Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA krieket: Kan ons oor kwotas begin praat?
Kyle Abbott is een van die Engelse graafskapspan Hampshire se sterspelers. Foto: Getty Images

Terwyl gelyke geleenthede vir alle krieketspelers ononderhandelbaar is, het die kwotastelsel in plaaslike krieket ’n verlammende invloed op die spel in die land.

Faf du Plessis, die Protea-kaptein, het ná die onlangse reeksnederlaag met 0-3 teen Indië gesê vir Protea-krieket om gesond te wees, is dit belangrik dat topspelers in Suid-Afrika bly.

Uiteraard is die wisselkoers en werksekerheid groot redes vir topspelers se besluit om Kolpak-kontrakte te onderteken, of om op junior vlak reeds hul heil in Engeland of Nieu-Seeland te gaan soek.

Maar dit is nie die enigste redes nie. Daar word gereeld katvoet geloop rondom gesprekke oor die kwotastelsel, want in Suid-Afrika is dit só maklik om as ’n rassis gebrandmerk te word.

Dit is nie swart spelers of die kwotastelsel se skuld dat die Proteas so vrot in Indië was nie.

Laat ek dit dus hier onomwonde verklaar: Dit is nie swart spelers of die kwotastelsel se skuld dat die Proteas so vrot in Indië was nie.

Maar wanneer daar na maniere gesoek word om álle spelers aan te moedig om in die land te bly, moet die kwotastelsel eenvoudig in die gesprek genoem word.

Daar is ses franchise-spanne wat op die hoogste vlak van provinsiale krieket in Suid-Afrika meeding. Die kwotastelsel bepaal elke franchise-span moet ses swart spelers – waarvan drie etnies swart – in elke wedstryd-elftal kies. Dit beteken daar mag in elke wedstryd-elftal slegs vyf wit spelers wees.

Waar swart spelers dus om elf plekke in ’n span meeding, ding wit spelers slegs om vyf plekke in ’n span mee. Op enige gegewe wedstryddag, wanneer al ses franchises speel, is daar dus slegs ’n maksimum van 30 wit spelers in aksie.

Aiden Markram

As die Titans, byvoorbeeld, al hul Protea-spelers beskikbaar het, sal Dean Elgar, Aiden Markram, Theunis de Bruyn, Faf du Plessis, Heinrich Klaasen, Dale Steyn en Quinton de Kock nie in dieselfde span kan speel nie.

Dit ís belangrik om swart spelers te ontwikkel en vir almal gelyke kanse te gee, gegewe die ongelykhede van die verlede. Maar die wyse waarop daardie doelwit nagestreef word, laat verskeie wit spelers gefrustreerd.

Hoewel min spelers hulself in die openbaar oor die kwotastelsel uitlaat, het die voormalige Engelse kolwer Kevin Pietersen destyds gesê die kwotastelsel het ’n invloed gehad op sy besluit om na Engeland te verhuis.

Pietersen, wat destyds ’n middelmatige wegbreekbouler vir KwaZulu-Natal was, kon nie verstaan waarom hy uit die span gelaat word wanneer ’n swart kolwer ’n besering opdoen en die volgende beste swart speler, wat ’n wegbreker was, in sy plek gekies word nie. Dít alles sodat die syfers moet klop.

Kyle Abbott, een van die talle Proteas wat onlangs ’n Kolpak-kontrak onderteken het, het in Maart vanjaar in ’n onderhoud met Rapport gesê die kwotastelsel het indirek ’n rol in sy besluit gespeel.

“Die plekke vir wit spelers is beperk. Dit is eenvoudig die wiskunde daaragter,” sê Abbott.

Die plekke vir wit spelers is beperk. Dit is eenvoudig die wiskunde daaragter,
Kyle Abbott

Du Plessis het ná die nederlaag in Indië gesê die kloof tussen plaaslike krieket en internasionale krieket is te groot. As Kolpak-spelers soos Abbott, Simon Harmer, Morné Morkel en Rilee Rossouw, onder talle andere, liewer in Suid-Afrika gebly het, sou die gehalte van ons plaaslike krieket ’n groot hupstoot gekry het.

