Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Maketa se behandeling spel gevaar

As ek Enoch Nkwe was, sou ek kyk na hoe Malibongwe Maketa deur Krieket Suid-Afrika (KSA) behandel is en benoud begin raak. Sommer baie benoud.

’n Paar jaar gelede is Maketa gesien as iemand wat potensieel die Proteas se eerste etniese swart afrigter kon word. As afrigter van die Warriors het hy beïndruk en hy is bevorder tot hulpafrigter toe Ottis Gibson, ’n boorling van Barbados, in September 2017 as Suid-Afrika se hoofafrigter aangestel is.

Malibongwe Maketa was die Protea-hulpafrigter onder Ottis Gibson. Foto: Gallo Images

Terwyl Dale Benkenstein vir die kolfwerk verantwoordelik was, Claude Henderson vir die draaiboulwerk en Justin Ontong vir die veldwerk, het Maketa nie ’n spesifieke dissipline gehad waarna hy moes omsien nie. Gibson het self die boulers gebrei.

Maketa het egter gehelp waar ook al nodig. Hy het ure se harde werk en beplanning ingesit. Voor die Wêreldbeker-wedstryd teen Sri Lanka in Durham, byvoorbeeld, het hy vir Dwaine Pretorius gestaan en balle gooi in die nette.

Daar kan nietemin nie enige blaam voor sy deur gelê word omdat die Proteas met die kolf gesukkel het, of vrot veldwerk gedoen het, of met power naatboulwerk vorendag gekom het nie. Hy was nie vir een spesifieke aspek van die spel verantwoordelik nie.

KSA het ook geweet Maketa is ’n jong, belowende afrigter toe hulle kom as die hulpafrigter aangestel het. Net soos wat Nkwe is, wat nou as die waarnemende spandirekteur aangestel is.

Nkwe kan gerus kyk hoe Maketa eenvoudig eenkant toe gesmyt is toe die Proteas teruggekom het ná hul power WB-veldtog. Maketa sê hy verstaan dit is deel van die werk, maar dit was “sielsvernietigend” om so behandel te word.

Maketa word hoog aangeslaan, sê Corrie van Zyl, KSA se waarnemende direkteur van krieket, maar tog is daar nie in sy rigting gekyk toe daar vir ’n waarnemende spandirekteur gesoek is nie. Hy het onder Gibson geleer, soos wat KSA wou hê hy moes. Hy het die ervaring opgedoen, soos KSA wou hê hy moes.

Maar die nasionale beheerliggaam was verlei deur ’n skitterende jong swart afrigter wat drie trofeë in sy eerste jaar op franchisevlak gewen het en hy is nadergehark.

Maketa het werkloos gesit voordat hy ter elfder ure as die waarnemende SA A-breier aangestel is nadat Russell Domingo die pos aanvaar het om Bangladesj te gaan brei. Ek sê nie Maketa moes as die Proteas se nuwe spandirekteur aangestel word nie, maar hy kon nietemin steeds by die nasionale span betrokke gewees het. KSA slaan hom dan hoog aan?

Enoch Nkwe, KSA se waarnemende spandirekteur. Foto: Gallo Images

’n Mens wonder ook waar hy hom sou bevind het as Domingo in sy pos aangebly het.

Maketa sê hy sal nou geleenthede in die buiteland oorweeg. As hy die land verlaat, sal KSA daaraan skuldig wees dat hy ’n blink jong swart afrigter verjaag het.

Daarom is dit juis vanweë Nkwe se potensiaal, dat sy aanstelling skreiend is. ’n Toer na Indië met ’n onervare span wie se selfvertroue laag is, kan beswaarlik goed afloop.

En ’n mens moet vra – wat gaan dán van Nkwe word?

As daar na KSA se vertoningslys gekyk word, gaan hy ook, soos Maketa, eenvoudig op die ashoop beland terwyl daar na die volgende beste breier gesoek word.

Meer oor:  Ksa  |  Proteas  |  Enoch Nkwe  |  Malibongwe Maketa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.