Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Saru nie meer sondaars met transformasie

As iemand wat sedert 1992 oor Suid-Afrikaanse rugby berig, het ek vir byna drie dekades al uit die voorste ry ’n blik oor hoe die netelige saak van transformasie hom uitspeel.

My eerste berig in heeltydse diens van ’n koerant was oor ’n swart rugbyspeler in die Grens, “Big Fotoyi”, vir wie groot dinge voorspel is. Vandag het ek geen idee wat van hom geword het nie.

Feit is, eenwording was aanvanklik niks meer nie as ’n lisensie vir die wit establishment om met politieke geloofwaardigheid ’n Springbok-span in die veld te stoot.

Vir jare daarna was transformasie bloot lippediens. Hoeveel seisoene het ons nie gesien hoe gekleurde spelers, wat as te klein geag is, op die vleuel gekies word sodat hulle as’t ware weggesteek kan word?

Mark Alexander, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie. Foto: Gallo Images

Daar was selfs ná eenwording etlike seisoene van skokkende onsensitiwiteit jeens gekleurde spelers en dit sal ’n fout wees om te dink dat van daardie emosie nie steeds in mense opgekrop sit nie.

Daar was geen volhoubare strategie nie en mense is op skokkende manier gebruik en misbruik.

Twee gekleurde afrigters – Peter de Villiers en Allister Coetzee – het die Springbokke sedert 2008 afgerig. De Villiers was vir vier jaar aan die spits en Coetzee vir twee moeilikes voordat hy weens swak prestasie afgedank is.

Aan die mans se kant, is daar vandag nie ’n swart hoofafrigter onder ons nasionale of Superrugby-spanne nie. Daarom is dit ’n goeie ding dat ’n groep van 49 gekleurde oudspelers, afrigters en administrateurs verlede week ’n verklaring uitgestuur het om die aandag daarop te vestig.

Mark Alexander, president van Saru, het gereageer deur te sê daar word gemik vir 60% van alle afrigters om teen 2030 spelers van kleur te wees.

Dis nie ’n syfer wat Alexander in reaksie uit sy duim uit gesuig het nie, maar een wat ’n geruime tyd terug gestel is nadat Saru en provinsies se nakoming van die Strategiese Transformasie-plan van 2015-’19 in oënskou geneem is.

Die meeste van die provinsies het nie aan teikens daarin voldoen nie, maar ons is darem nou ver verby ’n era waar daar na die vleuel-posisies gekyk word om gekleurde spelers weg te steek.

Die Springbokke het ’n swart kaptein en toe ek en my kollegas verlede week denkbeeldige vyftientalle vir ’n wedstryd tussen Noord- en Suid-spanne kies, was daar tien gekleurde spelers in die Suid- en agt in die Noord-span. Dit was sonder dat ons eers aan transformasie gedink het.

Vandag kan ek sonder vrees van teenspraak sê dat die gesig van Suid-Afrikaanse rugby verander het en dié sport inklusiwiteit omarm.

Saru het rugby ’n ware nasionale sport gemaak. Daarby skram die beheerliggaam ook nie weg van mislukkings nie.

Wanneer dit by Black Lives Matter kom, kom dit neer op wat jy doen eerder as sê. Suid-Afrikaanse rugby is nie perfek in daardie opsig nie, maar veral op nasionale vlak kan die bona fides nie betwyfel word nie.

• Vir Suid-Afrikaanse rugby se suksesse en mislukkings met betrekking tot transformasie, gaan lees gerus oor die Strategiese Transformasie en Ontwikkelingsplan, asook die Jaarverslag van 2019, deur op hierdie skakel te klik. 

Meer oor:  Bokke  |  Transformasie  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Superrugby  |  Kwotas  |  Curriebeker  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.