Jong spelers – van alle rasse – sou baie by dié spelers kon leer.

Transformasie se doel is om mense uit gebiede wat weens ’n ongelyke bestel nie dieselfde infrastruktuur en geleenthede as ander dele in die land het nie, op te hef.

Die kwotastelsel in plaaslike krieket doen nie dit nie. Die meeste swart spelers in die nasionale span kom uit privaatskole, nie uit skole in Soweto, in Langa of Khayelitsha nie.

Thabang Moroe, die uitvoerende hoof van Krieket Suid-Afrika. Foto: Gallo Images

Werklike transformasie sal plaasvind as die departement van sport en ontspanning, of Krieket Suid-Afrika, in arm gebiede krieketakademies by skole stig. As arm kinders van toerusting voorsien word en hul spanne die kans kry om teen gegoede skole mee te ding en ook op krieketweke te speel, sal daardie kinders ontwikkel en raakgesien word.

Dan sal die land se provinsiale spanne op ’n natuurlike wyse begin om die demografie te weerspieël, sonder dat daar teikens gestel word wat wit krieketspelers benadeel.

Transformasie kan ons krieket sterker maak, dit kan die talentpoel vergroot.

Dit moet egter nie ons krieket verswak nie, dit moet nie die talentpoel verklein, soos wat dit op die oomblik doen nie. Dit moenie ’n indirekte bydrae lewer tot die uittog van spelers na Engeland nie.

Ook op skolevlak raak jong spelers gefrustreerd as hulle uit spanne gelaat word sodat syfers kan klop. Dan skuif hulle vroeg in hul loopbane liewers oorsee, iets waaroor die voormalige Protea-afrigter Ray Jennings baie kla.

Die tyd is dalk ryp dat KSA en Protea-spelers koelkop en rasioneel hieroor begin praat. Dit sal nie van hulle rassiste maak om te vra of die kwotastelsel werklik transformasie in krieket bevorder, en of daar nie beter wyses is om daardie edele, belangrike doelwit te bereik nie.

Kyle oor kwotastelsel:

Hoewel Kyle Abbott nog altyd volgehou het die kwotastelsel het nie sy besluit om ’n Kolpak-kontrak te onderteken, beïnvloed nie, het hy in Maart vanjaar in ’n onderhoud met Rapport erken dit kon indirek ’n rol gespeel het.

“Wel onregstreeks moes dit . . . want die plekke vir wit spelers is beperk. Dit is eenvoudig die wiskunde daaragter,” het Abbott gesê.

“Ek het in 2001 vir KwaZulu-Natal se o.13-span gespeel en ons moes toe X-aantal spelers van kleur in die span hê. Dit was nooit in die openbaar gesê nie. Ek het altyd gevoel dit word ontken, ‘nee, nee, nee, dit is nie so nie’.

“Maar dit was so. Dit was eers bykans twee jaar gelede dat hulle uitgekom het en gesê het, reg, die kwota-teiken is (55%). Nou kan die publiek dit aanvaar.

“Wanneer spelers nou gekies word en mense bevraagteken dit, is daar nie meer ’n kwessie nie. Dit is swart en wit. Dis die reëls en dis dit.

“Dit is nie ’n verskoning nie, maar jou kanse word van ses, sewe plekke in die span, tot vyf verminder.

“So onregstreeks het dit ’n invloed gehad. Jy kan ook begin sien hoe die span saamgestel moet word.

“Ek het nooit daaroor gekla nie. Ek het dit nog nooit as ’n verskoning gebruik nie. Ek het ’n verandering gemaak (deur ’n Kolpak te onderteken).

“Ek het gesê ek gaan nie toelaat dat my loopbaan soos ’n wiskundesom bepaal word nie. Ek het besluit om iets daaromtrent te doen.”

Meer oor:  Thaband Moroe  |  Kyle Abbott  |  Faf Du Plessis  |  Enoch Nkwe  |  Suid-Afrika  |  Politiek  |  Krieket  |  Ksa  |  Kolpak-Kontrak  |  Proteas  |  Kwotastelsel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.