Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Duimpie ’n sewes-reus
Leighton gesels met Branco du Preez

Hy is een van die onbesonge helde van die Springbok-sewesspan, met sy donkiewerk en akkurate skopvoet wat dikwels minder applous ontlok as die skouspelagtige drieë in sewesrugby. Maar dit pla Branco du Preez min dat die lof hom ontwyk, solank hy sy span kan help wen.

Branco du Preez
Trek ore plat en hol! Die Blitsbokke se Branco du Preez sit af op ’n lopie teen Frankryk tydens die sewestoernooi vroeër vanjaar in Hamilton, Nieu-Seeland. Foto: Getty Images

Dié 28-jarige Blitsbok-strydros het die afgelope naweek in sy 69ste sewestoernooi gespeel en ook die rekord van Kyle Brown, nog ’n sewes-staatmaker, in die proses geëwenaar. En met die Blitsbokke wat in Singapoer as kampioen gekroon is, maak dit Du Preez se prestasie soveel lekkerder.

Tans staan hy op 350 internasionale seweswedstryde, waarin hy 1 253 punte vir die Blitsbokke aangeteken het. Dit sluit in 91 drieë, 396 doelskoppe, een strafdoel en ’n skepdoel. In sy hele loopbaan het hy boonop ook nog net een geelkaart gekry.

Dié statistieke dui op hoe roemryk dié skrumskakel van 75 kg se sewesloopbaan, wat in 2010 begin het, tot dusver is.

Maar vir ’n tyd lank in 2016, toe beserings hom sedert 2015 gery het, en hy die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro misgeloop het, moes Du Preez hom uit ’n diep gat kry toe gedagtes om die gordyn op sy sewesloopbaan te laat sak in sy kop bly maal het.

’n Kuier by sy ouerhuis in George, waar sy ouers, Pieter en Maryna, en sy broers, Rayno (36), Delian (26) en Adriaan-Lee (21), raad kon gee, en die wil om steeds uit te troon in die Blitsbok-trui, het hom egter weer op die regte pad gekry.

Soveel so dat hy weer een van die staatmakers is in ’n Blitsbok-groep wat verskeie senior spelers aan vyftienmanrugby moes afstaan.

“ ’n Paar jaar gelede het ek in my 50ste toernooi gespeel en ek het toe gedink dis ’n besonderse mylpaal. Maar nou staan ek op 69, saam met Kyle Brown – een van die bekendste Blitsbokke. Dié mylpaal is wel iets baie spe­siaals vir my,” sê hy.

“As speler dink jy nooit dat jy so ver gaan kom in sewesrugby nie, omdat die spel so onvoorspelbaar is. Dit (die mylpaal) is egter iets wat ek my lewe lank sal bly koester.

Branco du Preez
Branco du Preez .

“Die kersie op die koek is natuurlik dat ons die Singapoer-toernooi gewen het, terwyl ek die mylpaal ook kon vier. Dit was ’n baie spesiale eindstryd.

“Ná die tyd het die trane sommer vanself oor my wange gerol, dis hoe spesiaal hierdie span en trui vir my is. Dis trane van blydskap, want jy weet jy het hard gewerk om deel te wees van so ’n groep.”

Die eindstryd waarna Du Preez verwys, is die een waarin die span teen rustyd met 0-19 teen Fidji agter was en in die tweede helfte so puik was dat hulle die beker met 20-19 gewen het.

Dit was veral die rotsvaste verdediging in die tweede helfte wat die span laat deurtrek het.

Ondanks sy kleiner liggaamsbou het Du Preez die afgelope paar seisoene met ’n paar groot duikslae sy span uit groot moeilikheid gehelp.

Verlede Saterdag het hy juis ’n paar spelers, onder wie die reusagtige Fidjiane tel, hard gelak al was die teenstanders elke keer twee keer sy grootte.

“Ek het besef dat jou hart op die regte plek moet wees as jy goed wil verdedig, anders gaan jy tweede kom.

