Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Marais moet nie alleen in spervuur wees

As Zelt Marais se tyd as president van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) voortydig tot ’n einde kom, sal dit my nie in die minste verbaas nie.

Sal dit regverdig wees as ’n mosie van wantroue net vir Zelt Marais, president van die WP Rugbyunie, in die gesig staar nadat hy met die meerderheidsteun van sy uitvoerende raad regeer het? Foto: Gallo Images

Die bietjie meer as twee jaar van sy bewind is gekenmerk aan bedenklike oordeel en verdeeldheid binne die unie én die franchise se sakevleuel.

Maar hokaai, wag ’n bietjie. Die WPRU se uitvoerende raad moet uiteindelik stem oor omstrede besluite soos die veelbesproke eiendomsontwikkeling-vennootskappe met Flyt Property Investment, wat skipbreuk gely het.

Marais kon nie op sy eie daardie besluit deurgevoer het nie, maar het wel die proses gelei wat aanleiding gegee het tot ’n situasie waar die WPRU die gevaar staan om al sy eiendomme te verloor en dalk ’n groot bedrag in skadevergoeding gaan moet betaal.

Volgens Sondag se Rapport het die nuutverkose lid van die uitvoerende raad, Ronald Bantom, saam met ander teen Marais gedraai. Bantom is in November verkies nadat Kevin Kiewitz bedank het.

Hoe ironies. Einste Bantom het ’n groot rol gespeel om te sorg dat Marais in 2018 as president verkies word deur vir hom steun te werf.

Bantom was toe ’n kandidaat om as visepresident verkies te word, maar is dae voor die verkiesing hangende ’n tugverhoor geskors.

Daardie kwessie het op die dag van die verkiesing nog in die hooggeregshof in Kaapstad gedraai, waar regter Gayaat Salie-Hlope beslis het dat Bantom se aansoek om ’n interdik nie as dringend beskou kon word nie en sonder meriete was.

Bantom het die skorsing dae voor die verkiesing voorgehou as ’n slenter om te verhoed dat hy daaraan deelneem.

Hoe ironies. Einste Bantom het ’n groot rol gespeel om te sorg dat Marais in 2018 as president verkies word deur vir hom steun te werf.

Salie-Hlope het egter daardie punt verwerp op grond daarvan dat Bantom nie uitnodigings aanvaar het om op 6 en 18 Oktober in 2018 sy standpunt te stel nie en op 8 November ’n mediese sertifikaat ingedien het met die versoek dat die tugsaak eers in Desember aangehoor word.

Die verkiesing het op 26 November plaasgevind en Bantom is op die 23ste hangende ’n verhoor geskors.

Ná Marais en etlike van die ander lede op sy kandidatelys verkies is, is Salie-Hlophe se uitspraak oor Bantom geïgnoreer en is sowat R200 000 later aan hom betaal om sy regskoste en skade te dek.

Die tugsaak teen hom is ook geskrap.

As Salie-Hlophe se uitspraak in gedagte gehou word, is dit duidelik dat daardie geld nie aan Bantom betaal moes word nie.

Ter wille van konteks – Marais het in Desember verlede jaar op skrif vir my gesê dat die tugsaak teen Bantom eintlik reeds afgehandel was toe dit kort voor die verkiesing weer opkom, en dat daar op raadsvlak reeds ’n resolusie was om dit te skrap. Daar was egter volgens hom nog nie voor die verkiesing daaroor gestem nie.

Nou is daar die wesenlike moontlikheid dat Marais uitgewerk sal word om vir Bantom plek te maak. Of, as alternatief, dat Bantom weer ’n koningmaker kan wees.

Is dit te veel om te verwag dat klubs hierdie soort maneuvers gaan begin raaksien, sake op hul verdienste kan opweeg en daarvolgens kandidate kan verkies?

Een ding staan soos ’n paal bo water. As daar aangevoer word dat Marais drooggemaak het, kon dit nie gebeur het sonder die hulp van ander nie.

Vir die rekord, die volgende mense is in 2018 saam met Marais verkies: Mario Williams, Anele Zita, Quintin van Rooyen, Reuben Riffel, Junaid Moerat, Kiewitz, Nadeema Khan, Peter Jooste, Spencer King en Moneeb Levy.

Kiewitz en King het reeds bedank omdat hulle nie meer akkoord kon gaan met wat op raadsvlak afspeel nie en Marais se magsbasis kan dus onder die res gevind word.

Jooste en Levy was natuurlik nie op sy kandidatelys vir die verkiesing nie en is verlede week as direkteure van die WPRU se sakevleuel verwyder.

Hoe dit ook al sy, die WPRU sal slegs beter daaraan toe wees deur ’n mosie van wantroue te bring teen die hele uitvoerende bestuur.

Die doel – om van voor te begin met nuutverkose leiers – sal die middele heilig.

Die vraag is natuurlik of die klubs wat die WPRU tot in hierdie gemors gestem het se oordeel met die volgende geleentheid in die kol gaan wees.

Meer oor:  Westelike Provinsie  |  Ronald Bantom  |  Wpru  |  Zelt Marais  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.