Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Is Duane Bok-kaptein se doodskoot?

Terwyl afrigters aanspreeklik gehou word vir wat op die veld gebeur, is die werklikheid dat hul sukses grootliks afhanklik is van die gehalte spelers tot hul beskikking.

Duane Vermeulen hou ’n paar Franse verdedigers besig in Saterdagaand se oorwinning in Parys. Foto: Gallo Images

Al was die sege oor Frankryk uiteindelik maar ’n broekskeur een, het Duane Vermeulen se terugkeer beslis ’n bepalende rol in die oorwinning gespeel.

Die verdere goeie nuus is dat Vermeulen se kontrak met die Franse klub Toulon in Junie verstryk. As ek die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se nuwe direkteur van rugby was (Rassie Erasmus), sou ek onmiddellik werk daarvan maak om Vermeulen terug Suid-Afrika toe te bring met die oog op 2019 se Wêreldbeker-toernooi.

Vermeulen se leierseienskappe en ervaring is broodnodig en dit sou sin maak vir Saru om hom terug te lok na sy geboorteland.

Indien dit wel sou gebeur, is ’n interessante vraag waar dit vir Warren Whiteley sal laat. Onthou dat Eben Etzebeth in Whiteley se afwesigheid slegs as kaptein waarneem.

Vermeulen is nes Whiteley ’n agtsteman.

Die Bok-afrigter – wie dit ook al gaan wees wanneer Engeland in Junie aanstaande jaar na Suid-Afrika toer – kan natuurlik ook besluit om vir Vermeulen flank toe te skuif indien hy vir Whiteley as agtsteman wil behou.

Benewens Whiteley is daar in Jaco Kriel en Jean-Luc du Preez ook ander beseerde losvoorspelers wat aan die deur klop. Minstens sal die Bok-afrigter dan weer ’n paar lekker opsies hê, nadat die spens vir ’n rukkie leeg gelyk het.

Origens is die kombinasie wat Saterdagaand teen Frankryk gespeel het – Vermeulen, Francois Louw en Siya Kolisi – ’n baie nuttige een. Die probleem is dat Louw, soos Vermeulen, oorsee speel (vir Bath) en ook net in die week voor ’n toets by die Springbokke mag aansluit.

Soos sake tans staan, is die verhouding tussen spelers en hul Franse klubs ook kompleks. Frans Steyn, Jan Serfontein en Patrick Lambie se omstandighede is almal van so ’n aard dat dit hul insluiting in die Bokspan moeilik maak.

In ’n ideale wêreld sal ’n mens graag wil hê dat veral Vermeulen ook by oefenkampe betrokke is. Hy is ook ’n speler met die vermoë om die Bokke aan te voer.

Dis byna seker dat Etzebeth fiks sal wees om Saterdag teen Italië in Padova as Suid-Afrika se kaptein op te draf.

Sonder hom en Kolisi, wat terug Kaapstad toe is vir die geboorte van sy tweede kind, sou Coetzee natuurlik met ’n yslike tameletjie gesit het. Indien hy vir Vermeulen as kaptein wou aanstel, sou dit ’n gevaarlike presedent skep, met topspelers wat dit as ’n versagting van Saru se beleid oor die kies van oorsese spelers kon beskou.

Soos sake tans staan, is die verhouding tussen spelers en hul Franse klubs ook kompleks. Frans Steyn, Jan Serfontein en Patrick Lambie se omstandighede is almal van so ’n aard dat dit hul insluiting in die Bokspan moeilik maak.

Des te meer ’n rede waarom Vermeulen terug gebring moet word na Suid-Afrika. Nie om noodwendig die Bokke aan te voer nie, maar om minstens ’n sterk leiersfiguur in die span te wees.

Indien dít die geval is, wonder ek waar Whiteley in die Bok-opset gaan inpas. Tensy daar beserings is, sukkel ek om te sien hoe hy die span gaan haal, laat staan nog die kaptein wees.

Meer oor:  Bokke  |  Duane Vermeulen  |  Jaareindtoer  |  Stephen Nell  |  Springbokke  |  Boktoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.