Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ondersoek WPRU se transaksies

Hoe kommerwekkend die dagvaarding wat deur Dream World Investments 401 op die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) beteken ook al is, is die positiewe aspek dat niks ten opsigte van die oorspronklike transaksie tussen die partye weggesteek kan word nie.

Zelt Marais, president van die WP Rugbyunie, kan nie alleen verantwoordelik gehou word vir probleme by die Kaapse unie nie. Foto: Gallo Images

Die WPRU se verkose beamptes het geen ander keuse nie as om dit op versoek aan klubs beskikbaar te stel, want dis ’n hofrekord en dus ’n openbare dokument.

Dié transaksie was nouliks gekoppel aan die een met Flyt Property Investment vir eiendomsontwikkeling by die Nuweland-stadion en Brookside.

Die WPRU betwis nou die geldigheid van albei.

Die Flyt-affêre sal na verwagting deur ’n proses van arbitrasie besleg word, maar die eis deur die eiendomsontwikkelaar gaan glo honderde miljoene rande beloop. Dít benewens Dream World se eis van sowat R145 miljoen.

Kortom, die WPRU het probleme en ek glo hy sal beter daaraan toe wees deur dit om ’n onderhandelingstafel op te los eerder as om ’n uitgerekte en duur stryd in die hof te voer.

Dit is ook nou tyd vir die WPRU se klubs om tot aksie oor te gaan. Hiermee verwys ek nie na sogenaamde “mosies van wantroue” nie. Die mislukking is kollektief van aard en Zelt Marais, die WPRU se president, het nie op sy eie gehandel ten opsigte van die mislukte transaksies nie.

Lede van die unie verdien antwoorde. Ek glo dit moet kom deur middel van ’n onafhanklike ondersoek in finansiële probleme wat die unie raak, ingesluit die effek van die voorgenome transaksies met Dream World en Flyt.

Die kernwoord hier is “onafhanklik”. Sodat beamptes nie kan aanvoer dat hulle onregverdig geteiken word nie.

Die feit bly staan dat die WPRU homself vasgebind het en in die proses – vir alle praktiese doeleindes – finansieel lamgelê is.

Vir hoeveel langer gaan die WP die tuiste van ikoniese rugbyspelers wees as hy op sy huidige finansiële trajek bly? Foto: Gallo Images

Hy het ’n lening van R110,7 miljoen by Dream World aangegaan en sy eiendomme is as sekuriteit daarvoor aangebied. Om nou elders geld te leen gaan uiters moeilik wees, want daar is nie bates om as sekuriteit te bied nie.

Het die oorspronklike transaksie met Flyt voortgegaan, sou die WPRU waarskynlik die lening by Dream World terugbetaal het uit sy deel van die ontwikkelingsooreenkomste. In daardie geval sou sy kontantvloei, soos dit onder gewone omstandighede daarna uitsien, nie belemmer word nie.

Noudat daardie transaksie nie voortgaan nie, is dié opsie nie meer op die tafel nie.

Die bepalings van die lening by Dream World (waarvan die geldigheid deur die WPRU betwis word) sluit ook in dat die Kaapse unie nie sonder toestemming meer as R10 miljoen elders mag leen nie.

Of die Flyt-transaksie werklik nadelig vir die WPRU sou gewees het, kan nie beantwoord word sonder dat insig daaroor verkry word nie.

Die WPRU sou wel gelyke vennote in ontwikkelings by Nuweland en Brookside gewees het, maar wat in die fynskrif staan is in die stadium nie vir Jan en Alleman beskore nie.

Dit is wel lede van die WPRU se reg om te weet.

As albei transaksies boonop binne die bestek van ’n maand beklink is, is die haas waarmee dit gedoen is opsigself ’n kwessie.

Die WPRU se leiers sal dalk daarop wys dat die geldigheid van alles in ’n regsaksie betwis word, maar die wolwe is juis weens hul handeling by die deur.

Om deurlopend prokureurs in te span om jou doen en late te verdedig en regverdig, is boonop duur. Dít terwyl die moeilike finansiële omstandighede ’n invloed op die dagpersoneel het.

Die tyd het dus aangebreek om alles oop te gooi. Fynkam die boeke, ondersoek die Dream World- en Flyt-transaksie, en gee aan die Kaapse rugbygemeenskap die helder prentjie wat hy verdien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.