Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rassie het politieke diere se tande getrek

Het die Springbokke Sondag teen Japan verloor, sou dit waarskynlik onmiddellik ná die eindfluitjie reeds op sosiale media gegons het oor “rasseverdeeldheid” in die span.

Rassie Erasmus, die Bokke se afrigter, het immers ná Tendai Mtawarira se geelkaart vir Siya Kolisi, die Bok-kaptein, van die veld gehaal toe hy noodgedwonge vir Steven Kitshoff moes opstuur om in Beast se afwesigheid in ’n skrum te sak. Waarom is Duane Vermeulen of Pieter-Steph du Toit nie eerder tydelik opgeoffer nie? ’n Klinkklare bewys van rassisme as daar ooit een was, of hoe?

En tog heers daar ’n dawerende politieke stilte.

Die probleem vir die politici is eenvoudig dat daar nie ’n Springbok op die vloer lê om te skop nie.

Feit is ook dat Erasmus se opregte benadering ten opsigte van transformasie hom in ’n posisie geplaas het waar hy rugbybesluite kan neem sonder dat dit bevraagteken word.

Hy het vir Kolisi die Bok-kaptein gemaak, Bongi Mbonambi bo Malcolm Marx tot die beginspan verhef en ’n drieëvraat in Makazole Mapimpi gekweek.

As Mapimpi nie tuis in die span voel nie – soos die politieke diere wou hê jy moes dink – steek hy dit as die WB-toernooi se gesamentlike voorste driedrukker deksels goed weg.

Aan die ander kant het Erasmus ook die sensitiewe besluit geneem om Eben Etzebeth ondanks aantygings van rassisme teen hom saam WB-toernooi toe te neem.

Ek was onder diegene wat gemeen het dat die situasie ’n bietjie te warm vir Etzebeth begin raak het, maar ook dít is grootliks ontlont nadat sy kant van die saak uit hofstukke rugbaar geword het.

Inteendeel, die hofstukke skets ’n prentjie van Etzebeth wat die slagoffer is van ’n vervalle Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en politieke opportunisme.

Rassie Erasmus (links), die Springbok-afrigter, met sy kaptein, Siya Kolisi. Foto: Gallo Images

Suid-Afrikaanse rugby weier eenvoudig om ’n slaansak te wees en die modder wat na die span se kant toe geslinger word, kry nie vatplek nie.

Dis nog lank nie normale rugby in ’n normale samelewing in die Reënboognasie nie, maar durf ek sê ons het op die veld en weg daarvan af ’n paar treë vorentoe geneem.

’n Mens moet egter nie die fout maak om te dink dat negatiwiteit nie ’n tol op die span eis nie. Elke speler wat lank genoeg vir die Springbokke gespeel het, sou weggestap het met die wete dat daar steeds baie mense is wat graag sou wou gesien het dat hulle misluk.

Die slagoffers kan oor die kleurgrens heen gevind word. Dink aan die MRK se hantering van die Etzebeth-saak, maar ook op die onhoudbare druk waaronder swart spelers geplaas word.

Ongelukkig is dit maar die swaar juk wat Suid-Afrikaanse spelers en afrigters moet dra.

Erasmus het egter als gedoen wat hy kan om dit draaglik te maak. Kom ons hoop die wolwe bly vir minstens die volgende twee weke van die deur af weg.

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Japan  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.