Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is daar nóg laerskool-hardebaarde?
Die o.13’s het geweet hul teenstanders is dalk ’n bietjie aan die groot kant, maar hulle was nie bekommerd nie, want coach het mos in sy spanpraatjie gesê: “Die groot bome val die hardste”. Foto: Getty Images

Dit diep pynlike herinneringe op uit die grafkelders van die geheue, die skoknuus vandeesweek dat vier laaities van ’n spogskool in KwaZulu-Natal rugby saam met 13-jariges gejol het, maar toe al die tyd 16 en 17 jaar oud was.

Die seuns het glo vervalste dokumente by Glenwood High School (GHS) in Durban ingedien en die skool só mislei oor hul regte ouderdomme. Hulle is vanjaar as gr. 8-leerlinge ingeskryf, terwyl kinders van hul ouderdom al in gr. 12 moet wees.

Hulle is intussen uitgevang en geskors.

In Skuimkop se glorielose rugbydae op skoolvlak was daar nie skelmstreke soos dié nie.

Ons A-span, ’n lukrake lotjie plattelanders, was jaar ná jaar ’n teiken vir die veel groter skole in die streek.

En elke nou en dan ook lammers ter slagting vir spanne uit die Groot Stad, wat op ’n voorseisoense toer ’n bietjie in die Boland kom litte losmaak het.

Hoe gróót was sommige van dié kêrels nie, daar waar ons voor die opdrafslag in die tonnel onder die paviljoen langs mekaar stelling ingeneem het. Jy meet mos so uit die hoek van die oog die teenstanders.

Die ou is seker ’n slot? Nee, hy het ’n 13 op sy rug! Daai ou móét die span se afrigter wees, kyk net sy stoppelbaard. Toe nie. Dis ’n plaasvervanger-stut.

Die ou is seker ’n slot? Nee, hy het ’n 13 op sy rug! Daai ou móét die span se afrigter wees, kyk net sy stoppelbaard. Toe nie. Dis ’n plaasvervanger-stut. Nie in die beginspan nie en weeg seker soveel soos ons ganse voorry.

Nodeloos om te sê groot tellings is aangeteken. Kriekettellings. Skuimkop onthou spesifiek ’n 103-3 (nadat Poena Nel binne die eerste minuut ’n strafdoel oorgeklits het om ons kortstondig te laat voorloop). Daarna het die damwal gebars. Sewentig minute van hel. En in daai dae het ’n drie net vier punte getel.

Nou wonder Skuimkop net: As jy met ’n kinderoog kan sien die seuns teen wie jy speel, is eintlik al half-mans, hoe op dees aarde kan ’n lot onderwysers, die skoolhoof en ’n beheerraad nie die verskil tussen ’n 13-jarige en 18-jarige uitken nie? Sommer vier keer.

Hoe is dit hoegenaamd moontlik dat die kinders in gr. 8 ingeskryf is by die spogskool?

Nou is die outjies geskors en Glenwood High School was sy hande in onskuld. Eintlik moet die saak deur die onderwysdepartement ondersoek word.

As dit by een skool gebeur, is die kanse goed dit gebeur by ander ook.

* Skole is verantwoordelik vir elke kind wat toelating kry. Oortredings soos dié maak dus die skool net so skuldig soos die kinders.

Jy kan nie so ’n draaiboek uitdink nie! ’n Hollywood-einde vir die Blitsbokke in Los Angeles. Foto: Gallo Images

En die Oscar gaan aan…

Daar is lelike tale aan’t huis gebesig in die vroeë oggendure op Maandag, 2 Maart, terwyl die Blitsbokke so in die eindstryd van die Los Angeles-toernooi teen die Fidjiane getjommel het.

Met die telling op 19-0 vir die eilandnasie, het Skuimkop oor twee goed gewonder: Was dit die moeite werd om vir dié vernedering wakker te bly en is ietsie sterker as ’n koppie rooibostee nie dalk nou ’n beter opsie nie?

Was dit die moeite werd om vir dié vernedering wakker te bly en is ietsie sterker as ’n koppie rooibostee nie dalk nou ’n beter opsie nie?

Nou ja, ons weet reeds hoe dié enetjie toe uitgespeel het. Die grootste opstanding uit die dood sedert Lasarus van Bethanië.

Nogal heel gepas dat die toernooi in Los Angeles gespeel is, merk ’n kollega vandeesweek terloops op. Dis mos juis die stad waar Hollywood se draaiboekskrywers onwaarskynlike eindes soos dié uitdink.

* Los Angeles is Spaans vir “Die Engele”. En daar was ’n hele paar van hulle – van die beskermengel-soort – op die Blitse se skouers.

Einde van die pad. Die Proteas val vas in die T20-Wêreldbeker-halfeind, maar dis gewis nie weens hul toedoen nie. Foto: Getty Images

Gepraat van rillers…

Hier is vir jou ’n basiese storielyn vir ’n rillerprent so reg uit Paramount Pictures se stal. Of dalk is dit eerder ’n tranetrekker?

Die rolprent speel af op die Sydney Cricket Ground. Dis ’n halfeindstryd. Die Proteas vertolk die hoofrol. Maar hulle word oorskadu deur die byspeler in die vorm van reën. En dan is daar die boewe in die verhaal: die statistici wat die wenteikens wysig wanneer boulbeurte ingeboet word.

Klink dit bekend? Natuurlik. Ons het mos al voorheen die prent gesien.

In 1992, in die Wêreldbeker-toernooi vir mans, moes Suid-Afrika 22 van 13 aflewerings aanteken om Engeland te klop.

Toe kom die reën en die belaglike aanpassing van die teiken: 22 van 1 bal.

Wat ’n wenteiken van 135 in 20 beurte moes wees, word (danksy die D&L-formule) toe ’n meer uitdagende 98 in 13 beurte ná reën spel weer onderbreek het.

Vandeesweek het ons Protea-vroue se T20-Wêreldbeker-veldtog ook tot so ’n hartverskeurende einde gekom. Wat ’n wenteiken van 135 in 20 beurte moes wees, word (danksy die D&L-formule) toe ’n meer uitdagende 98 in 13 beurte ná reën spel weer onderbreek het.

Ons vroue het vyf lopies kort van glorie (en ’n eerste sege oor die gevreesde Aussies) gekom. ’n Hartseerdag.

Maar die span kan met sy kop omhoog terugkeer huis toe. Die spelers het ons trots gemaak.

* Skuimkop glo vas die Vrouteas was (en is steeds) ware rolmodelle en ’n inspirasie vir jong meisies om krieket te begin speel. Daarom is hulle steeds wenners.

Meer oor:  Vrouekrieket  |  Blitsbokke  |  Proteas  |  Skuimkop  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.