Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moet swak skoolpunte teen spelers tel?

’n Honneursgraad in kwantumfisika gaan eersdaags ’n voorvereiste vir insluiting in die Springbok-span wees.

Goed, dis ’n bietjie oordrewe, maar dis wel waar dat rugbyunies deesdae ’n groot premie op junior spelers se akademiese vermoëns plaas wanneer hulle hul kontraktering doen.

Marco van Staden, oudleerling van die Hoërskool Bekker in Magaliesburg, het die Springbok-groep gehaal al was hy nie in een van Suid-Afrika se groot rugbyskole. Foto: Gallo Images

Min spelers word deesdae in provinsiale junior strukture opgeneem as hulle punte nie goed genoeg is om hul vir universiteitstudie te laat kwalifiseer nie.

Ek het op goeie gesag verneem dat die Vrystaat Rugbyunie byvoorbeeld talentvolle Cravenweek-spelers wegwys as hulle nie vir studies aan Kovsies of die Sentrale Universiteit vir Tegnologie kwalifiseer nie.

Druk deur belangegroepe wat gemoeid is met spelers se welstand het waarskynlik gehelp sorg vir hierdie skuif in fokus, naamlik dat spelers voorberei moet word vir die lewe ná rugby deur aan hulle die kans te gee om te studeer. My vraag is egter: Wat van die lewe tydens rugby?

Is dit reg om talentvolle spelers, dikwels uit voorheen benadeelde gebiede, se opsies te verminder bloot omdat hul punte vir wiskunde nie goed genoeg is nie?

Hoeveel van ons voorste Springbokke uit die onlangse verlede sou nooit hul talente op die internasionale verhoog kon ten toon stel as tersiêre studies ’n absolute voorvereiste vir ’n junior kontrak was nie?

Ek sal eerder nie name noem nie, maar ’n mens sal met ’n lang lys vorendag kan kom.

Rugby is dikwels baie jong kinders se enigste hoop op ’n beter lewe vir hulself en hul naasbestaandes. Hoekom hulle van hierdie geleentheid om hul omstandighede dramaties te verbeter ontneem, bloot omdat universiteitstudie ’n voorvereiste is om ’n kontrak te kry?

Daar moet tog ’n beter manier wees?

Die Bokke en Leeus se staatmaker-slot Franco Mostert, ’n oudleerling van Hoërskool Brits, het gewys jy kan groot hoogtes op die rugbyveld bereik sonder dat jy in ’n groot rugbyskool was. Foto: Gallo Images

Stel jou voor ’n span geoktrooieerde rekenmeesters wat die All Blacks in Dunedin en Engeland op Twickenham moet aanvat.

Terwyl daar van skolerugby en kontraktering gepraat word, is dit ook interessant om op te let hoe min van die huidige Springbok-groep uit Suid-Afrika se sogenaamde super-rugbyskole afkomstig is.

Dit is waar dat Paul Roos Gimnasium, waarskynlik die voorste skolespan in Suid-Afrika vanjaar, drie spelers in die Bok-groep het, maar Tygerberg, wat nou nie juis as een van die land se voorste rugby-voedingsbron bestempel kan word nie, twee Bokke het. Johannesburg se KES, Paarl Boishaai en Affies het ook elke twee oudleerlinge in die Bok-groep.

Dis interessant om daarop te let dat hoërskole soos Swartland, Brits, HTS Drostdy, St Albans, Wynberg, Outeniqua, Bekker, De Vos Malan, Florida, Klerksdorp, Fichardtpark, Jim Mvabaza, Maria Louw en Garsfontein elk ook ’n Springbok in vanjaar se groep het.

Dit is een speler meer as wat Suid-Afrika se befaamde Bok-fabriek Grey-kollege tot die oes van 2018 bygedra het.

Skole soos Milnerton, Brackenfell, Hugenote (Wellington én Springs) en Port Natal het ook in onlangse jare topgehalte Bokke opgelewer. Meeste van dié spelers het tog, ongeag hul skool-affiliasies, hul onderskeie Cravenweek-spanne gehaal.

Die les vir unies, agente en ouers is dus duidelik. Vir ’n seun om ’n Bok te word moet hy net in ’n skool wees wat ’n georganiseerde rugbyprogram en skaflike spanne het.

Hy hoef nie op ’n makroskool se skoolbanke te sit nie. As jy goed genoeg is, sal jy die Groen-en-Goud dra ongeag jou skooldas se kleur.

Meer oor:  Skolerugby  |  Toetsrugby  |  Akademie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.