 teen die oor, besig om die lyne warm te praat met oorsese rugbyunies?

Synde die Bokke nie vanjaar enige toetsrugby gaan speel nie (Skuimkop dink steeds dit was ’n wyse besluit), moet daar plan gesien word om internasionale wedstryde agter die blad te kry voordat die Britse en Ierse Leeus in Julie aanstaande jaar hier kom toer.

Ter voorbereiding vir “The World’s Greatest Tour” pak die Leeus op 26 Junie die Brave Blossoms van Japan op Murrayfield in Skotland.

Dis hoe ernstig die tradisieryke span, wat elke vier jaar om die beurt na Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika toer, die aanslag teen die Bokke benader.

Nog net twee keer vantevore het die Leeus “oefenwedstryde” op tuisbodem gespeel – in 2005 teen Argentinië en in 1986 teen ’n Res van die Wêreld-span, albei in Cardiff.

’n Superrugby Unlocked- en ’n Curriebekerreeks gaan nie genoeg wees om die Springbokke voor te berei vir toetsrugby nie. Veral nie teen Warren Gatland se honger Leeus nie, wat wraak soek na hul vorige reeksnederlaag hier in 2009.

Kyk na die skrikwekkende stukkie statistiek: speel die Bokke géén toetse in aanloop tot die eerste ontmoeting met Gatland se troepe op 24 Julie nie, sal die span 20 maande laas in die internasionale arena aangetree het.

En soos die Bok-losskakel Morné Steyn, held van die vorige reeks teen die toerspan, vandeesweek tereg opgemerk het: oefenfiks en wedstrydfiks is totaal verskillende konsepte.

Jacques Nienaber (afrigter) kan vir weke lank oefenkampe hou en die ouens topfiks kry, maar as hulle nie in wedstryde speel nie, wag daar probleme teen die Leeus.

Skuimkop hoop dus Jurie gesels reeds met die rugbybase van Frankryk, Italië, Argentinië, Fidji, Samoa, Tonga en Japan.

Maggies, man, bel, WhatsApp, Skype of Zoom sommer Namibië, Uruguay en Georgië s’n ook. Laat die Bokke hulself weer op toetsvlak toets.

Meer oor:  Krieket  |  Bokke  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.