Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Schalk Brits verdien sy laaste hoera

Jy kies nie ’n sportspan op sentiment nie, maar ek het nog nie vantevore soveel duim vasgehou vir ’n rugbyspeler as vir Schalk Brits in die reeks teen Engeland nie.

Schalk Brits / Foto: Gallo Images

Indien Brits vir Saterdag se toets teen die Rose op Nuweland gekies word, sal dit slegs die 11de keer wees wat hy vir Suid-Afrika uitdraf. Na my mening is dit 100 toetse te min.

Op toetsvlak is Brits die grootste onvervulde talent wat ek tot nog toe gesien het. Hy was in sy loopbaan ewe vaardig as enige superster wat Nieu-Seeland al opgelewer het.

Daar sal seker gesê word dat Brits ongelukkig is dat hy in dieselfde era as besonder goeie Bok-hakers soos John Smit, Bismarck du Plessis en Adriaan Strauss gespeel het, maar sy talent is in Suid-Afrika eenvoudig nie na waarde geskat nie.

Nie eers Bobby Skinstad in sy fleur het só ’n sterk saak vir ’n keuse op die plaasvervangersbank as Brits gehad nie. Skinstad was ’n nr.7-flank of agtsteman, terwyl Brits haker, enige plek in die lostrio en selfs senter sou kon dek.

In die woorde van Brendan Venter: “Schalk Brits is die beste speler wat ek ooit afgerig het. By Saracens vertel hulle Chuck Norris-grappe oor hom.”

Hoe is dit dan dat Brits vir meer as ’n dekade misgekyk is in terme van sy natuurlike talent? Hy moes selfs die Westelike Provinsie verlaat om homself as ’n speler by die Goue Leeus te bewys alvorens hy terug Kaap toe gelok is. En daarna is hy na Saracens in Engeland toe waar hy een van die beste en gewildste spelers in die geskiedenis van hul Premierliga geword het.

Die aanvanklike kritiek op Brits was dat hy nie sterk genoeg was in die vaste fasette nie. Vele “kenners” het gemeen hy skrum nie sterk genoeg nie en sy ingooie by die lynstane is nie akkuraat genoeg nie.

Tog het sy Engelse klub Saracens met hom as haker sterk geskrum en puik lynstaan-statistieke gehad.

Soms voel dit soos ’n Suid-Afrikaanse siekte dat ons swakpunte vir uitsonderlik talentvolle spelers gaan soek.

Andries Bekker, wat ’n besonder balvaardige slot was, het volgens vele kenners te veel in die agterlyn geboer. Skinstad was kwansuis nie fisiek genoeg nie.

Selfs Victor Matfield – moontlik een van die beste nr.5-slotte in die geskiedenis van wêreldrugby – het gebuk gegaan onder kritiek dat hy te los speel.

Brent Russell, Gio Aplon en selfs die Bok-afrigter, Rassie Erasmus, op sy dag ’n vindingryke flank, kan ook in dié kategorie val.

Met die uitsondering van Matfield het die spelers wat ek hier bo noem dít gemeen dat hulle te min toetse vir die Bokke gespeel het.

Dit gebeur soms met spelers wat gevier behoort te word en iets uniek bied. Eintlik is daardie uniekheid iets wat ’n mens graag in elke Bok wil sien. Dit behoort allermins die rede te wees dat hy nie na waarde geskat word nie.

Heel moontlik is Saterdag se toets teen Engeland Brits se laaste in die Groen-en-Goud. As dit wel so is, is daar nie ’n speler of mens wat dit meer verdien nie.

Meer oor:  Schalk Brits  |  Bokke  |  Stephen Nell  |  Toetsrugby  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.