Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Saru: Lekker uitsig, maar bitter min visie

“Dis ’n bietjie stil daar buite.”

“Jip. Té stil.”

Toe ek meer as vier dekades gelede ’n pikkie was, was cowboy-flieks in die Three Arts wat ons buite rugbyseisoen gedoen het. Daai was egter ’n cowboy-cliché wat ek uit g’n ander bron as die toentertydse Mad Magazine gehoor het nie.

Maar as die gerugte vanuit Saru se Panorama-hoofkantoor so tjoepstil raak in Desember, vrees ek dis selde oor monde vol Kerskalkoen. Jy’t ’n lekker uitsig vanuit Panorama, maar nie noodwendig visie nie.

Die laaste fluisteringe wou hê dat Allister Coetzee sy werkgewers aan die kort krulle beet het. Daar was glo g’n prestasieklousule in sy vierjaarkontrak nie. En dit was die laaste medialekkasie.

Uitbetaal kan hulle hom ook nie. Hulle is dan deesdae te brandgat vir besigheidsklaskaartjies.

*****

Vir wat die obsessie met vierjaarkontrakte? Ja, die Wêreldbeker-si­klus is so lank, maar om dit te wen vat twee jaar. Dink Nieu-Seeland, 2009, teenoor Nieu-Seeland, 2011.

Die sokkerafrigter Luis Enrique het halfpad deur sy drie jaar by Barcelona gesê ses maande is die ideale kontrak vir sowel afrigter as werkgewer. Ekstreem? Beslis. Steeds beter as vier jaar lange vrotsige verhoudings.

Standaardkontrakte vir Bok-breiers behoort te volstaan met twee jaar. As Saru met die afrigter tevrede is en hy met hulle, staan niks mos in hul pad om nóg ’n tweejaarkontrak te teken nie.

Clive Woodward het nou die dag gesê slegs Nieu-Seeland, Engeland en Ierland staan enige kans om die volgende Wêreldbeker te wen. As die toernooi oor drie maande was, sou ek saamgestem het.

Vroeg 2006 het ek die Springbokke egter ewe veel wenkans gegun vir ’n jaar later as wat ek vanoggend doen.

  • Daar is ’n belangrike vereiste: Jy kán waarskynlik binne twee seisoene alles doen om die Wêreldbeker te buit, maar dan moet jy natuurlik ook dadelik reg kies en nie sukkelaars sewe of agt droogmaakkanse gun nie.

*****

Dis maar min dat ’n man jammer voel vir bloedjong ziljoenêrs, maar as die Engelse Premierliga-klubs rondom Kersfees en Nuwejaar vier ligawedstryde binne 12 dae speel, kry ek dit so amper-amper reg. Dié naweek is die Duitsers en Spanjole vir die eerste maal sedert 23 Desember in aksie en die Kakies vir die vyfde maal.

Stry altyd dat dit verduidelik waarom die room van die Prem so onderpresteer in Europa, maar ja – hulle lag heelpad bank toe.

Die sterkste spanne het nou egter só sterk geword dat die agterosse amper almal takties laer trek en net keer vir al wat hulle werd is. Dit maak dat dié kompetisie oor die feestyd gereeld teen ’n slakkepas aangekarring het.

  • Die grootste geheim is egter dat die paviljoene propvol geesdriftige toeskouers bly. So dit lyk steeds vanaf jou rusbank of dit lekkerder langs die veld sou gewees het. En dis nóg iets vir ons rugbybase om in gedagte te hou, terwyl geesdrif vir dié sport op die rusbanke van die wêreld stagneer en paviljoene leër en leër word.

*****

Maar om die gans gesond genoeg te hou om gereelde goue eiers te lê, is ook ’n moeilike balans.

Vincent Kompany, kaptein van die puik Engelse pasaangeërs Manchester City, het pas sy MBA gekry oor die einste ding.

Sinici sou seker brom dat, ná 42 beserings in nege seisoene, Kompany genoeg tyd gehad het om ’n MBA te kry, maar dit tersyde. Ongelukkig soos hy ook al oor die jare was, is Kompany een van die tien beste verdedigers op aarde.

Breins help in sport.

Sy tesis redeneer dat kaartjiepryse in die Premierliga laag gehou moet word. Groter wins is wel moontlik; Kompany se navorsing wys daar is soveel oorsese belangstelling in die Premierliga dat pryse dramaties opgeskuif sou kon word. Selfs teen £400 ’n gooi sou genoeg toeriste die kaartjies opraap dat dit ten minste meer wins maak.

Dan raak die sport natuurlik ook Disneyland, soos 21ste eeuse Kaapstad.

Soos 21ste eeuse Kaapstad raak dit dan te duur vir die ondersteuners wat op ’n koue aand in Stoke aanhou sing asof dit saakmaak. En dan word die produk logieserwys minder aanloklik vir die toeriste.

  • Kompany – en ek – verkies egtheid. In hoe ’n mate dit in beroepsport geldig is, is egter ’n ope vraag.
Meer oor:  Louis De Villiers  |  By Die 19De
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.