Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Dis nie SA rugby wat Chiliboy verraai het nie

Aan Chiliboy Ralepelle as ’n rugbyspeler kon ek nooit regtig vat kry nie.

Ek kon hom nie by ’n enkele geleentheid onder Suid-Afrika se voorste drie hakers plaas nie, maar mense in die Suid-Afrikaanse rugbystelsel het tou gestaan om vir hom geleenthede te skep.

In 2006 het hy as ’n 20-jarige die eerste swart Springbok-kaptein geword toe hy voor gedraf het vir die span wat in Leicester teen ’n Wêreld-vyftiental gespeel het.

Enigiemand wat vir my sê dat hy op daardie tydstip van Suid-Afrikaanse rugby ’n beter haker as John Smit, Gary Botha of Schalk Brits was, probeer my vir ’n pop vat.

Jake White, toe die Bok-afrigter, het egter ’n visie gehad wat eenvoudig nie gestalte gekry het nie. Ralepelle was nie goed genoeg nie en dis nie ’n skande nie. Bismarck du Plessis en Adriaan Strauss het immers ook hul toetsbuigings in onderskeidelik 2007 en -’08 gemaak – in Ralepelle se tydgleuf as speler.

Of Chiliboy Ralepelle (regs) langs Tendai Mtawarira in ’n Springbok-skrum moes gesak het, is ’n ope vraag. Foto: Gallo Images

Benewens sy betrokkenheid by die Bokke, is daar vir Ralepelle by die Bulle baie geleenthede in sterk spanne geskep. Hy het soms goed gelyk, maar nooit uitsonderlik nie.

Op 33 trek Ralepelle nou by sy derde positiewe toets vir ’n verbode middel, hoewel ek moet byvoeg dat die eerste een nie op sy rekord hoort nie. Hy en Bjorn Basson, wat ook destyds positief getoets is, het ’n stimulant onwetend ingekry deur middel van ’n aanvulling wat aan hulle gegee is voor 2010 se toets teen Ierland in Dublin.

Die een in 2014, toe hy in Frankryk vir Toulouse gespeel het, staan egter en enige verskoning wat hy vir sy derde positiewe toets bied, sal met goeie rede met agterdog bejeën word.

’n Hele paar mense sal ook aanstoot neem met die soort stellings wat nou aan hom toegedig word. Gegewe dat hy nie kan betwis dat die verbode middel in sy gestel was nie, is dit ’n voorspelbare strategie om die prosedure aan te val. Daar is waarskynlik geen ander manier om die lang skorsing af te weer as om die saak op ’n tegniese punt uitgegooi te kry nie.

’n Stelling dat daar dalk met sy urinemonster gepeuter is, behoort egter as laakbaar beskou te word.

Die mense wat toetse vir die Instituut vir Dwelmvrye Sport behartig, doen dit nie om die geld of glorie nie. Dis nie ’n weg tot rykdom nie en geeneen van hulle sal daarby baat om aan urinemonsters te peuter nie.

Voorts is dit baie gerieflik om so iets kwyt te raak, want die publiek weet nie wie die betrokke beamptes is wat die urinemonster onder hande gehad het nie. Die mense binne daardie geslote gemeenskap weet wel en indien daar gevind word dat Ralepelle só ’n bewering uit die lug gegryp het – wetend dat hy nie daarvoor verantwoordelikheid hoef te neem indien dit as vals bewys word nie – behoort hy hom te skaam.

Die stelsel het Ralepelle beslis nie verraai nie. Hy is die geleentheid gegun om Suid-Afrika op verskillende ouderdomsvlakke aan te voer, iets wat die meeste spelers – wit of swart – net van kan droom.

Op die keper beskou was Ralepelle ’n bogemiddelde haker. Tensy hy suksesvol appelleer teen sy jongste skorsing, sal hy egter as ’n kampioen-bedrieër onthou word.

Meer oor:  Verbode Middels  |  Opkikkers  |  Chiliboy Ralepelle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.