Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Nieu-Seeland se media sit die wind in wintie

Die Nieu-Seelandse webwerf Stuff se voorskou oor gister se Superrugby-halfeindstryd tussen die Crusaders en die Hurricanes in Christchurch had ewe vermetel die opskrif “Let the real Super final commence”.

As ’n Kiwi darem eers aan die neul raak, is hy soos ’n bulhond met ’n been. Min tot g’n mense hou van Superrugby se konferensiestelsel nie, maar dis hoe dié toernooi deesdae beslis word en Nieu-Seelandse rugbybase was ewe aandadig daaraan as hul Australiese en Suid-Afrikaanse eweknieë.

Soos dinge toe gister gebeur, verfomfaai die Crusaders-agttal dié van die Hurricanes sodanig dat die Wellingtonners na ’n half paniekerige gepeupel lyk – “real final” se hele vet voet in ’n visblik.

Seg al jare: Sodra ons noord gaan speel, sal Nieu-Seeland se rugbybegroting ’n yslike wind sluk, terwyl Suid-Afrika ryker sal word in die proses en minder spelers verloor. Superrugby is goed vir die Nieu-Seelanders en niemand anders nie.

  • En so van “real final” gepraat – vanjaar kon hulle eintlik maar sommer uit die staanspoor die dêm beker vir die Crusaders gegee het en die res van ons ’n reddeloos onlogiese, saaie kompetisie gespaar het.

*****

Gepraat van neul – dis oor twee weke weer die Engelse Premierliga. Selfs al dink jy dié kompetisie word redelik oorskat, moet jy erken dat dit – anders as Superrugby – al die regte knoppies druk om wêreldwye belangstelling gaande te maak.

Dis vinnig, mededingend, propvol persoonlikhede en die stampvol, singende paviljoene naweek na naweek maak dat enige TV-kyker effentjies spyt is hy belewe dit nie langs die veld nie.

Een van dié persoonlikhede is José Mourinho, Manchester United se bestuurder. Dis 14 seisoene sedert Mourinho by Chelsea aangekom het as Kampioene-ligawenner met Porto en ingenome verklaar het: “Ja, ek is ’n spesiale ene.”

Hy het Chelsea murg in die pype gegee, maar drie seisoene later is hy suur vort by Stamford Bridge.

Daar word – oortuigend – oor Mourinho geskinder dat hy orals in sy tweede seisoen die liga wen en in sy derde met sy spelers begin ba­klei.

Dit was laas sy tweede seisoen by United en dit was bekerloos – nou kerm hy reeds oor al sy spelers wat ná die Wêreldbekertoernooi moet rus.

  • Dis natuurlik waar van al sy vernaamste teenstanders ook, maar die “spesiale ene” is deesdae eerder “die suur ene” – as hy in die voorseisoen in sonnige Kalifornië klaar so dikbek is, dink net hoe hy in Januarie sal klink op ’n koue, nat aand in die Engelse noordooste.

Maar soos sy rugby-eweknie, Eddie Jones, moet jy Mou dié ter ere nagee: hy kan ’n bietjie byt aan die saaiste kragmeting gee.

*****

Vanjaar se Tour de France het plek-plek só handuit geruk dat ek eers dag dit was toeskouers wat traangas op die fietsryers gespuit het toe ek Dinsdag die opskrifte sien. Blyk toe natuurlik ’n oorywerige gendarme te wees wat ’n boereprotes in die
visier gehad het voordat ’n briesie sowel polisieman as fietstoer laat stik het van die gas.

Sulke protesterings is natuurlik taamlik gewoon in Frankryk en dis allermins die eerste keer dat daar betoog word langs die Tour.

Franse boere is nie skaam om ’n bietjie ontwrigting te veroorsaak nie. Een van die uwe se weinig politieke helde is die Franse boere-aktivis José Bové, wat in 1999 ’n maand en ’n half in die tronk was ná ’n protesaksie teen ’n nuwe McDonald’s iewers in Aveyron.

Die idee was dat die boere “le Macdo” stukkie vir stukkie uitmekaar skroef en die dele daarvan in ’n stapel op die perseel te los. Niks moes vernietig word nie, was die plan. Dinge loop toe skeef.

  • Toe Bové, ’n skaapboer, agterna uit die tronk kom, het hy verduidelik: “Ons wou ons punt maak sonder om enigiets te breek. Maar toe ou Rémy daar opdaag met ’n kettingsaag, was dit onmoontlik om met hom te redeneer.”

*****

Fietstoere en toetskrieket is my gunsteling agtergrondsporte. Albei het ’n unieke ritme wat beteken dat jy ure lank kan kyk. Jy kan konsentreer óf net een oog op die aksie hou terwyl jy met die ander oog probeer werk. En as dit vervelig is, is die prentjie darem meestal mooi.

Dan kry jy toetskrieket, soos dié wat die Proteas teen Sri Lanka opgedis het. Almal het ’n eiertjie daaroor te lê gehad dat Ottis Gibson dit jou wrintie goedgedink het om die Colombo-blad met ’n enkele draaibouler aan te durf. Kyk, in die dae toe Suid-Afrika g’n regte draaiboulers gehad het nie, sou dit ’n vergeeflike flater gewees het, maar nou nie.

  • Rustige agtergrondsport? Watwo. Die Proteas se kolfwerk het gemaak dat ek my arme honde skoon buitentoe gevloek het.
Meer oor:  Louis De Villiers  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.