Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Magsbehepte KSA kan by Griekwas leer

Dalk moet die magsdronk ringkoppe van Krieket Suid-Afrika (KSA), wat seggenskap oor basies alle aspekte van die nasionale krieketspan wil hê, by die Griekwaland-Wes-rugbyunie gaan kers opsteek.

Thabang Moroe, uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika, is toenemend onder skoot, omdat hy oënskynlik ’n sê in alle aspekte van die Proteas se afrigting wil hê. Foto: Gallo Images

Thabang Moroe, uitvoerende hoof van KSA, het vroeër dié maand die oë laat rek toe dit bekend geword het dat hy die laaste sê sal hê oor besluite wat die spandirekteur, of afrigter in gewone taal, en direkteur van krieket neem.

Volgens berigte laat dit hom toe om sy mond te rek oor kwessies soos die speelstyl en spankultuur van die nasionale span.

Dit is absurd, was die algemene mening toe Moroe se planne rugbaar geword het. ’n Uitvoerende hoof se posbeskrywing behels die oorhoofse bestuur van ’n organisasie en beslis nie om by afrigtingskwessies betrokke te raak nie.

Wat my terugbring by Griekwas, daardie rugbyunie in die Noord-Kaap wat vanjaar die eerste keer sedert 1998 sy plek in die halfeindronde van die Curriebeker-reeks bespreek het.

Toe Brent Janse van Rensburg laat in 2018 as die Poubloues se afrigter aangestel is, het hy besluit om geen van die hulpafrigters wat onder sy voorganger, Peter Engledow, gedien het, se dienste te behou nie.

Hy het homself omring met mense wat hy ken en met wie hy tevore saamgewerk het – van die hulpafrigter, Scott Mathie, tot die bedryfsbestuurder, Lance Salter. Hoekom? Waarskynlik omdat hy weet dat sy kanse om sukses te behaal soveel groter is met mense wat hy ken en vertrou en sy visie deel.

Brent Janse van Rensburg behaal tans sukses by Griekwas, omdat hy die vryheid gegee is om hom te omring met mense wat hy vertrou. Foto: Gallo Images

Jake White, voormalige afrigter van die Springbokke, het vroeër vanjaar in ’n rubriek die sluier gelig oor hoe moeilik dit is om ’n afrigter te wees. Juis omdat breiers dikwels nie altyd ’n sê in die ander lede van hul bestuurspan het nie, en hulle dikwels as’t ware erf.

Kortom kom dit daarop neer dat indien ’n afrigter self sy bestuurspan kan aanstel en sonder inmenging sy werk kan doen, hy volle verantwoordelikheid kan en moet aanvaar vir sy span se vertoonlys.

Wanneer die kop van Enoch Nkwe, waarnemende spandirekteur van die Proteas, in die toekoms geëis word, gaan hy waarskynlik êrens monduitspoel oor “inmengery” en dat hy nie toegelaat is om sy werk te doen nie.

Natuurlik is dit gevaarlik om een mens (afrigter) te veel mag te gee – iets wat maklik in unies se gesigte kan ontplof.

Maar ten spyte van indrukwekkende woorde soos “sosiale verantwoordelikheid” en “ontwikkeling”, wat dikwels rongegooi word, ding spanne mee om te wen. Net soos wat ’n onderneming se hoofdoelwit is om geld te maak.

In Suid-Afrika is daar unieke uitdagings en afrigters, waarvan almal nie noodwendig oor ’n goeie visie beskik nie, en daar moet boonop dikwels probeer word om met ’n klein begroting oor die weg te kom.

Maar indien ’n breier sonder inmenging toegelaat kan word om te doen wat nodig is om sukses te verseker – solank hy binne die begroting bly – moet hy ook die prys betaal as sukses nie behaal word nie.

Meer oor:  Brent Janse Van Rensburg  |  Ksa  |  Toetskrieket  |  Thabang Moroe  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Curriebeker  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.