Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Rassie, hou jou tog doof vir omies se ‘swing’

Ek het al verlede week begin moer trek vir die legio rugbykenners op sosiale media wat gemeen het die Bokke se “stampkarrugby” sou nie werk teen die asemrowende vaart en behendigheid van die Japanners nie.

Sommer ’n hele klomp het gereken ons sou die bal so vinnig moontlik vleuel toe moet skuif om Japan te klop. Dis nou daai ooms en anties wat reken as dit werk wanneer die Hoërskool Gansberg teen die Hoërskool Verlorenpoep speel, dit ook die sleutel teen die All Blacks is.

Die enigste manier waarop Japan natuurlik enige kans teen die Springbokke sou staan, sou wees as Rassie Erasmus so onnosel soos Gregor Townsend van Skotland was en sy manne opdrag gegee het om ’n bietjie meer soos Japan te speel.

Nou goed, as rugby voor beoordelaars uitgewoed het soos boks of ysskaats, sou ek self gereken het “Swing! Swing! Swing!” soos die Engelse omies om Nuweland in my sewentigerjare-jeug gekoor het wanneer ook al die WP-skrumskakel die bal gekry het.

Die WP het ook geswing dat die osse knor, maar ’n halwe Curriebeker in daai Streeptrui-dekade getuig ook daarvan dat ’n plesierige gerondslinger van die bal g’n langtermyn-antwoord is nie.

*****

Ek het al ’n paar maal in ’n rugby-stryery met Rassie Erasmus beland en moes amper klokslag later erken ek was verkeerd. Daaronder het ’n argument of twee oor vervelige rugby getel.

Dat die Springbokke deesdae amper al eersterangse Suid-Afrikaanse span is wat veel mense opgewonde maak, is ’n merske getuigskrif vir die man. Die breiers onder hom gee hom knaend knolle en hy verander dié knaend in sitroene: Daar’s ’n hele tros flouerige Superrugby-spelers wat pure Bok word sodra hulle weer by hom uitkom.

Nou verwag mense die man moet binne ’n paar weke dekadeslange vooroordele uit sy span uit brei en hulle in ’n japtrap leer speel soos die All Blacks.

Aikôna. Daar is geslagte Suid-Afrikaners wat grootgeword het met die idee dat bo-oor beter is as rondom.

Dis rugby se negende Wêreldbekertoernooi; sokker s’n was in 1970. As rugby nou min of meer is waar sokker in die sewentigerjare was, is Nieu-Seeland Brasilië. En ons, op ons beste, is Duitsland.

Die een was veel gewilder as die ander; die Duitsers was negatief (en het boonop onvergeeflike bubble perms gehad). Maar wat almal buite rekening laat, is dat hulle in daai einste sewentigerjare ewe veel Wêreldbekers gewen het.

*****

Gister se All Blacks-nederlaag sou seker ’n paar manne verras het wat nie regtig die sport volg nie, maar só ’n vreeslike opskudding was dit allermins. Dis weliswaar 12 jaar sedert Nieu-Seeland laas ’n toets in die Wêreldbekertoernooi verloor het en hul oorheersing van toetsrugby in die beroepsera spreek vanself.

“End Of The World!” het die opskrif van die New Zealand Herald se webwerf-hoofberig gister uitgeroep. Jy kan sien hoekom hulle so dink. Die All Blacks het die afgelope paar jaar soms harde bene gekou teen ’n agttal wat hulle onder druk plaas. (Van watter span op aarde is dit nou ook natuurlik nié waar nie?)

Gister is hulle egter so effens verfomfaai en ek kan nie uit die vuis aan ’n enkele wedstryd hierdie eeu dink waar jy reeds seker was hul turf sit met tien minute speeltyd oor nie.

Die einde van die Henry/Hansen-era beteken dat dinge dalk nie in 2020 ewe glad vir die swart masjien gaan verloop as wat ons gewoond geraak het nie. ’n Man soos die Cru­saders-breier Scott Robinson kan hulle natuurlik nóg beter maak, maar dit sal ’n rukkie vat, met ’n klomp veterane wat nou gaan koers kies.

Nieu-Seeland het natuurlik strukture en belangstelling waarvan die res van die wêreld net kan droom.

Dis maklik om te raai dat hulle in 2023 nogmaals as gunsteling by dieselfde makietie in Frankryk sal opdaag.

Maar enigeen wat voor gister se wedstryd gehoop het dat Engeland sou wen omdat hulle moontlik ’n makliker teenstander in die eindstryd sou wees, kou seker nou naels.

*****

Die Bokke moet natuurlik eers vandag verby Wallis kom voordat ons ons oor die Ingelse begin verknies. Die Walsmanne het Eddie Jones se span vroeër vanjaar ore aangesit in Cardiff en dit boonop in die laaste 20 minute gedoen.

Suid-Afrika se onlangse rekord teen Wallis lewer min rede tot optimisme, maar twee toetse buite die internasionale venster verlede seisoen was beswaarlik enige maatstaf en min sou stry dat hulle vandag goed teen mekaar opweeg.

Vir die wenner, ’n eindstryd. Vir die verloorder – ’n uitspeelwedstryd om die derde plek.

Wanneer sal dié gedoente tog eendag afgeskaf word? Om ’n toets te moet speel binne ’n week nadat vier jaar se harde werk en drome tot niet gegaan het, is selfs wreder as wat dit sinloos is. Laat die verloorders van die halfeindronde eerder in die toekoms gesamentlik derde eindig.

Meer oor:  Rassie Erasmus  |  Rubriek  |  By Die 19De
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.