Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kaping van blasers los ons met geblaf

As daar nou iets in rugby is wat my grensloos irriteer, is dit die “luidsprekers” wat deesdae in die vorm van skeidsregters op ons rugbyvelde te hoor is. Dit wil byna vir my voorkom asof die eerste vereiste vir ’n skeidsregter in hedendaagse rugby ’n goeie stem is!

dok pool
Dok Pool.

Wedstryd ná wedstryd hoor jy hoe die arme mens sukkel om hom te midde van die gedruis van die toeskouers hoorbaar te maak. Skreeu-bevele soos “leave it”, “back, go back”, “tackler release”, “roll away”, “leave him”, “fall back, you are in front of the kicker”, “keep moving”, “let go” en “use it”, is opdragte aan spelers wat my snags laat rondrol.

Die feit dat elke skeidsregter hom in ’n meerdere of mindere mate hees skreeu, laat ’n mens besef dat dit ’n opdrag van “Bo” is. Vrywillig kan dit nie wees nie; selfs nie vir die mees egoïstiese skeidsregter nie. So waarom doen hulle dit?

In Wêreldrugby se kortsigtige benadering van “kontinuïteit ten alle koste”, het die skeidsregters baie duidelik opdrag om “voorkomend” te blaas. Spelers wat oortree of byna oortree, moet gewaarsku word eerder as om die fluitjie te blaas, die spel te stop en die oortreder te straf. Die spel moet voortgaan en die skeidsregter moet dit “bestuur”!

Glo dit as u wil, maar ’n interna­sionale skeidsregter het op ’n konferensie soos volg geantwoord op my vraag wat hulle onder “bestuur” verstaan. “The art of refereeing is to manage between the laws and the game,” was sy antwoord! Ongelooflik!

Ek het baie simpatie met die byna onbenydenswaardige posisie waarin die skeidsregter hom bevind. Sy dilemma is dat hy nie alleen moet blaas volgens dit wat hy sien nie, maar terselfdertyd moet luister na grensregters wat soms 40 tot 50 m weg van die bal is en ook hul stempel op die spel wil afdruk. Daarby is daar nog die talle kameras wat sy foute kan uitwys, en dit op die groot skerm. Dan moet hy ook nog sy grootbase se opdragte uitvoer, of dit volgens die reëlboek is of nie. Die druk is dus groot.

Ondanks bogenoemde faktore kan ek nie die sogenaamde “bestuur van die spel” goedpraat nie.

Die skeidsregter se taak is om die reëls toe te pas. Nie om af te rig of voor te skryf wat gedoen moet word nie. Daar is geen rede waarom skeidsregters spelers tydens wedstryde moet waarsku nie. Dis die afrigter en die spelers se verantwoordelikheid om te sorg dat hulle die reëls ken.

Dis algemene kennis dat afrigters die skeidsregters se gebruik om spelers te waarsku, uitbuit om die teenstanders se balbesit te vertraag ten einde hul verdedigingslyne in plek te kry; een van die hoofredes vir die vervelige fasespel wat ons deesdae moet aanskou.

In die vroeg 1970’s speel die twee topspanne in die destydse Vyfnasies, Wallis en Frankryk, in Cardiff teen mekaar. By die heel eerste skrum wat Wallis die bal insit, breek die Franse witkopflank en kaptein, Jean-Pierre Rives, ’n oomblik te gou op, net om dadelik weer te bind toe hy besef die bal is nog nie uit nie. Sonder aarseling, en sonder waarskuwing, straf die Ierse skeidsregter hom.

Die res van die wedstryd bly die losvoorspelers behoorlik gebind, dit wil sê van die hand tot by die skouer, en ’n skitterende wedstryd volg.

Agter die skerms is daar dikwels hewige debatte om te probeer keer dat dieselfde reël verskillend toegepas word.

Ek herinner my ’n Sanzaar-bespreking waar ’n betrokke land se skeidsregterleiers aangedring het op ’n bepaalde toepassing van die reëls, wat in stryd met die destyds bestaande reëls sou wees. ’n Suid-Afrikaanse skeidsregter het elke argument ten gunste van die voorstel afgeskiet met die teenargument: “Waar staan dit in die reëlboek? Verander eers die reël, dan sal ek dit doen.” Is dit blote toeval dat hy nie daardie jaar in die skeidsregters se paneel vir die Wêreldbeker was nie?

Dis tyd dat die spelers weer die verantwoordelikheid aanvaar om volgens die reëls te speel. En dat die skeidsregter se oordrewe rol om die reëls te vertolk, ter wille van groter “kontinuïteit”, afgeskaal word. So ’n opdrag sal van Wêreldrugby se kant moet kom.

Die skeidsregter se “bestuur” van die spel moenie met die toepassing van voordeel verwar word nie. Laasgenoemde was nog altyd deel van die spel.

In hierdie tyd van staatskaping wonder ek soms wie het die rugby wat ons deur dekades geken het, gekaap en ons met die sogenaamde “moderne” rugby van vandag gelaat.

* Dr. Gerrit Pool was in die era van dr. Danie Craven as afrigter by Matie-rugby betrokke. Hy het ook in Italië afgerig en was ’n tegniese adviseur van die Springbokke. Hy is deesdae afgetree en woon op Hartenbos.

Meer oor:  Skeidsregters  |  Maties  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.