Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Moroe: Krieket se Musk of Kim-agtige despoot?

Hokaai nou! Stop die bus. Dalk is die boodskap verkeerd vertolk? Die een wat lui dat Krieket Suid-Afrika (KSA) se uitvoerende hoof, Thabang Moroe, voortaan die finale sê sal hê het oor álle besluite ten opsigte van die nasionale span.

Skuimkop dog dis ’n grap. Toe nie.

“As ek sê ’spring’, dan moet julle vra ‘hoe hoog?’ Of is julle te bang?” Krieket Suid-Afrika se uitvoerende hoof, Thabang Moroe, verduidelik sy plan. Foto: Gallo Images

T-Dawg het verlede naweek sy nuwe struktuur aangekondig. Hiervolgens sal die direkteur van krieket vir nasionale spanne verantwoordelik wees.

Onder hom is die spandirekteur, die nuwe benaming vir die nasionale afrigter. Dis nou nadat Ottis Gibson se kontrak in die nadraai van die Wêreldbeker-mislukking in die snippermandjie beland het.

Die bevelstruktuur werk as volg: Die spandirekteur rapporteer aan die direkteur van krieket. Die direkteur van krieket rapporteer aan die uitvoerende hoof. En die uitvoerende hoof rapporteer aan… wel, basies niemand nie.

Gegewe die stand van sake, kan ’n mens seker vra wie is KSA se grootbaas dan nou eintlik.

Is hy krieket se Elon Musk, ’n visionêre dwarstrekker met ’n haas onpeilbare toekomsplan om die sport meer vaartbelyn en verteenwoordigend te maak en sodoende die groei en finansiële voortbestaan daarvan te verseker?

Of is hy krieket se Kim Jong-oen, ’n onwrikbare despoot met ’n haas onpeilbare toekomsplan om die sport te beheer en te manipuleer tot dit inklusief groei toon en sodoende die finansiële voortbestaan daarvan te verseker?

Skuimkop weet nie.

Trouens, nadat die nuwe struktuur ons soos ’n flatus in ’n vol hysbak getref het, is daar meer vrae as antwoorde.

In beginsel, glo Skuimkop, het Thabang edele bedoelings met sy planne. Hy wil die wig wat tans tussen KSA en die spelers – by monde van die Spelersvereniging – bestaan uit die weg ruim. Hy wil ontslae raak van die “ons” en “hulle” wat soos ’n klippie in die krieketstewel is.

Hy wil uit die aard van die saak KSA se kwotabeleid strenger toepas en hy wil die spel op beroepsvlak meer vaartbelyn maak.

Daarom die besluit om die ses franchises – ’n finansiële las vir KSA – te ontbind en 12 semi-professionele spanne eersterangse status te gee.

Op die oog af lyk dit na die tipe (ongewilde) besluite wat ’n uitvoerende hoof soms moet neem om ’n maatskappy te laat oorleef.

Daar sal bloedvergieting wees. Minstens 70 spelers gaan sonder werk sit as die beleid in 2021 in werking tree.

Wat Skuimkop wel bekommer is Thabang se uitspraak dat KSA (lees: hy self, ’n man met geen noemenswaardige agtergrond as speler nie) ook ’n sê wil hê in hoe die Proteas voortaan gaan spéél. En wat die spankultuur moet wees.

Dit, sou ’n mens kon redeneer, kan net mooi die teenoorgestelde uitwerking hê sover dit Thabang se doelwitte aangaan.

Dit kan ’n gróter wig tussen die spelers (en hul verteenwoordiger in die raadsaal) dryf. Dit kan agterdog skep en die krieketgemeenskap – “ons” as ondersteuners en -spelers, “hulle” as besluitnemers – verder van mekaar vervreem.

* Een ding is seker: ’n onstuimige tyd lê voor vir krieket in Suid-Afrika. En so kort voor die Proteas se toer na Indië voorspel dit niks goed nie.

Gegroet, julle grotes

Ons werk hier is klaar, my maat. Hashim Amla en Dale Steyn groet mekaar en groet toetskrieket. Foto: Gallo Images

Die goeies gaan mettertyd. Al wat oorbly is die herinneringe van hul heldedade.

Skuimkop neem met ’n seer hart afskeid van Hashim Amla, wat vandeesweek sy uittrede uit die internasionale arena aangekondig het, en Dale Steyn, wat sy toetsloopbaan vaarwel geroep het om op die korter weergawes van die spel te fokus.

Die Baard het ons ure se kolfplesier verskaf. ’n Kolfgemiddeld van 46.64 lopies in 124 toetse is nie te versmaai nie, al het sy spelpeil die afgelope seisoen dié syfer onder 50 laat daal.

In die kitsweergawe het hy gemiddeld 49.46 in 181 wedstryde aangeteken, wat wys watter waarde hy gebring het. Skuimkop hoop hy bly betrokke by krieket. Met sy talent kan hy die nuwe generasie se kolfkonings help vind.

Ofskoon Dale nog kitskrieket vir die Proteas wil speel, laat sy vertrek uit toetsgeledere ’n massiewe leemte.

Suid-Afrika se voorste toetspaaltjievraat (439) het op sy beste nie sy gelyke in wêreldkrieket gehad nie. Hy was beter as ander grotes omdat hy nie net tuis nie, maar op enige baanblad oor die wêreld heen, gevaarlik was.

* Skuimkop lig die hoed vir die legendes. Julle laat ons met lieflike herinneringe. Dankie.

Meer oor:  Dale Steyn  |  Hashim Amla  |  Ksa  |  Thabang Moroe  |  Proteas  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.