Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Saru-ingrepe beste doepa vir WP

Die laaste ding wat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) waarskynlik rakende die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) wil doen, is om hom onder administrasie te plaas.

Saru moet self sy gordel styf trek en daar is groot koste aan só ’n drastiese stap verbonde. Dis om nie te praat van die weerstand wat verwag kan word nie.

Die moederliggaam se grondwet is ook voorskriftelik oor die omstandighede waaronder hy tot so ’n ekstreme stap kan oorgaan. Kortliks is dit as volg:

• Indien die unie nie sy finansiële verpligtinge kan nakom of ’n lopende saak is nie.

• Indien die unie nie goeie korporatiewe beheer toepas nie.

• Indien die unie nie sy geld op rugbybedrywighede bestee nie, behalwe binne die raamwerk van die vereistes van Saru se grondwet, reëls en regulasies.

Zelt Marais, die WPRU se president, het in ’n skrywe op 24 Junie 2020 na Dream World Investments 401 verwys as ’n ‘maatskappy binne die Flyt-groep’. Foto: Gallo Images

Saru se grondwet maak ook voorsiening om die unie 12 maande se grasie te gee. Wat die WPRU betref, vrees ek oor wat in nog 12 maande kan gebeur.

Die dagvaarding wat Dream World Investments 401 verlede week op die WPRU en sy trustees beteken het, is ’n uiters ernstige kwessie. Dis moeilik om te sien hoe die WPRU enige finansiële skade gaan vryspring, want hy het R110,7 miljoen van Dream World se geld gevat (om skuld wat hy by Investec en Remgro gehad het te delg), wat met rente terugbetaal sal moet word. Die res van die saak handel oor “ontwikkelings- en aanvangsfooie” gekoppel aan die lening. In totaal is die dagvaarding vir sowat R145 miljoen.

Daardie lening was gekoppel aan ’n eiendomstransaksie met Flyt Property Investment vir ontwikkelings by die Nuweland-stadion en Brookside.

Sedertdien het die WPRU via sy regsverteenwoordigers aan Dream World en Flyt s’n ’n skrywe gerig dat die ontwikkelingstransakies met Flyt nie tot stand gekom het nie. Die logika is dat Dream World as party bygekom het toe die bedoeling was dat die lening sowel as die eiendomsontwikkelings ’n transaksie met Flyt sou wees.

Hierdeur speel die WPRU met vuur, want dis bloot ’n tegniese punt.

Trouens, Zelt Marais, die WPRU se president, het in ’n skrywe gedateer 24 Junie 2020 na Dream World verwys as ’n “maatskappy binne die Flyt-groep”.

In dieselfde brief deur die WPRU se regsverteenwoordigers word ook aangevoer dat die leningsooreenkoms nooit tot stand gekom het nie. Die teenvraag is natuurlik waarom die WPRU dan om mee te begin Dream World se geld geneem het.

Wat hierdie situasie benodig, is sinvolle en konstruktiewe gesprekke wat daarop gemik is om die probleem op te los eerder as wat daar tyd en geld in die howe vermors word.

Dit hou ’n wesenlike finansiële risiko vir die WPRU in en sal Saru senuagtig maak. Die WP se welstand is vir Suid-Afrikaanse rugby van wesenlike belang, veral gegewe dat die Stormers-franchise deur die unie se sakevleuel bedryf word.

Op korporatiewe bestuursvlak sal ek my nie as ’n kenner van die King IV-kode voorhou nie, maar ek beskou die optrede van die WPRU as riskant en dít alleen laat heelparty vrae ontstaan.

Vir die WPRU om geld te leen om hom uit sy skuldverpligtinge te kry, gaan ook moeilik wees, want verbande ten gunste van Dream World is teen sy eiendomme geregistreer. Die leenooreenkoms met Dream World, waarvan die geldigheid betwis word, bepaal ook dat die WPRU nie geld mag leen om sy skuld by hom te delg nie.

Sou Saru ingryp, sal hy by magte wees om die WPRU se verkose beamptes uit hul amp te skors.

Dit kan selfs die opskorting van Saru se oorbetaling van uitsaaigelde tot gevolg hê, maar die moederliggaam se belang is vernaam in die WP se beroepspanne gesetel. Die Stormers behoort nie skade te ly nie.

Saru is tjoepstil oor die kwessie, maar stel ondersoek in na die WP se sake en is glo angstig. Sou die situasie dit toelaat, glo ek ingrepe sal die beste medisyne wees.

Meer oor:  Investec  |  Wpru  |  Zelt Marais  |  Mvm Holdings  |  Anc  |  Ebrahim Rasool  |  Nuweland  |  Flyt  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.