Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moenie dink Fraser gaan ‘gestraf’ word

Nieu-Seelanders is merendeels goeie mense en rugbyvriende, maar ons moet ook versigtig wees om op rugbyvlak hand op die blaas met hulle te wees.

Hul besoekende spanne glimlag mooi en vertel ons van die “opwaartse kurwe” in ons rugby, maar die Kiwi’s lag ook maar agter die skerms oor die klop op die skouer wat ons by hulle soek en staan verstom oor ons interne politiek.

Mike Fraser, die Nieu-Seelandse skeidsregter oor wie die Stormers ontsteld is ná hul nederlaag teen die Chiefs op Nuweland die afgelope naweek. Foto: Gallo Images

Anders as in Suid-Afrikaanse rugby, kyk die Nieu-Seelanders mooi na mekaar. ’n Goeie voorbeeld hiervan is hul behandeling van die omstrede skeidsregter Bryce Lawrence ná sy hantering van Suid-Afrika se Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Australië in Wellington in 2011.

Lawrence het die Wallabies bevoordeel tot ’n punt waar die samesweringsteorie ontstaan het dat daar ’n breër agenda was om te verhoed dat die All Blacks ’n halfeindstryd teen die Springbokke moes speel.

Ondanks die wye dekking in die media oor Lawrence se brouwerk, is hy later daardie jaar as Nieu-Seeland se Skeidsregter van die Jaar aangewys.

Dit sal my dus verbaas indien Sanzaar, die beheerliggaam van Superrugby, se skeidsregterbaas, die Nieu-Seelander Lyndon Bray, geloofwaardige terugvoering gee oor sy landgenoot Mike Fraser se vertoning as blaser in die afgelope naweek se Superrugby-wedstryd tussen die Stormers en Chiefs op Nuweland.

Dit was vir beide die Chiefs en die Stormers ’n uiters belangrike wedstryd, en ’n onsensitiewe skuif om ’n Nieu-Seelandse skeidsregter aan te stel.

Gert Smal, die Westelike Provinsie se direkteur van rugby, is bekend vir sy integriteit en sal nie om dowe neute sy mond oor Fraser uitspoel nie.

’n Mens moet natuurlik versigtig wees om nie sonder baie goeie rede skeidsregters se integriteit te bevraagteken nie. Die vraag is egter waar die betrokke persoon se lojaliteit onbewustelik lê.

Daar is bitter min terugvoering in die openbaar oor skeidsregters se vertonings, omdat dit moeilik sou wees om die spel te bedryf as blasers konstant in die beskuldigdebank geplaas word.

Ongelukkig is die uitkoms ’n kultuur van ondeursigtigheid en ook ’n situasie waar die skeidsregtersgemeenskap mekaar beskerm.

Ek verwag niks anders nie as Bray wat Fraser se vertoning regverdig, maar daarbenewens is daar ander gesprekspunte oor skeidsregtersake wat ook kop uitgesteek het.

As Suid-Afrikaners kla oor die gehalte van Nieu-Seelandse skeidsregters, sal die Kiwi’s dit dalk ook beskou as die pot wat die ketel verwyt.

Dis byvoorbeeld dikwels verstommend oor hoe onbetrokke assistent-skeidsregters langs die kantlyn is. Daar is minder dinge meer irriterend as ’n knaap wat sy vlag om dowe neute opsteek, maar gegewe hul posisionering is dit ’n klad op die naam van wedstrydbeamptes indien enige span byvoorbeeld ooit wegkom met onkantspel deur opskietverdediging, wat ’n kenmerk van die moderne spel geraak het. Tog sien ons dit gereeld.

Dieselfde geld hakers wat met ooglopend skewe ingooie by lynstane wegkom.

Dan ook is daar die eenvoudige kwessie van die gebruik wat gestaak is om onverbonde skeidsregters aan te stel.

Die reiskoste, asook die impak op skeidsregters se persoonlike lewens deur al die tyd wat hulle weg van die huis was, was natuurlik kwessies wat die beginsel van onverbondenheid laat sneuwel het.

As Suid-Afrikaners kla oor die gehalte van Nieu-Seelandse skeidsregters, sal die Kiwi’s dit dalk ook beskou as die pot wat die ketel verwyt.

Anders as Jaco Peyper is daar nie tans ’n Suid-Afrikaanse blaser wat baie vertroue inboesem nie.

Nietemin laat die Fraser-debakel ’n wrang smaak. Die skade wat ’n swak skeidsregter aan ’n rugbyunie en afrigters se loopbane kan berokken, is enorm. En dan is die blasers meer dikwels as nie onaantasbaar.

En ja, dis beslis nie net die Stormers wat deurloop nie. Wat ek hier sê kan enige ander span ook op ’n gegewe dag geld.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Skeidsregters  |  Stormers  |  Mike Fraser  |  Lyndon Bray  |  Superrugby  |  Sanzaar  |  Chiefs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.