Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mag Dok Moss se waardes voortleef

Saterdagoggend, op die dag van vanjaar se Curriebeker-eindstryd, lui my selfoon. Dis Dawie Snyman, afrigter van die Westelike Provinsie se span wat die Curriebeker van 1982 tot 1986 vyf keer agtereenvolgens gewen het, met slegte nuus: Dr. Cecil Moss is oorlede.

Dr. Cecil Moss / Foto: Michael Hammond

Tot voor sy afsterwe die afgelope naweek, in die ouderdom van 92, was Moss die oudste lewende Springbok. Hy het ’n vol lewe gehad – ’n junior narkotiseur op dr. Chris Barnard se span wat die eerste hartoorplanting gedoen het, Bok-afrigter van 1982 tot 1989 en geliefde spanbestuurder van WP-spanne wat onder Snyman baie welslae behaal het.

Dit was dus gepas dat Chris van Zyl, die WP se kaptein, Saterdagaand die Curriebeker omhoog kon hou. Dit sou vir Dok Moss groot vreugde gebring het.

Bowenal was hy ’n ware heer, wat diep spore getrap het.

Snyman het namens hom, asook kapteins en spelers van die Goue Jare, hierdie huldeblyk gegee:

“Ons het die hoogste agting vir die voetspore wat hy gelaat het en die indruk wat hy op ons lewe gemaak het met betrekking tot rugby, sy diensbaarheid en sy lojaliteit aan Suid-Afrikaanse rugby.

“Daarmee saam betuig ons ons innige meegevoel aan sy vrou en kinders. Ons is baie dankbaar dat hulle hom met ons gedeel het.

“Hy het altyd meer agtergelaat as wat hy geneem het. As elke Suid-Afrikaner daardie ingesteldheid het, draai ons hierdie land binne 12 maande op sy kop.”

Moss se diens aan Suid-Afrikaanse rugby was vernaam voor eenwording in 1992, maar hy het daarna as sameroeper van ’n verenigde keurkomitee van die WP ook ’n belangrike rol gespeel.

Dr. Cecil Moss saam met Carel du Plessis, een van die WP se sterre toe hy in die 1980’s die Curriebeker-reeks oorheers het. Foto: Michael Hammond

Sover my kennis strek het nie ’n enkele vergadering van 12 keurders sonder konsensus geëindig nie. Die potensiaal vir onmin in ’n multikulturele rugbyunie is deur sy leiding ontlont.

Dok Moss se karakter in die rol van spanbestuurder is vir my mooi opgesom in ’n staaltjie wat hy vroeër vanjaar aan my oorgedra het oor die voormalige WP-slot Niel Hugo.

“Niel was mal oor sousbone. Ek sê toe eendag vir my vrou ons moet iets vir dié ou doen, want hy is so ’n goeie mens. Toe die span die een dag oefen, kyk ek waar Niel se toksak lê en gaan sit ek ’n blikkie sousbone daarin. Toe hy wegstap, kyk hy my kant toe en glimlag. Daardie tipe verhouding is baie belangrik.”

Vanweë sy karakter was hy ook die een man wat die WP se geniale en eksentrieke losskakel van daardie era, Michael du Plessis, kon sê om sy mond te hou. En hy kon die moeilike gesprekke met spelers voer oor waarom hulle uit die span weggelaat word.

Deesdae neem dit natuurlik meer as ’n blikkie sousbone en R165 per wedstryd om spelers gelukkig te hou. Daardie was rugby se amateurjare, maar selfs nou kan jy rugbyspelers as mense nie met geld alleen bereik nie.

Dok Moss het die kuns onder die knie gehad. Mag sy waardes in ons rugby voortleef.

Meer oor:  Stephen Nell  |  Cecil Moss
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.