Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is Ackers, Swys in Rassie se droomspan?

Op die wispelturige landskap van beroepsport lê die sout van die aarde yl gesaai en dís waarom Swys de Bruin se probleme ons almal s’n behoort te wees.

Swys de Bruin. Foto: Gallo Images

Die Leeus se afrigter het laat verlede week sy span in Nieu-Seeland agtergelaat om terug te keer Suid-Afrika toe. Aanvanklik was daar ’n gerug dat dit weens interne konflik met een van sy base was, maar ek het gesukkel om dit te glo. Dit sal ’n geweldige lelike uitval moet wees voordat ’n afrigter sommer besluit om sy span die rug toe te keer op grond daarvan dat hy vir iemand kwaad is.

De Bruin word in Suid-Afrikaanse rugby geken aan sy integriteit en daarom is sy verduideliking van ’n sensitiewe mediese toestand een wat nie bevraagteken hoef te word nie. Beroepsport is ’n ongenaakbare omgewing, wat geweldige druk op die betrokkenes plaas. Sommige verwerk dit beter as ander.

As Rassie Erasmus inderdaad die tuig as Springbok-afrigter gaan neerlê, behoort Johan Ackermann voor in die tou te staan om hom op te volg. Foto: Gallo Images

Daar is verlede jaar bespiegel dat De Bruin ’n sterk kandidaat sal wees om die Springbokke af te rig wanneer Rassie Erasmus uitsluitlik op sy werk as ’n direkteur van rugby sal begin fokus (ná vanjaar se Wêreldbeker-toernooi).

Vir De Bruin se kennis van die fyner besonderhede van die spel is daar uit alle oorde geweldige agting, maar as hy die Bok-breier word, sal die rapporteringslyne só moet werk dat hy toegelaat word om hom op die eintlike afrigting eerder as die sirkus om die span toe te spits.

Ek glo egter nie dit sal die regte aanstelling wees nie. Die wondere wat De Bruin by die Leeus verrig het, was immers in ’n ondersteunende rol vir Johan Ackermann.

Laasgenoemde, wat die hoofargitek van die Leeus se welslae die afgelope klompie seisoene was, brei tans vir Gloucester in Engeland. Gloucester lê derde op die puntelys in die Engelse Premierliga, agter die Exeter Chiefs en Saracens.

Van al die Suid-Afrikaners wat oorsee afrig, behoort hy eerste op Erasmus se lys te wees van breiers om terug te lok.

Johan Ackermann en Swys de Bruin was ’n gedugte kombinasie by die Leeus. Waarom hulle dan nie saam op nasionale vlak inspan nie? Foto: Gallo Images

Ackermann se intellektuele kapitaal, tesame met sy goeie mensebestuur, sal ’n yslike aanwins wees.

As Erasmus hom heeltyds op die vestiging van rugbystrukture gaan toespits, is dit immers belangrik dat hy Suid-Afrika se intellektuele kapitaal daarbinne huisves.

Van ’n oorsese afrigter vir die Bokke is ek nie ’n voorstander nie. Dis meer as net ’n suiwer afrigtingspos en verg ’n passie en begrip vir die unieke landskap van ons samelewing en rugby wat net ’n Suid-Afrikaner kan snap.

Op die onlangse Varsitybeker-eindstryd het iemand my gevra of dit waar is dat daar ’n poging aangewend word om die Crusaders se afrigter, die voormalige All Black-losvoorspeler Scott Robertson, Suid-Afrika toe te lok.

Indien dit is, sal ek baie verbaas wees as Robertson aan die lokaas byt. Die All Black-breierspos is hom beskore – indien nie ná vanjaar se Wêreldbeker-toernooi nie sekerlik verder in die toekoms.

Suid-Afrika het ook nie nodig om ’n Kiwi aan te stel nie. Daar is vrugte wat laer as dít hang.

Maar ongeag wie dit uiteindelik is, behoort De Bruin se teenwoordigheid in die een of ander hoedanigheid ononderhandelbaar te wees. Spoedige beterskap aan ’n man onder die manne van Suid-Afrikaanse rugby.

Meer oor:  Johan Ackermann  |  Swys De Bruin  |  Bokke  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.