Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
In Frankryk word bulle ronde nulle

Bismarck du Plessis en Frans Steyn is ongetwyfeld twee van die beste Springbokke van dié eeu. En ooit, eintlik. Sal lieg as ek sê ek het nie binnensmonds ge-aggenee om te lees hulle is nie beskikbaar vir die reeks teen die Engelse nie.

Maar die teleurstelling het vervaag by die geheue aan die eindstryd van die Top14.

Ja, Steyn skop nog die bal myle ver, maar niks wat hulle juis in Montpellier se nederlaag teen Castres gedoen het, het gelyk na iets wat die Bokke op toetsvlak makeer nie.

Om die waarheid te sê, min spelers van hier af het al ooit hul peil in Frankryk gehandhaaf nie – selfs ’n yster soos Juan Smith was onherkenbaar toe hy weer die Groen-en-goud aangetrek het en hy was minstens net so uitsonderlik as Steyn en Du Plessis.

Die ander kant van die munt is natuurlik die patetiese Hane wat 50 punte afgestaan het op Eden Park. Die einste Frankryk was nogal die laaste span wat Nieu-Seeland in Auckland geklop het – in 1994, voordat jy spelers openlik kon betaal.

* En natuurlik, laaank voordat die Top14 die lonende aftreeoord vir die wêreld se bestes geword het. Ons Bok-ondersteuners sal maar vir lief moet neem met knaende onttrekkings op die laaste nippertjie. En die feit dat minstens Frankryk darem belowe om van nou tot die eindtye meer versukkeld te wees.

*****

Met die Blitsbokke in Parys – by dié skrywe het hulle pas aan Skotse bloedwors verstik, kry ek gedagte aan Bob Dwyer, wat in 1989 met ’n span groentjie-Wallabies Frankryk toe is. Onder die jongelinge was die Queensland-senters Tim Horan en Jason Little, wat die Haan-veterane Franck Mesnel en Philippe Sella moes dophou.

Deur die week het Dwyer hulle ’n dag of twee afgegee met die opdrag: “Dis Parys en julle jong manne moet dit gaan ervaar.” Dit was nogal revolusionêre sielkunde en jy kan raai dat bloedweinig breiers deesdae daarop sal aandring dat hul spelers die liggies gaan kyk.

* Dat die meeste van daardie span die Wêreldbeker twee jaar later gewen het en Little, Horan en John Eales nóg ene ’n dekade later, sê jou ook pret is ’n bestanddeel in die heel beste spanne se samesyn.

*****

Genoeg van rugby – daar wag ’n maand se internasionale sokker. En al weet ’n man teen dié tyd dat dit eers ná sowat twee weke opwindend begin word, is dit ook orraait.

Meen te sê, niemand gaan na die openingswedstryd tussen Rusland en Saoedi-Arabië kyk en dink dis die apeks van moderne sokker nie. Daar is oudergewoonte ’n openingseremonie en ’n wolf genaamd Zabivaka as gelukbringer.

Teen dié tyd onthou die meeste van ons 2010 net as ons ’n onderbenutte sportstadion iewers sien staan, maar Zabivaka sal moet keer vir sy wickets as hy hoor watter lot ons eie Zakumi te beurt geval het.

Zakumi, ’n anatomies foutiewe leeu met groen kolle wat deur sommige skeptici as vigs-letsels vertolk is, het ná die toernooi nog plek-plek vir liefdadigheid by winkelsentrums en weeshuise vir die mense gaan waai toe Fifa daarvan te hore kom.

Hóé ingat die weleerwaarde sokkerliggaam is, is selde ’n skok, maar arme ou Zakumi se lot sou enigiemand skok. Die grootbase in Zürich laat weet toe dat Zakumi Fifa-eiendom is en derhalwe dadelik vernietig moet word.

* Johannesburg had min keuse – die arme ou leeu is in klein stukkies lap geknip, die hele proses is op kamera vasgelê en sowel die kiekies as sy oorblyfsels is Switserland toe gepos as bewys. Alas, poor Zakumi! I knew him Horatio, a lion of infinite jest.

*****

Mexiko se onderprestering op die internasionale sokkerfront is een van dié sport se grootste raaisels. ’n Yslike, sokkermal bevolking behoort beter te doen.

Dis egter dalk nie so ’n groot raaisel nie.

’n Negetal spanlede van El Tri het glo verlede week buite die stad Mexiko heerlik gekerjakker met ’n stuk of 30 prostitute.

Die Mexikaanse sokkerowerhede het skouerophalend gesê dit was ’n afdag en hulle kon maak soos hulle lus is, al was hulle dan ook lus.

Boonop is dit die derde keer diédekade dat Mexikaanse nasionale spelers in dié soort gemors beland.

* Ek dag El Tri gaan oor die kleure van die Mexikaanse vlag, maar geoordeel aan die getalle spelers en foonsnolle wat saam gepaartie het, is dit dalk Spaans vir “threesome”?

Meer oor:  Louis De Villiers  |  Bokke  |  Springbokke  |  Blitsbokke  |  Wêreldbekersokker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.