Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Skaad Hashim Amla sy nalatenskap?

Hashim Amla het nie ’n enkele keer sy handskoene omgeruil in sy marathonbeurt van 311* in 2012 teen Engeland op die Oval in Londen nie.

Die bebaarde kryger het geskiedenis gemaak deur die eerste, en tot dusver die enigste, Suid-Afrikaner te word om ’n driedubbele toetshonderdtal aan te teken. Hy was 13 uur en 10 minute voor die penne teen wat toe die voorste toetsspan in die wêreld was. Maar hy het so min gesweet, dat hy strykdeur dieselfde paar handskoene gedra het.

So wil ons Amla onthou. Of vir daardie ongelooflike toetsbeurt van 253* teen Indië in 2010. Of eintlik vir enige van sy 28 toetshonderdtalle of 27 eendaghonderdtalle vir Suid-Afrika.

Hashim Amla se Protea-spanmaats juig hom toe terwyl hy van die veld af stap in die toets waarin hy Suid-Afrika se eerste individuele 300-tal aangeteken het, in 2012 teen Engeland op die Oval. Foto: Getty Images

Dis egter asof Amla se nalatenskap deur die vasklou-kwaal besmet gaan word.

En dat ander spelers, soos Reeza Hendricks, wat honger is om die Proteas in die Wêreldbekertoernooi te verteenwoordig, straks die slagoffers daarvan kan wees.

Vader Tyd het Amla langs die pad van verskeie van sy beste eienskappe beroof.

Amla was nog nooit ’n kolwer met skitterende voetwerk nie. Hy het liewer op sy arendsoog staatgemaak om rigting en lengtes vinnig op te tel en dan met sy skitterende hande en gewrigte die een aflewering ná die ander grenstou toe gejaag.

Sy hand-oog-koördinasie is op 36-jarige ouderdom aan’t taan. Sy oë is nie meer so skerp nie en hy beweeg stadiger.

Amla het ook ’n gewoonte daarvan gemaak om gróót honderdtalle te slaan as hy eers in is. In die laaste jaar het hy 13 keer verby tien geskuif, maar slegs drie van daardie tellings in ’n vyftigtal, en een in ’n honderdtal omgeskakel.

Dit ly geen twyfel nie dat hy een van die beste kolwers is wat Suid-Afrika ooit opgelewer het.

As hy voel hy het nog waarde om toe te voeg, dan is dit sy reg om aan te hou speel. Hy het daardie reg verdien met sy vertonings sedert 2004.

Maar is dit werklik regverdig teenoor iemand soos Hendricks? Ofskoon dié aanvangskolwer gesukkel het in die eendagreeks teen Sri Lanka, was sy spelpeil voor dit skitterend. Hy het weer op dreef gekom in die T20-reeks teen die eilandspan.

Amla is op menslikheidsverlof en sien om na sy siek pa. Wanneer hy gaan terugkeer, is nog onduidelik. As hy wel voor die Wêreldbekertoernooi, wat op 30 Mei begin, terugkeer en homself beskikbaar stel, wag daar groot en dapper besluite op Ottis Gibson, die Protea-breier, en Faf du Plessis, die kaptein.

Dalk kom Amla vars terug, maar wedstrydfiks gaan hy beslis nie wees nie.

As hy saamgaan Wêreldbeker toe, sal dit danksy sy ervaring wees, maar in spelers soos Du Plessis, JP Duminy, Quinton de Kock, David Miller, Dale Steyn en Imran Tahir het Suid-Afrika genoeg daarvan om die jonges kalm te hou.

Dit lyk ook nie of daar plek vir Hendricks en Amla saam in die groep is nie, want die breintrust wil slegs een bykomende kolwer saamneem. Met Aiden Markram wat weer op dreef is, kom dit neer op ’n besluit tussen Hendricks en Amla.

Dalk is dit tyd vir Amla om daai handskoene wat Suid-Afrika vir só lank só getrou gedien het, finaal uit te trek.

Waarskynlike Wêreldbeker-vyftiental: Quinton de Kock, Aiden Markram, Rassie van der Dussen, Faf du Plessis, David Miller, JP Duminy, Andile Phehlukwayo, Kagiso Rabada, Dale Steyn, Lungi Ngidi, Imran Tahir, Hashim Amla of Reeza Hendricks, Dwaine Pretorius, Anrich Nortjé, Tabraiz Shamsi.

My Wêreldbeker-vyftiental: Quinton de Kock, Aiden Markram, Rassie van der Dussen, Faf du Plessis, David Miller, JP Duminy, Andile Phehlukwayo, Kagiso Rabada, Dale Steyn, Lungi Ngidi, Imran Tahir, Reeza Hendricks, Tabraiz Shamsi, Dwaine Pretorius, Chris Morris.

Meer oor:  Hashim Amla  |  Wêreldbekerkrieket  |  Proteas  |  Ottis Gibson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.