Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skuimkop: Nee, Rassie, dié plan is ‘Bulaglik’

Het die meedoënlose druk waaronder Springbok-afrigters verkeer nou ook Rassie Erasmus se oordeel aangetas?

Rassie Erasmus

Dis die vraag wat Skuimkop homself afvra ná die ongelooflike nuus dat Rassie glo aangebied het om die Bulle volgende jaar in die Superrugby-reeks af te rig.

Dit kan mos nie waar wees nie, of hoe? Maak nie saak hoe jy hierna kyk nie, dit kan nie goedgepraat word nie.

Eerstens sit Rassie reeds op twee stoele, naamlik as Bok-breier én die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby.

By meeste suksesvolle professionele rugbyunies word dié twee poste geskei, omdat dit moeilik vir een mens is om strategies te dink, kontraktering te behartig en as mentor vir ander afrigters op te tree, terwyl hy tussendeur sy moue moet oprol om die nasionale span ook te brei.

Die afrigter doen gewoonlik ook verantwoording aan die direkteur van rugby. So ons het in dié opsig reeds ’n probleem.

Waar gaan Rassie dus, nogal in die jaar voor ’n Wêreldbeker-toernooi, nou nog tyd kry om die Bulle se leisels ook te neem?

Tweedens is hierdie mos ’n duidelike geval van botsende belange en is dit oneties, om die minste te sê. Dink mooi daaraan: Rassie gaan inderwaarheid téén die meerderheid van sy Springbokke afrig.

Maar omdat hy met hulle almal werk op Bok-vlak, ken hy al hul sterk- en swakpunte en sal hy dit tot die Bulle se voordeel kan uitbuit.

In Suid-Afrika sukkel ons op die beste van dae om samewerking tussen die Super-afrigters en die Bokke te kry. Dink net hoe gaan daardie verhouding vertroebel as Rassie ook die sweep in die Bulkraal klap!

* Skuimkop het nog altyd vir Rassie bewonder vir sy vindingrykheid, maar al bedoel hy ook hoe goed, klink dié pleinweg na ’n stupid idee.

Hollywood-bloed in SA

Gepraat van verrassende nuus. Skuimkop verneem vandeesweek Brad Pitt het ’n sterk Suid-Afrikaanse verbintenis.

Trouens, hy het drie broers wat hier in die land bly. Die oudste een boer in die Vrystaat en sy naam is Mielie Pitt. Die naasoudste is ’n vlieënier vir Kulula en sy naam is Kock Pitt.

Die derde broer is heeltemal van koers af en skreeu blykbaar vir die einste Bulle. Sy naam is Stu Pitt.

* Net ’n grappie, ons Bulliewende vriende!

Wanneer breine smelt

Met net ’n doringdraad wat New York en die hel vandeesweek geskei het, het die skeidsregters skynbaar ook die kluts in die ondraaglike hitte kwytgeraak.

Nie almal kon staande bly in die toestande wat deur die Suid-Afrikaanse junior Philip Henning en sy afrigter, MC Olivier, as ’n mengsel van Upington se hitte en Durban se humiditeit beskryf is nie. Hier word die Amerikaanse speler Jack Sock van die baan gehelp weens hitte-uitputting. Foto: Getty Images

Eers het een die Franse vrou Alize Cornet gestraf omdat sy haar hemp vinnig uitgetrek, omgedraai en weer aangetrek het. Toe gaan ’n ander skeidsregter en por die omstrede Aussie Nick Kyrgios aan om tog net ’n bietjie harder te probeer – natuurlik tot die groot ontsteltenis van sy teenstander, want hoe neutraal kan jy wees as jy sulke dinge aanvang?

Die oomblik wat vandeesweek vir groot konsternasie by die Amerikaanse Ope gesorg het.

Maar terug by Cornet. Genade, dit was darem ook nou nie of sy al haar bates aan duisende toeskouers en ’n TV-gehoor van etlike miljoene gewys het nie. Die sportbra wat sy onder haar hemp aan gehad het, het die helfte minder aan die verbeelding oorgelaat as die deursnee bikini-bostuk op Kampsbaai se strand.

Skuimkop wil hom nie skielik as ’n grensvegter vir genderregte voorhou nie, maar hy’s bly om te sien Amerikaanse tennisbase het om verskoning gevra en gesê dat daar nie ’n regulasie in hul reëlboek is wat Cornet se doodonskuldige optrede verbied nie.

Dalk was daai skeidsregter in die Cornet-wedstryd maar net nie baie gewoond nie. Of dalk was dit die hitte.

* Hoe dit ook al sy, dis dalk nie ’n slegte idee as die beamptes saam met die spelers in ysbaddens gaan afkoel nie – hemde is opsioneel!

Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  Skuimkop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.