Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Ou Bok-laai om vir Mickey Mouse te skrik

Is die Springbokke werklik so pateties as wat nou uitgemaak word?

Of was Mendoza maar net nog een van daardie tragiese inploffings wat ons Bokke van tyd tot tyd oorkom?

As die Bokke so sleg is as wat ná verlede Saterdag se loesing gesê word, sou hulle konstant sleg gewees het. En konstant verloor het.

Dit gebeur nie.

Hulle is soms rooiwarm. En soms blou van die koue.

Maar hulle is nie hopeloos sleg nie.

Daar is wel vrot kolle wat gehalte, besluitneming en uitvoering betref. Maar dit gesê: Ek sal die Bokke steeds 3 teen 1 gee om die All Blacks te klop as dit ’n voorspelerstryd tussen ons beste agt en hul beste agt is.

So, waarom kom die Bokke se wiele af teen teenstand wat hulle vir brekfis behoort te kou?

Twee jaar gelede het ek geskryf dat die Springbokke, en ook die volle spektrum van ons Superspanne, aan die sagtekop-sindroom ly.

In my rubriek toe het ek geskryf: Suid-Afrika het ’n tyd lank nou ook die nuk van wispelturigheid. Maar daar is niks romanties daaraan nie. Dis eerder ’n stigma. Bejeën dit met krasheid, want dit is die kenmerk van die “sagtekop-sindroom”.

Vat voorverlede jaar se wen- en verloortoetse. Die Bokke skraap op hul nerwe deur met 31-30 teen ’n nie-te-wat-wonderse Walliese span in Nelspruit. Daarna klop hulle Nieu-Seeland 27-25, verloor teen Ierland, klop Engeland en konk wraggies weer in teen Wallis.

Verlede jaar was dit net so op en af. Die Bokke verloor 27-20 teen die All Blacks nadat hulle nog 10 elk gelyk getrek het rustyd. Hulle verloor teen Argentinië in Durban, maar klop Argentinië oorsee. Toe verloor hulle teen Japan. Teen Nieu-Seeland is hulle rustyd 12-7 voor, maar verloor toe tog 20-18.

Dis nie vrot Bokspanne wat teen ’n paar gemiddeldes en dan ook nog teen ’n paar Mickey Mouse-spanne verloor nie. Vat maar die span wat daardie historiese eerste teen die Argentyne in Durban in 2015 verloor het. Heyneke Meyer was die Bok-afrigter. Jean de Villiers was die kaptein; Bryan Habana, Bismarck du Plessis, Schalk Burger en ’n swetterjoel van die beste belowendes het daardie dag gespeel.

Op daardie dag was hulle egter vrot verby. En hulle het sleg op hul herrie gekry!

Hulle was nie aangeskakel nie. Soos die Bokke ook nie aangeskakel was teen Japan of Italië of Skotland nie. En ook nie in Mendoza nie.

In Superrugby sien ons dieselfde aan-af-storie. Die Leeus verloor teen die treurige Blues! Die vorige naweek se vuurwarm Haaie verloor teen die treurige Bulle en só is ons spanne een naweek aangeskakel en die volgende een afgeskakel.

Die vraag is seker dan: Hoe professioneel is ons spelers? Is hulle maar net in naam professioneel omdat hulle ’n salaris kry in ruil vir rugby speel?

Waar is hul professionele ingesteldheid en toewyding? Waarom is hulle een week so klinies soos ’n roofdier en die volgende week soos lammetjies ter slagting?

Die wêreld en sy maat is nou op Rassie Erasmus se nek. Daar word derms uitgeryg soos in 2016 toe dinkskrums en indabas die towerkrag moes verleen aan ’n regrukpoging. Dit het nie gebeur nie.

Nou weer word ons strukture voorgehou as ’n rede vir die inploffing.

Dis om die bobbejaan agter die bult te gaan haal.

Die Bokke is eerder pap in die kop. Soms net 60% reg ingestel. Die All Blacks is altyd 110% op die regte plek.

Sterre soos Eben Etzebeth, Malcolm Marx, Beast Mtawarira, Syia Kolisi, Warren Whiteley, Flo Louw en ’n hele klomp agterspelers het soos paloekas gelyk weens ’n ingesteldheid wat nie strook met die ingesteldheid van ’n beroepspeler nie.

Ek skram nie weg om te sê Erasmus het ’n paar ander kopsorge wat hy sal moet regdokter nie. Maar sy grootste uitdaging is om sy span geestelik taai te kry.

Dit sal hom baat om Han­dré Pollard nie te laat speel soos ’n Willie le Roux nie, want Pollard is nie behendig met lang aangeë nie. Los die lang aangeë vir Le Roux en Faf de Klerk. Hulle is goed daarmee. Laat Pollard soos Pollard speel.

Dit sal hom ook help om sy disfunksionele lostrio uit te sorteer.

As Kolisi sy Bok-kaptein vir 2019 se Wêreldbeker-toernooi is, kies hom dan op 6 waar hy kan speel. Hy is g’n 7-flank nie. Vat Pieter-Steph du Toit na 7. Op slot is daar ’n oorvloed ander goeies.

Dit sal hom ook baat om teen sulke doeltreffende opskietverdediging soos in Mendoza ’n Plan B te hê. Jy kan nie dan die bal net met lang aangeë probeer versprei nie. Dis selfmoord.

Die werklikheid is dat Erasmus ná Mendoza nie nodig het om die wiel weer uit te vind nie.

Met die regte ingesteldheid en die regte wedstrydplan, goeie besluitneming en goeie uitvoering is die Bokke in die meeste posisies goed genoeg om die beste te kan klop.

Dis te sê as hul koppe reg is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.