Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Nuwe’ KSA moet gou spring voor toer

Die pen is magtiger as die swaard.

Dit het Thabang Moroe en Krieket Suid-Afrika (KSA) verlede week tot hul spyt uitgevind.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - SEPTEMBER 26: Thaban
Thabang Moroe / Foto: Gallo Images

Oor die afgelope paar maande het Moroe, wat Vrydag tydelik geskors is as uitvoerende hoof, en sy trawante stelselmatig in die moeras weggesak.

Tog het hulle steeds ’n houvas op sake gehad.

Wat die sweer egter laat oopbars het, was toe vyf krieket-joernaliste se akkreditasie voorverlede naweek teruggetrek is omdat hulle nie bloot net meelopers van KSA was nie.

Dit het die Suid-Afrikaanse krieketlandskap laat regop sit en die finale strooi vir Moroe was toe Standard Bank Vrydag kennis gegee het dat hy sy borgskap gaan onttrek.

Die situasie met die joernaliste het gewis ’n groot rol in daardie besluit gespeel.

Selfs iemand soos dr. Ali Bacher, ’n voormalige grootbaas van Suid-Afrikaanse krieket, wat nog altyd die waarde van publisiteit besef het en ’n goeie werksverhouding met die media het, het gesê dit was onaanvaarbaar dat die akkreditasie sonder enige geldige redes teruggetrek is.

In my tydperk aan die stuur was daar ook een of twee joernaliste wat ek graag in die see sou wou gooi, het Bacher gesê, maar bygevoeg dit is onaanvaarbaar om krieketjoernaliste se reg te wil ontneem om hul werk by die velde te doen.

Nog ’n gerespekteerde administrateur het gesê Moroe en sy trawante het duidelik die trefkrag van die media onderskat.

Met Moroe en sy faksie was KSA op pad na nêrens. Dit is ’n baie goeie ding vir Suid-Afrikaanse krieket dat daardie sweer kon oopbars en dat ervare en gerespekteerde krieketlui soos dr. Jacques Faul en Dave Richardson nou betrek word.

Die groot vraag is egter nou of hulle toegelaat gaan word om hul eie stempel af te druk. Of gaan hulle bloot marionette moet wees van die voorsitter, Chris Nenzani, en die KSA-raad?

Faul en Richardson is sterk genoeg om so iets nie te duld nie en so ook Graeme Smith, sou hy die kontrak onderteken om die direkteur van krieket te word.

Vir die deursnee-ondersteuner is die binnewerking en selfs binnegevegte in KSA nie belangrik nie.

Al wat vir die meeste ondersteuners saak maak, is dat die span op die veld vertoon. Solank dit gebeur, skeel dit hulle min wat in die raadsale gebeur en wie en wat die administrateurs doen of selfs wie hulle is.

Meeste spelers sal selfs nie eens weet wie die persone in die KSA-raad is nie.

Sou Suid-Afrika die toetsreeks teen Engeland wen, sal sake weer vir die meeste ondersteuners klopdisselboom wees.

NOTTINGHAM, ENGLAND - JULY 14 : Joe Root tosses th
Joe Root, kaptein van Engeland en sy Protea-eweknie, Faf du Plessis. Foto: Getty Images

Dit is egter wanneer dinge op die speelveld verkeerd loop, dat hulle begin vrae vra oor hoekom die vis dan van die kop af vrot.

Daardie skakel tussen spelers en administrateurs en die effek wat sake in die raadsale het, is meestal onlosmaaklik van mekaar.

Die realiteit is dat in die week wat Engeland in die land aankom vir tradisioneel een van die grootste toere op die krieketkalender, is daar nog onsekerheid oor die afrigtingspan en daar is geen teken van nasionale keurders nie. Om nie eens van ’n toetsgroep te praat nie.

Daar is ook nog nie spanne gekies vir die opwarmwedstryde wat aanstaande Dinsdag begin nie.

Suid-Afrikaanse krieket bevind hom gewis in ’n doodloopstraat.

Faul en sy helpers moet vinnig en daadwerklik optree om die betreurenswaardige situasie te probeer beredder.

Hul grootste taak gaan wees om borge te probeer oortuig hul geld word nog in KSA belê, maar hulle moet ook saam met die nuwe direkteur van krieket seker maak dat Suid-Afrika op die speelveld met die Engelse sal kan saampraat.

Ondersteuners soek sukses op die veld.

Die KSA moet besef ondersteuners is ’n bitter belangrike skakel in die krieketketting.

Meer oor:  Ksa  |  Toetskrieket  |  Thabang Moroe  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Jacques Faul  |  Ali Bacher
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.