Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
SA se knewels (sonder pitte) is Hane-kos

Rugby se koers wêreldwyd bekommer sweerlik die meeste van sy ondersteuners. Die meeste klubs en unies kyk anderpad as die bankbestuurder aangestap kom. Skeidsregters tree ál meer op soos ’n onverstaanbare kultus wat die eintlike toutjies trek en die alewige, ellelange TV-onderbrekings gedurende wedstryde is om jou tande van te kners.

Ook kommerwekkend is dat die Franse klubkompetisie die rykste is. Die skatryk eienaars se diep sakke help ongelukkig nie juis die sport iewers heen nie. Al wemel dit in die Top14 van internasionale talent, speel hulle in dié liga te stadig en te takties eenvoudig dat veel kykers van elders ooit sou wou inskakel, soos op Engelse of Spaanse klubsokker.

Lees toe vandeesweek van die Centurion-rugbyinstituut waar jong spelers buite Pretoria grootgemaak word vir die Franse klubtoneel. Dié soort ding moet my seker meer de joos in maak, maar rugby laat min ruimte vir verdere ontgogeling.

Wat tog opval, is die spesifieke versoeke van die Franse. “Groot stutte, slotte van 2 m en agterspelers met die X-faktor.” Genugtig, dit klink dan soos rugby vir beginners en verduidelik waarom die sport in Frankryk deesdae op elke liewe vlak meestal so eendimensioneel is.

Wat dan van breins? Daar is nogal baie besluite om op ’n rugbyveld te neem.

Nee, verduidelik die instituut, hulle soek ’n sekere tipe mens. Soms bars spelers van talent, maar hulle óf hul pa’s is te slim dat jy hulle kan afrig. Wat die oorbetrokke pa betref, het ek innige simpatie, want dié is ’n skepsel wat enige afrigter se lewe op enige vlak kan versuur.

  • Maar as ’n 18-jarige te slim is om afgerig te word, druk die afrigter darem seker vermoedelik die verkeerde knoppies? Ewenwel, in ’n neutedop – gesoek: Knewels wat nie te slim is nie. Dit verduidelik hoekom Franse rugby so ewe skatryk in sy agterent op verdwyn. Met die res van ons stadigaan agterna.

*****

Gepraat van knoppies druk, is dit toe oudergewoonte twee jaar voordat Eddie Jones se melk by Engeland begin versuur. Jones het g’n “Good cop, bad cop”-roetine nie – syne is “Bad cop, bad cop” en Engeland reageer duidelik nie meer daarop nie.

Moet liefs niks lees in die nederlaag teen die Barbarians nie – die Engeland wat die volgende drie Saterdae teen die Bokke gaan speel, gaan ’n ander transaksie wees en is mekaar veel meer gewoond as ’n amper splinternuwe Bok-kombinasie.

Britse koerante het Jones voor stok gekry en hy het onder meer geskerm dat hy “die Suid-Afrikaanse rugbypsige so goed as enigiemand ken”.

Hy het natuurlik baie waarde toegevoeg tot die Bokke se suksesvolle 2007-veldtog om die Wêreldbeker, daarteen stry niemand nie.

  • Maar om darem te beweer dat jy ’n hele land se psige leer verstaan in ’n raps meer as twee maande, is bra vergesog. Of dalk dink Jones ook dis min of meer: “2 m, groot, nie te slim nie.” Kom ons hoop die Bokke vee die grynslag sommer gou-gou van sy gesig af.

*****

Een ding van Eddie Jones – hy maak ten minste ’n half interessante koerantberig. Moderne joernaliste het min keuse as om die banaliteite van moderne nuuskonferensies in te tik en die meeste sportmanne is slim om so vervelig moontlik te bly.

Die saak het natuurlik twee kante – aan die een kant is die powerheid van menige joernalis verlede week puik aan die kaak gestel in die eerste wedstryd van die eindronde van Amerikaanse klubbasketbal.

LeBron James, een van die NBA se bestes ooit, het amper ’n effense Cleveland Cavaliers na ’n skokoorwinning gelei teen die veel gedugter Golden State Warriors toe sy spanmaat J.R. Smith in die doodsnikke droogmaak.

  • “Wat het Smith gedink?” vra ’n verslaggewer agterna vir James, wat beduie hy weet nie. “Weet jy wat het deur sy kop gegaan?” probeer dieselfde ou, met dieselfde antwoord. “Kan jy dalk raai wat het deur sy kop gegaan?” probeer hy vir oulaas, voordat James moer trek en die nuuskonferensie verlaat.

*****

Dié soort verslaggewer is die helfte van die probleem – sportmanne wat baie min vir hulself te sê het, is die ander.

LeBron James ($86,2 miljoen) was verlede jaar die naasbes besoldigde sportman ter wêreld – dít in die naasgewildste sport ter wêreld; Chris Anderson moes tevrede wees met ’n agtpond-Gloucester­shire-kaas. En die interessantste ding hieromtrent is dat hy ongelukkig net Cheddar eet.

Anderson het vir die 21ste maal in 14 jaar een van die manswedrenne in die Cooper’s Hill Cheese Roll gewen, ’n enkel gebreek in die proses en agterna sedig verklaar: “Ek het niks meer om te bewys nie, ek is gelukkig.”

  • YouTube asseblief Cooper’s Hill Cheese Roll as die Sondag-blues u pak.
Meer oor:  Louis De Villiers  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.