Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Jake kan groot aanwins vir Bulle, SA wees

Voordat Rassie Erasmus die stoel ingeneem het, was die posisie van Springbok-afrigter ’n baie slegte loopbaanskuif vir enigiemand met langtermynambisies in Suid-Afrikaanse rugby.

Jake White, wat die Wêreldbeker as Springbok-afrigter verower het, kan vir die Blou Bulle ’n groot aanwins wees as direkteur van rugby. Foto: Gallo Images

Jake White, onder wie Suid-Afrika die Wêreldbeker in 2007 gewen het, tel byvoorbeeld onder diegene wat sonder seremonie die deur gewys is. Hy en die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se grootbase was teen daardie tyd al wedersyds keelvol vir mekaar.

Vir die betrokkenes is dit natuurlik moeilik om persoonlikhede opsy te skuif, maar dis ’n onbetwisbare feit dat White se spanne meer wedstryde wen as wat hulle verloor. Dít behoort vir enige regdenkende rugbybaas ’n bekoring in te hou, want dis al hoe jy skares en borge gaan lok.

Met dit in gedagte moet sy moontlike terugkeer Suid-Afrika toe as die Blou Bulle se direkteur van rugby verwelkom word. White ken Suid-Afrikaanse rugby en die unieke DNS van elke streek. Op hul beste speel die Bulle die soort rugby wat Heyneke Meyer daar gevestig het, nie dít wat die voormalige All Black-afrigter John Mitchell vir hulle geleer het nie.

Iemand soos Mitchell kan ’n verfrissende effek hê, maar nooit ’n blywende een nie. Daar gaan iewers langs die pad weerstand opduik, wat die span in gevaar stel om tussen stoele te val. Met White is daar geen grys gebiede nie.

Het die voormalige Springbok-haker James Dalton ’n punt beet oor Jake White of is hy net verbitterd oor gebeure van jare gelede? Foto: Gallo Images

Die renons in White wat die voormalige Springbok-haker James Dalton verlede week in ’n gesprek met my oor sy outobiografie verwoord het, sal hopelik dus nie ’n invloed op rugbybase in Pretoria se besluit hê nie. Die vraag is ook of Dalton regtig ’n rede het om White te haat.

Sy weersin is gewortel daarin dat White jare gelede, toe hy Dalton as Jeppe High School for Boys se eerstespanafrigter afgerig het, nie vir hom voor die skoolhoof in die bresse getree het nie. Dit nadat hy ’n teenstander geslaan en sodoende ’n vuisgeveg tussen twee skolespanne ontketen het.

As Dalton geglo kan word, was dit wel in reaksie op ’n situasie waar teenstanders die aggressor was, maar wat is ’n skoleafrigter veronderstel om te doen? Hande klap vir ’n speler wat ’n free for all ontketen?

Die dekblad van die boek waarin die voormalige Springbok-haker James Dalton na Jake White as “ruggraatloos” en “Jake the Snake” verwys.

Dalton gee wel vir White die erkenning dat hy hom van flank af haker toe geskuif het, want daarsonder sou hy nie ’n Bok geword het nie. Dis met daardie soort kennis in gedagte dat jy iemand van White se stoffasie aanstel.

Dalton self druk ook maar die dolk in ’n paar rûe in sy outobiografie, onder meer met onthullings oor die gebruik van dwelms deur die Bokke in 1997 en ’98. Daarby is baie van sy beste maats uit die onderwêreld gekies.

Hy is wel ’n interessante karakter, lekker om mee te gesels en sy outobiografie is boeiende leesstof. Maar verskoon my maar as ek nie sy mening oor White te ernstig opneem nie.

Vir my is die vraag eerder of die struktuur van ’n direkteur van rugby en hoofafrigter op provinsiale vlak die regte een is. Hoeveel waarde gaan die Bulle uit White put as hy nie die sweep op die oefenveld klap nie?

Na my mening is dit ’n strukturele gesprek, nie een oor persoonlikhede nie. ’n Span wat die kluts kwyt is, het nie ’n nice guy as ’n baas nodig nie. Die oorkoepelende doelwit is immers nie om deurgaans tweede te kom nie.

Meer oor:  James Dalton  |  Jake White  |  Rassie Erasmus  |  Springbok-Afrigter  |  Bulle  |  John Mitchell
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.