Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Mitchell se streke laat wrang smaak

Die Westelike Provinsie se rugbybase is die afgelope drie seisoene soms skerp gekritiseer dat hulle besluit het om nie hul direkteur van rugby, Gert Smal, se aanbeveling te volg om John Mitchell as die Stormers se afrigter aan te stel nie.

John Mitchell. Foto: Gallo Images

Nou, ná ’n swak seisoen vir die Bulle se Superrugby-span onder Mitchell, lyk dit of Thelo Wakefield (WP-president), Rob Wagner (WP se voormalige uitvoerende hoof) en Sam Dube (oud-voorsitter van die direksie) in die kol was met die besluit.

Terwyl ek self nie ten gunste van Mitchell se aanstelling in die soms wispelturige en multi-kulturele WP-opset was nie, was ek opgewonde oor wat hy met die Bulle kon vermag en die bydrae wat hy só tot Suid-Afrikaanse rugby sou kon lewer.

Mitchell het inderdaad ook goeie werk gedoen in Pretoria, maar helaas was die Blou Bulle se Curriebeker-veldtog verlede jaar ’n mislukking en het die Bulle vanjaar slegs ses uit 16 Superrugby-wedstryde gewen.

Dis een ding om te bou, maar nie alles is ’n proses nie. Daar was talle jong spelers in die Bulle se span, maar ook ’n ruggraat met gevestigde spelers soos Adriaan Strauss, Lood de Jager, RG Snyman, Handré Pollard, Jesse Kriel en Warrick Gelant.

Mitchell het vanjaar aansienlik minder ernstige terugslae met beserings gehad as die man wat die WP se base uiteindelik bo hom aangestel het by die Stormers, Robbie Fleck.

Tog gaan Fleck waarskynlik net in sy pos aanbly omdat die WP nie die geld het om hom en sy bestuurspan te pos nie. En sy span het ook net ses wedstryde gewen.

As die nuusberigte uit Pretoria in die kol is, het die Bulle se swak prestasie vir Mitchell allermins tot nederigheid gedwing. Die foute was oral elders te vinde en hy het glo ook ’n rits ultimatums gestel, waaronder ’n spelersbegroting van R90 miljoen.

Daarna het gerugte begin loop dat ’n handvol ervare spelers, wat steeds by ander unies gekontrakteer was, ’n skuif na die Bulle sou maak. Dis net mooi daar waar ek snuf in die neus gekry het dat iets snaaks agter die skerms aan’t gebeur was.

Toe my kollega Cobus Claassen daarna die storie breek dat die Engelse Rugbyunie Mitchell as sy nasionale span se verdedigingsafrigter wil betrek, het dinge skielik sin gemaak.

Hy laat die Bulle nie op ’n slegter plek nie, maar dit pla wel dat hy – terwyl hy nog dié unie se direkteur van rugby is – ’n geraas begin maak het oor spelers wat kwansuis nie goed genoeg is nie.

Terwyl ek hier skryf, is Mitchell se skuif Engeland toe nog nie finaal bevestig nie, maar volgens ingeligtes is dit ’n sekerheid.

Daar word reeds bepiegel dat die Bok-afrigter, Rassie Erasmus, as die Bulle se breier kan waarneem. Dít terwyl hy die poste van nasionale afrigter én direkteur van rugby by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie beklee – ’n belaglikheid as daar ooit een was, maar gesprekspunt vir ’n ander dag.

Origens gaan dit seker nie sleg met die Bulle nie. Mitchell se vertoningslys was nie skitterend nie, maar hy het wel tot die ontwikkeling van ’n handvol jong spelers bygedra.

Hy laat die Bulle nie op ’n slegter plek nie, maar dit pla wel dat hy – terwyl hy nog dié unie se direkteur van rugby is – ’n geraas begin maak het oor spelers wat kwansuis nie goed genoeg is nie. Hy wys egter geen vingers na homself nie.

Van buite af het dit begin lyk of die potensiaal daar is vir die huwelik tussen Mitchell en die unie om te verbrokkel.

Nietemin lyk dit nie of die Bulle sleg gaan vaar wanneer die verwagte egskeiding bekragtig word nie. Daar is niks soos vergoeding van R4 miljoen deur die Engelse Rugbyunie vir ’n afrigter oor wie jy in elk geval begin twyfel het, om die wrang smaak uit jou mond te haal nie.

Meer oor:  Rfu  |  Wp  |  Bulle  |  John Mitchell
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.