Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Olivier: Te jonk vir Kolpak-kontrak
Duanne Olivier / Foto: AP

Duanne Olivier het die reg om sy krieket te speel nét waar hy wil.

Hy het as beroepspeler net so ook die reg om oor sy eie toekoms te besluit en te werk vir wie hy wil.

Die blitsbouler het vandeesweek sy besluit bevestig dat hy sy rug op internasionale krieket gekeer het en voortaan in die Engelse graafskapreeks vir Yorkshire gaan speel.

Dit beteken egter nie dat hy die regte besluit vanuit ’n krieket- of ’n finansiële oogpunt geneem het nie.

Ek het dié week ’n lang gesprek gehad met ’n gerespekteerde agent, wat glo dat Olivier té vroeg sy rug op internasionale krieket gedraai het en dat die kans om ’n Kolpak-kontrak in die toekoms te sluit, steeds daar sal wees.

Hy glo ook as jy ’n Krieket Suid-Afrika-kontrak, wedstrydgeld en beeldregte in ag neem, sal Olivier tussen R2 miljoen en R2,5 miljoen per jaar in Suid-Afrika kon verdien.

As jy ’n Krieket Suid-Afrika-kontrak, wedstrydgeld en beeldregte in ag neem, sal Olivier tussen R2 miljoen en R2,5 miljoen per jaar in Suid-Afrika kon verdien.

Die agent sê hy kan nie sien dat Olivier veel meer in Engeland sal kry nie gegewe die huidige stand van die finansies van die graafskappe in Engeland.

“Yorkshire, vir wie Olivier gaan speel, het onlangs baie geld aan sy stadion bestee en is een van die armer graafskappe.”

Baie kenners glo dat die voortslepende Brexit-krisis in Brittanje een van die beweegredes agter die besluit was. Met die eerste Brexit-sperdatum wat op 29 Maart is, bestaan die vrees dat SA spelers daarna nie weer die geleentheid gaan kry om ’n Kolpak-kontrak te onderteken nie.

Die agent meen egter dat niemand weet wat die uiteinde van die Brexit-onderhandelinge gaan wees nie.

“Die mense met wie ons in Engeland praat, glo ook dat dit in die toekoms dalk selfs makliker vir buitelandse spelers van buite gaan wees om daar te speel, met die nuwe Engelse Hundred-toernooi, wat meer spelers van oor die wêreld heen wil lok.”

Kolpak-kontrakte is ’n skuiwergat in Europese wetgewing wat spelers van lande met handelsooreenkomste met die Europese Unie (waaronder Suid-Afrika, Zimbabwe, sekere Karibiese Eilandnasies en sekere van die Suidsee-eilande) in staat stel om as plaaslike spelers in Brittanje te speel. Dit vereis egter dat ’n speler dan nie meer beskikbaar mag wees vir internasionale krieket nie.

Die meeste spelers wat deur die jare Kolpak-kontrakte gesluit het, het dit aan die einde van hul loopbane gedoen of was spelers wat nie deel van die Proteas se planne was nie.

Rilee Rossouw

Twee uitsonderings was Rilee Rossouw en Kyle Abbott.

Die 26-jarige Olivier is tans in die fleur van sy loopbaan. Dit is hoogs waarskynlik as hy sou besluit het om nog ’n jaar of twee internasionale krieket te speel, dat hy steeds daarna ’n kontrak met ’n graafskap sou kon sluit.

Sy besluit maak slegs sin as hy en sy verteenwoordigers gevrees het dat daar nie weer só ’n geleentheid ná Brexit sou wees nie.

Die agent sê hy dink dit is eerder die algehele onsekerheid rondom die politieke situasie in Suid-Afrika en dan ook die onsekerheid in SA krieket, wat spelers noop om Kolpak-kontrakte te sluit.

Dit is miskien waar ’n driejaar-kontrak by Yorkshire swaarder weeg as enige Protea-oorwegings.

Meer oor:  Duanne Olivier  |  Engeland  |  Yorkshire  |  Toetskrieket  |  Eendagkrieket  |  Proteas  |  Kolpak  |  Rubriek  |  Kontrak  |  Oorsee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.