Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Waarskuwing oor WP profeties?

Toe ek vir Peter Jooste in 2018 vra waarom hy homself vir die amp van die Westelike Provinsie-rugbyunie (WPRU) se president beskikbaar stel, het hy gesê hy wil keer dat die WP die pad van ’n klein unie stap.

Het Zelt Marais, WP-rugbyunie se president, ’n plan om die unie voor die einde van Junie uit ’n skuldknyptang te kry? Foto: Gallo Images

“Dít kan gebeur as die unie in die verkeerde hande beland,” het hy gewaarsku.

Jooste het die verkiesing verloor met ’n blok van sowat 60 klubs wat Zelt Marais, sy teenstander, gesteun het.

Met sy waarskuwing oor die unie wat in die verkeerde hande kan beland, het Jooste waarskynlik meer in die rigting geskimp van diegene wat poog om Marais se toutjies in die agtergrond te trek as om ’n uitspraak oor sy bekwaamheid as ’n individu te lewer.

Ons kan dalk in die volgende paar weke weet of die waarskuwing oor kleinuniestatus in Marais se termyn gaan realiseer, want die WPRU moet teen die einde van vandeesmaand sy lening van sowat R58 miljoen aan die sakereus Remgro terugbetaal. Die WPRU sou dit maklik kon doen as hy by die hoofpunte van ’n ooreenkoms met Investec gehou het, wat hy in November verlede jaar vir ’n huurooreenkoms van 99 jaar vir die Nuweland-stadion onderteken het. Investec sou ’n eiendomsontwikkeling daar doen.

Marais en sekere lede van sy uitvoerende komitee wou egter oornag aan daardie ooreenkoms skaaf en gevolglik is onderhandelinge by ’n dooiepunt. Indien dit so bly en inkomste nie van elders realiseer nie, kan Remgro op Nuweland beslag lê omdat ’n verband daarteen geregistreer was as sekuriteit vir die lening. In daardie geval kan Remgro Nuweland sommer self aan Investec verkoop, met die WPRU wat dan ook nog die sowat R50 miljoen moet terugbetaal wat hy reeds by Investec ontvang het.

Peter Jooste, presidentskandidaat voor 2018 se verkiesing van die WP-rugbyunie, het gewaarsku oor die gevolge indien die unie in die verkeerde hande beland. Foto: Gallo Images

Die vraag is dan waar dit die WP laat. Met die kleinuniestatus waarteen Jooste gewaarsku het?

Ons kan maar net vertrou dat Marais-hulle weet wat hulle doen en dat gerugte verlede week dat daar ’n belegger is waarvan niemand behalwe die WP-president en sy binnekring weet nie, korrek is. Wat my egter bekommer, is dat niemand tans weet wie dit is nie. Die sakewêreld en die getal maatskappye wat die koopkrag het om Nuweland aan te skaf en ’n eiendomsontwikkeling daar te kan doen, is te klein vir dit om vir ’n noemenswaardige tydperk ’n geheim te bly.

Sou die WP nou ’n haas uit die hoed vir Nuweland pluk, kan ’n logiese gevolgtrekking wees dat hy heimlik met ’n ander party onderhandel het terwyl hy nie net die hoofpunte van ’n ooreenkoms met Investec onderteken het nie, maar ook dié bankreus se geld gevat het. Jy kan nie so ’n transaksie sommer binne ’n maand deurvoer nadat onderhandelinge van ’n jaar op die nippertjie skipbreuk gely het nie. Die WPRU se trustees sal sekerlik ook nie daartoe instem nie.

Maar wie weet, dalk is daar ’n ander eiendomstransaksie wat die WP se rugbybase gedoen het of ’n inkomstestroom wat hom uit hierdie situasie gaan red.

As die WP-rugbyunie nie voor die einde van Junie ’n groot bedrag geld iewers vandaan kry nie, kan die Nuweland-stadion Remgro s’n word. Foto: Gallo Images

Dat ons bloot hieroor moet bespiegel, is vir my hartseer – veral omdat daar ’n kort rukkie gelede nog baie was om optimisties oor te wees met die Kaapse unie wat besig was met ’n ambisieuse kontrakteringsplan.

Tot Marais-hulle se krediet was dit ook die unie wat die sekuriteit verskaf het vir die spelers se kontrakte. Op die sakevleuel was daar tussen hom en ander direkteure ook baie goeie samewerking.

En toe tref die Investec-bom die Kaapse rugbygemeenskap.

In daardie opsig was die bedanking van Kevin Kiewitz uit die uitvoerende komitee ’n belangrike verwikkeling omdat dit op beginselvastheid dui.

Nou wag almal in spanning. Kom daar ’n onverwagse kontantinspuiting of gaan Remgro op 1 Julie Nuweland as syne verklaar?

Meer oor:  Remgro  |  Investec  |  Westelike Provinsie Rugbyunie  |  Wpru  |  Zelt Marais  |  Nuweland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.