“Die besluit is eenvoudig: Gaan ek die duikslag doen of nie. Gaan ek my spanmaats in die steek laat of gaan ek my kant bring.

“In sulke wedstryde (teen Fidji, Samoa of selfs Kanada) weet ons ons moet slim boks. Ons besef ons sal twee keer harder moet werk, en as jy hulle van balbesit kan weerhou en by die losskrums seermaak, dan het jy die oorhand.”

Dis egter nie net sukses wat hy met die Blitsbokke smaak nie, die teleurstellings deel hulle ook as ’n span. En van teleurstellings in sewesrugby kan jy Du Preez min vertel.

Hy het al deurgeloop onder verskeie beserings, waaronder ’n ernstige skouerbesering en verskeie dyspier- en liesbeserings wat hom lank uit sewesrugby gehou het. Dis veral daardie skouerbesering, wat in 2015 sy voorbereiding vir die Olimpiese Spele in Rio beduiwel het, wat seergemaak het.

Die Blitsbuks het egter geleer om teleurstellings te verwerk en om dit op ’n positiewe manier in te span.

As hy beseer was, was sy mikpunt altyd om die tyd langs die kantlyn te gebruik om weer sy doelwitte in perspektief te stel.

Wat hy nog in sy sewesloopbaan wil bereik, hoekom hy dit geniet om vir die Blitsbokke uit te draf en om natuurlik die span tot hoër hoogtes te help wanneer hy sy terugkeer maak.

Dis hier waar sy familie inkom en hulle hom baie bystand bied. Hy het veral ’n goeie verhouding met sy jongste boetie, Adriaan-Lee.

“Al vier ons broers het op ’n tyd rugby gespeel. Die rugbygene kom maar van my pa af. My ma het ook netbal gespeel, so ek het altyd in ’n sporthuis grootgeword.

“Ek probeer my jongste boetie met sy rugby help waar ek kan. Hy is ’n haker en by die sewes is ek maar die ou wat by die lynstane ingooi, so dis iets waarmee ek hom help.

“As ek die kans kry om huis toe te gaan (in George) sal ons as gesin altyd tyd saam deurbring. Dis wat vir my belangrik is, familietyd. En natuurlik, soos op toer met my blitsfamilie, het ons ook ’n voorliefde vir Nando’s en dis altyd ’n plek waarheen ons as gesin gaan.”

Die blitsbuks is die hele seisoen al sonder beserings en is tans een van die Springbok-sewesspan se groot uitblinkers in die Wêreld-sewesreeks.

Ek en Selvyn (Davids, die ander skepskopper) plaas baie klem op ons skoppe en om dit te oefen.
Branco du Preez

In 44 wedstryde dié seisoen het hy reeds 91 punte aangeteken wat nege drieë en 23 doelskoppe insluit.

Om vir sy span daardie ekstra twee punte te kan kry wat die verskil tussen ’n wen of verloor kan beteken.

“Ek en Selvyn (Davids, die ander skepskopper) plaas baie klem op ons skoppe en om dit te oefen. Sewes het so onvoorspelbaar geword dat een moeilike doelskop die verskil tussen wen en verloor kan maak.

“Daarom het ons al hoe meer tyd begin bestee aan ons skopwerk.

“Juis wanneer sekere spelers afdae het, sal ek saam met Selvyn ons skoppe oefen.”

Die Olimpiese Spele is ’n teer saak vir hom omdat hy dit vroeër in sy loopbaan weens ’n besering misgeloop het. Nou hoop hy om by Tokio se Spele ’n speelkans te kry.

Die skrumskakel is ook hoopvol om weer sy verskyning in vyftienmanrugby te maak nadat hy speelkans by die Leeus in die Curriebeker-reeks twee seisoene gelede gekry het.

“Ek het die Leeus-opset baie soortgelyk ervaar as die Blitsbok-kamp. Dis beslis iets wat ek in die toekoms weer sal wil ervaar.”

Meer oor:  Sewesrugby  |  Kyle Brown  |  Branco Du Preez  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.